Kontemplasie help om konflik te hanteer

Kontemplatiewe spiritualiteit kan mense help om konflik beter te hanteer.

Dit was die boodskap van dr Wilhelm Verwoerd, navorser by die Beyers Naudé Sentrum, by vanjaar se Winterskool.

Dr Wilhelm Verwoerd. Foto: Jacobie M Helena

Verwoerd deel uit sy ervaring as fasiliteerder van groepe mense wat in konfliksituasies verkeer, dat blote dialoogvoering en die vertel van stories in groepe nie die proses van versoening diep genoeg laat infiltreer nie. Verwoerd verbind in sy toespraak, spesifiek van-uit ’n wit persoon se perspektief, kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening en vredeswerk.

“Dit is wetenskaplik bewys dat kontemplatiewe spiritualiteite ons brein herprogrammeer. Dit verskuif die plek in die brein waarvan ons reageer wanneer ons met konflik gekonfronteer word. Gewoonlik reageer ons uit die agterkant van die brein met die veg-of-vlug-reaksie, maar kontemplatiewe spirituele rituele verskuif die fokus in die brein na die voorkant. Wanneer ons uit die voorkant van die brein reageer, reageer ons met empatie, insig en verbeelding,” sê Verwoerd.

Verwoerd sê dat kontemplatiewe spiritualiteit help om gelowiges bewus te maak van die feit dat hulle as mense verbind is aan mekaar en met mekaar in verhouding staan. “Ware kontemplasie laat die individu toe om oor te gaan tot aksie. Dit laat ’n mens toe om meer van jouself te gee en vanuit ’n dieper plek van jouself oor te gaan tot ’n dieper vorm van aksie. Dit help jou na ’n dieper proses van versoening wanneer jy die spreekwoordelike ‘ander’ ontmoet.”

Gelowiges moet egter waak daarteen dat dit nie ’n modegier word nie. “Die gebruik van kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening kan nié net individueel en slegs in wit spasies gebruik word nie. Dit moet in ’n spasie gebeur waar mense uit hulle gemaksones geneem word en met die realiteite van mense se behoeftes gekonfronteer word. Dis daarom belangrik om vir jou eie individuele spirituele lewe die kontemplatiewe rituele te doen, maar óók saam in situasies met die spreekwoordelike ‘ander’.

“Wanneer ’n persoon deur die proses van kontemplatiewe spirituele rituele gaan, berei dit ʼn mens op ’n besondere manier voor vir prosesse van versoening. Nie net dwing dit ’n mens om in ongemak in die spreekwoordelike donkerheid te sit nie, maar ook om van die onvoorwaardelike liefde van God in die diepste wese bewus te word. Hierdie proses van diep versoening, vanuit die perspektief van ’n wit mens, help ons om bewus te word van die historiese, politieke, institusionele en strukturele ongeregtighede in ons land.

“Dit help wit mense om afstand te doen van die verwagting van vergifnis van mense van kleur. Dié rituele skep ook veilige ruimtes vir wit Suid-Afrikaners om met die trauma van die oorloë en die verlede in aanraking te kom en dit te verteer. Kontemplatiewe beliggaming kan ons as Suid-Afrikaners help om ons vermoë te versterk om met ons hele wese met oopgevoude hande na die pyn van die ander te luister,” sê Verwoerd.