Hoe ons dink en praat maak saak

Dirkie Smit, tans Princeton se Rimmer en Ruth Professor in gereformeerde teologie en publieke lewe, het in Maart die bekende Annie Kinkead Warfield-lesings gelewer. HENCO VAN DER WESTHUIZEN doen verslag.


Smit praat oor die tema “Hope for even the most wretched?” – oor die uitverkiesingsleer, die leer wat, volgens hom, tot die kern van die gereformeerde leer hoort. Hy vra wat die verhouding tussen die uitverkiesingsleer en die publieke lewe is. Wat beteken die uitverkiesingsleer vir die lewe, hier, nou?

Dat die uitverkiesingsleer betekenis vir die lewe het – ook vandag – is nie voor die hand liggend nie. Die leer het, ook in Suid-Afrika, die leer geword wat mense van mekaar vervreem het.

Sy tema is daarom ook ’n vraag. Is die maniere waarop ons oor die uitverkiesingsleer dink en praat werklik vol van hoop ook vir die ellendigste – die verlorenes? Is dit moontlik – en dit is deurgaans sy vraag – om so oor die uitverkiesingsleer te dink en te praat dat dit inderdaad hoop sal begin beteken – juis ook vir die verlorenes? Dus, hóé ons dink en praat, maak saak – “it matters!”

Dit maak saak omdat die maniere waarop ons oor die uitverkiesingsleer dink en praat saak maak vir ander – dit vorm die maniere waarop mense oor hulleself en oor ander praat en dink. Ook die uitverkiesingsleer is daarom nie los van lewe nie – ook juis nie van die publieke lewe nie!

Vir Smit beteken dit dat die maniere waarop ons in die verlede oor die leer gedink en gepraat het nie bloot herhaal kan word nie. “We should not revive old debates and defend positions from our past, but risk finding new ways so that today’s people may once again in their own way feel the doctrine of election vibrating in themselves.”

Veel eerder wil hy daarom die tradisie teen die tradisie lees. Ten einde gereformeerd te wees, sê hy, wil hy die gereformeerde tradisie teen die gereformeerde tradisie lees, die tradisie teen die resepsie van die tradisie lees. Dit is deur die tradisie só te lees dat die uitverkiesingsleer hoop beteken – ook juis vir die mees verlorenes.

Hy haal die Hollandse teoloog, Bavinck, aan wat sê dat die uitverkiesingsleer, beide vir gelowiges én ongelowiges, ’n bron van “onuitsprekelijk rijken troost” is. Dit is uiteraard polemies! Indien hierdie vertroosting enigsins gebaseer was op verdienste, was almal verlore. Maar nou dat dit gaan oor die genade, sê hy, is daar hoop selfs ook vir dié wat, volgens ons, gans en al verlore is. Dít is die hoop van die uitverkiesingsleer – daar ís hoop vir verlorenes.

En dit het implikasies vir die publieke lewe – en dít is sy punt. Die uitverkiesing beteken dat selfs dié wat, volgens ons, die mees onwaardige en “in den diepst gezonkene” mense is, as God se mense en as voorwerpe van God se genade beskou word. Dít, sê hy, is beide die grond en die gevolg van die uitverkiesing, en dáárom hoort die leer tot die kern van die gereformeerde tradisie.

Die doel van die uitverkiesingsleer is daarom nie om “velen af te stooten” nie. Inteendeel, dit is om almal uit te nooi om in hierdie genade van God te deel. Niemand, sê hy, het daarom die reg om te glo dat hy of sy ’n verworpene is nie – elke persoon op aarde is geroep om in die genade te deel. Daar lê dit “onwankelbaar vast”.

Nee – en dit verduidelik Smit in detail – daar is hoop selfs vir die mees verlorenes, en daarom mag ons nie, kan ons nie, en glo ons nie dat enigiemand verlore is en nie ’n voorwerp van God se genade is nie – dít is waar selfs van dié wat, volgens ons, verlore is.

Daarom maak dit saak: “it matters whether (we) use election language to boast about (our) own status and special calling in history and society or whether (we) use it – like Bavinck – as source of hope for even the most wretched in (our) own eyes”.

Hy het dit dus juis oor die almal, oor dié dat dit gaan oor alle mense. “Our continuous debates about God’s ‘all’ – our misunderstandings and failures and refusals – might have been amusing, if only they did not carry such disastrous consequences, if only they did not matter so much, to so many, including the outsiders, the others, the ‘they’ who are not ‘us’, including those who may be wretched in our eyes”.

Weens dié hoop laat die uitverkiesingsleer ons daarom “anders” verbeel! Dit laat ons ’n wêreld verbeel wat anders is as die een waaraan ons al gewoond geraak het. En vir Smit is dit in gebed en in aanbidding waar hierdie ander wêreld verbeel word.

Tog is dit juis ook in aanbidding en in gebed waar dié verbeelding, wat voortspruit vanuit die uitverkiesende uitgestrektheid van God se genade oor almal, verlore gaan. Juis ook gebed en aanbidding kan daartoe lei dat die goeie nuus van die uitverkiesingsleer slegte nuus word vir die vele.

Juis daarom is die vraag of ons vandag – ook in die kerk – oor hiérdie uitverkiesende God dink en praat – of dit dié God is wat ook die God van ons lewe is? Die vraag in terme van die uitverkiesing is: “Does the public life of Christians give evidence of God’s
gracious election?” en “Do our lives give evidence of commitment to the God of election?” En daarom die vraag: “What would that mean and how would that become visible?” In kort: “Should we not seek to imagine ways to welcome others, so that no-one is excluded and no-one loses hope?”

▶ Dr Henco van der Westhuizen is dosent in historiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.