In Gamkavallei blom die kleuters by die kerk

Die NG gemeente Gamkavallei in Beaufort-Wes het verskeie uitdagings waarmee hulle worstel, maar rassespanning is nie een daarvan nie. NEELS JACKSON berig.


Op Pinkstersondag is Gamkavallei se kerk vol mense. En al die kleure en kulture van Beaufort-Wes se gemeenskap is daar. Bruinmense. Witmense. Swartmense. Dis ’n gesamentlike diens wat deur lidmate van die dorp se drie NG gemeentes en die NG Kerk in Afrika bygewoon word.

Dit laat ’n mens ’n bietjie dink aan die eerste Pinkster van Handelinge 2, toe die blye boodskap in alle tale hoorbaar was omdat die evangelie vir almal bedoel was.

Ds René Potgieter van Gamkavallei lei die diens. Baie van die bruinmense in die kerk is lidmate van haar gemeente. “God is hier teenwoordig,” sing die kerk vol gelowiges saam uit Lied 159. Later sing die lidmate van die NG Kerk in Afrika ’n lied.

René preek uit Kolossense 3 oor Jesus wat ons verhoudings herstel. Sy praat oor verhoudings in die ge­sin, verhoudings met bure. Dis nie in die eerste plek ’n preek oor rasseverhoudinge nie. Dan word die nagmaal bedien. ’n Verkondigingsmaal. ’n Vreugdefees. ’n Gemeenskapsmaal.

Na die diens word daar in die kerksaal verder gekuier. Daar is koffie en tee en geselligheid tussen almal wat daar was.

Later vertel René van die geskiedenis van die gemeente op haar grootworddorp waar sy nou al sedert 2007 predikant is.

Gamkavallei is in 1949 gestig en dit was in ’n stadium ’n sterk gemeente. Dit het goed gegaan met al drie die NG gemeentes op die dorp en tussen hulle was daar vyf predikante.

Die ou Spoorweë was ’n groot werkgewer op die dorp en baie van die lidmate het daar gewerk. Maar toe besluit die Spoorweë om hulle bedrywighede op Beaufort-Wes af te skaal en dit na De Aar toe te verskuif.

Dit het ’n klomp lidmate geraak. Baie is weg of het pakkette aanvaar. En onvermydelik het dit die gemeentes ook geraak.

In die 1990’s is daar ’n klomp hop-huise aan die westekant van die dorp gebou. Daar waar Gamkavallei se kerkgebou gestaan het. Baie bruinmense het daar ingetrek.

Op ’n dag het ’n bruin egpaar kom vra of hulle welkom sou wees by Gamkavallei. Daar is ’n VGK-gemeente ook op die dorp, maar dié lê anderkant die spoorlyn. Gamkavallei is baie nader. Dit sou vir hulle baie makliker wees om daar in te skakel.

Hulle is in die gemeente verwelkom en mettertyd het meer bruinmense daar begin inskakel. Daar was wit lidmate wat daarom weg is uit die gemeente, maar die meeste het die nuwelinge in hulle geledere verwelkom.

Ds René Potgieter spreek die seën uit op Pinkstersondag.

Finansieel het dit egter nie wonderlik gegaan met Gamkavallei nie, sodat hulle besluit het om nie weer te beroep nadat ’n vorige dominee weg is nie. Die twee dominees van die ander NG gemeentes op die dorp – ds Japie van Straten van die Moedergemeente en ds Albertus van Zyl van Gamka-Oos – het ingestem om die bediening te behartig. Verder het lidmate verantwoordelikheid geneem sodat die gemeente baie selfstandig geword het.

Intussen het René in 2006 begin om haar gemeentejaar in Bloemfontein te doen, maar in die helfte van die jaar oorgeskuif Gamkavallei toe om dit daar klaar te maak.

Op daardie punt het ’n klompie faktore mooi saamgewerk. Eerstens het René die multikulturele opset van Gamkavallei baie geniet. Tweedens het dit met die gemeente finansieel begin beter gaan, sodat hulle daaraan begin dink het om weer te beroep. Derdens het René ’n sterk ondersteuningstruktuur op die dorp gehad sodat sy byvoorbeeld nie ’n pastorie nodig sou hê nie. Sy sou ’n beroep daarheen kon aanvaar sonder dat dit ’n vol pos sou wees.

Toe sy die dominee van Gamkavallei word, was sowat 30% van die lidmate bruin en sowat 70% wit, sê sy.

Hulle het besef hulle moet uitreik in die gemeenskap en baie energie is daaraan bestee. Hulle sou byvoorbeeld ’n tent oprig en die Jesus-film wys. Hulle sou in mense se huise ingaan om hulle te nooi om na die fliek te kom kyk.

Die bruin gemeenskap het agtergekom hulle is welkom in dié vroeër wit gemeente, en hulle het gekom. In ’n stadium het hulle besef hulle moet die gemeente se aanbiddingstyl verander. Hulle wou egter nie te vinnig beweeg en mense ontstel nie. Maar toe brand die kerk af weens ’n elektriese kortsluiting.

Hulle was verseker, maar die vraag was wat hulle moes doen met die geld wat hulle gekry het. Daar was verskillende opsies. Een moontlikheid was om in die saal kerk te hou. Sy het gevoel hulle moet ’n gemeenskapsentrum bou.

En toe gaan staan hulle in die dop van die afgebrande kerkgebou om vir die Here te vra wat hulle nou moet doen. En daar, waar die kansel vandag staan, tussen die afgebrande oorblyfsels van die kerk, staan daar toe ’n tamatieplant met ’n vars tamatie aan.

Hulle het gevoel die Here sê vir hulle Hy wil iets nuuts in Gamkavallei doen. Hulle het vir tenders gevra en ’n bekostigbare aanbod gekry om die basiese kerkgebou oor te bou. Dit sou nie ’n spoggerige preekstoel of ’n orrel insluit nie.

Intussen het al meer arm, bruin mense by die gemeente aangesluit, sodat die balans in die gemeente nou omtrent 80% bruin en 20% wit is. Maar ras is nie ’n faktor nie, sê René. Hulle is almal mense, almal gelowiges.

’n Mens moet onthou dat die gemeente se lidmate nie vermoënd is nie, sê René. Baie leef van staatstoelae. Hulle kan nie groot finansiële bydraes maak nie.

Daarom dat haar pakket verklein is. Sy het begin skool hou en die gemeente as tentmakerleraar bedien.

Maar daar is lidmate wat verantwoordelikheid geneem het. Frikkie de Jager is byvoorbeeld die gemeente se skriba. En lidmate soos Dalene Bailey en Olive Kiwido preek van tyd tot tyd in die eredienste.

René vertel dat hulle op ’n dag ’n biduur gehou het waar ’n vrou opgestaan het en bid op ’n manier wat René laat hoendervleis kry het. Sy het besef dat die Here vir dié vrou besondere gawes gegee het. Dit was Dalene Bailey. Mettertyd het sy bidure gelei en by van die gemeente se uitreike gepreek.

Met die kerkraad se toestemming het sy later ook in eredienste gepreek, en daar is net positiewe terugvoer, sê René.

Dalene vertel dat sy en haar man vroeër in Welkom lidmate was van wat sy “die Sendingkerk” noem. Later het hulle oorgegaan na ’n charismatiese gemeente toe, waar sy opleiding gekry het om die Woord te bring.

Toe hulle Beaufort-Wes toe kom, wou haar man nie weer na ’n charismatiese gemeente toe gaan nie. Omdat Gamkavallei die naaste kerk was, het hulle daar ingeskakel.

Ook sy sê dat hulle in Gamkavallei nie raaksien watter kleur mense is nie. “Ons sien die mens. Ons is God se kinders,” sê sy.

Dalene Bailey lei die erediens.

As sy die Sondag ná Pinkster preek, gaan dit oor ’n egte verhouding met God, oor mense wat deur die Gees en in waarheid bid. En sy maan die gemeente dat ’n mens God nie net aanbid as jy in nood is nie. ’n Mens gebruik Hom nie “soos ’n take-away-soppie nie”.

Aan die einde van die diens, met die afkondigings, hoor ’n mens van die gemeentelike bedrywighede vir die volgende week. Daar is die kinderkrans waar tot 150 kinders ’n geestelike boodskap, maar ook kos vir die maag kry. En Woensdag word daar klere uitgedeel by die kerk vir dié wat dit nodig het.

In die gemeenskap wat Gamkavallei bedien, is die groot probleem armoede, en daarmee ook die maatskaplike probleme wat daarmee gepaard gaan. Dinge soos drankmisbruik. Verhoudingsprobleme wat daaruit voortvloei. Kinders wat verwaarloos word.

René vertel dat sy ’n klompie jare gelede een dag by die kerk sien hoe kindertjies in die straat speel. Toe sy met die ouers praat en sê dat dit gevaarlik is, was die antwoord dat almal maar na die kinders kyk.

Maar René was nie tevrede nie. Sy vra die kerkraad toe of hulle met ’n speelgroep kan begin om die kinders van die strate af te probeer kry.

En weer was daar ’n lidmaat wat verantwoordelikheid geneem het. Kirlina Magalie het gevra of sy die juffrou kan wees.

René vertel dat die kerkraad ook besin het oor wat die beste manier is om ’n verskil in hulle gemeenskap te maak. En hulle het vir mekaar gesê dat hulle by die kinders moet begin.

Daarom het die speelgroepie in die saal ’n skooltjie geword. Daar moes aan standaarde voldoen word sodat hulle as skool kon registreer.

Intussen het Kirlina ook by die Suid-Kaapse Kollege begin studeer in vroeë kinderontwikkeling. Daarvoor, vertel sy, draf hulle Saterdae klas en deur die week doen sy die praktiese werk by die skool. Sy het nou al die eerste vyf vlakke afgehandel van die ses wat sy moet doen vir haar kwalifikasie.

Die terugvoer toe die eerste 12 kinders uit Gamka-Kalantjies-kleuterskool laerskool toe gaan, was wonderlik. Die kinders het dissipline. Hulle werk hard. Hulle doen hulle werk mooi, vertel René.

Mettertyd het meer en meer mense uit die gemeenskap hulle kleuters na Gamka-Kalantjies toe gestuur. Nou is daar reeds 70 kinders in die drie klassies, elk met hulle eie juffrou: die 2- tot 3-jariges, 3- tot 4-jari­ges, en die 4- tot 5-jariges.

Hulle gebruik die goedgekeurde leerplan van die staat en kry subsidie om die drie juffrouens en Kirlina as hoof se salarisse te betaal. Die ouers dra R60 per kind per maand by.

Gamka-Kalantjies se klassie vir 3- tot 4-jariges. Heel agter is Kirlina Magalie (die hoof) en by haar is juffrou Hillary Britz.

Die Wes-Kaapse Sinode het R300 000 beskikbaar gestel sodat daar aan die kant van die saal drie klas-kamers vir die drie klassies gebou kon word.

Daarby help instansies soos die ATKV se tak in Beaufort-Wes ook baie en op verskillende maniere.

Vir Kirlina is dit duidelik ’n roeping. Die Here wil haar daar hê, sê sy. En dit is lekker om die kinders te sien ontwikkel, sê sy. Om te sien dat ’n kind daar aankom wat nie weet hoe om ’n kleurkryt vas te hou nie. En kort voor lank trek hy ’n streep, maak hy ’n sirkel, kleur hy in.

Die saadjies wat hulle saai, ontkiem en groei en blom, soos ’n bedding vol kleurvolle blomme in die Karoo.