Ses weke sonder plastiek was moeilik

So ’n paar jaar gelede het ek begin om tydens Lydenstyd die geloofsgewoonte van vas te beoefen. Die gedagte is om iets waaraan jy waarde heg, vir ses weke uit jou lewe te laat, om sodoende iets van die Lydenstydgebeure te beleef. 

Kort voor Lydenstyd vanjaar het ek ’n baie interessante artikel gelees: “The best thing to give up this Lent is plastic, not chocolate.” Dit het die leser uitgenooi na ’n Lydenstydvas wat ook ’n dimensie van sosiale geregtigheid insluit. So het my plastieklose Lydenstyd begin.

Die eerste week was dit maklik. Ek het nie nodig gehad om inkopies te doen nie. Daar was genoeg van alles in ons huis. Ek het my glasbottel soggens vol water gemaak sodat ek deur die dag nie nodig gehad het om ’n bottel water of koeldrank te koop nie. En die koffiewinkel het vir my koffie in my reisbeker gemaak. 

Week twee het dit aansienlik moeiliker geword. Ek moes gaan inkopies doen en het besef watter intrinsieke deel plastiek van ons lewe uitmaak. Dis byna onmoontlik om vleis te koop wat nie in plastiek verpak is nie. Ek het besluit dat niks onmoontlik is nie. My plan was om my eie glasbakkie saam slaghuis toe te neem. Tot my frustrasie het ek dit telkens tuis vergeet. Baie groente was in plastiek verpak. So ook melk, kaas, skoonmaakmiddels en medisyne. Ek het later opgesien om winkels toe te gaan. Inkopies het ’n emosionele saak geword. 

Aan die einde van Lydenstyd kon ek stil word en reflekteer. Twee waarhede het tydens die vastyd in my hart kom sit. 

Die een is ’n nuwe, verhoogde bewustheid van die hoeveelheid plastiek wat ons huishouding gebruik. En die meeste daarvan is nie herwinbaar nie. Wat nog swaarder is, was die besef dat ek nie drastiese verandering hieraan kon maak nie; dat sulke verandering grootliks van beter wetgewing en politieke wil afhang.

Lydenstyd het my egter ook geleer dat swakheid nie die moontlikheid van selfs groot verandering uitsluit nie. As verbruikers kan ons keuses uitoefen. Ons kan beter koop. Ons hoef nie altyd produkte in plastiek te koop nie. Ons kan deur ons verbruikersgedrag produsente en winkels oortuig om minder plastiek te gebruik. Ons hoef byvoorbeeld nie ’n plastiese strooitjie te gebruik net omdat die kelner dit vir ons gee nie. 

My poging tot ’n plastiekvrye vas het my bewus gemaak van die kompleksiteit van selfs ons alledaagse lewe. Dit het tweedens by my ’n behoefte losgemaak na ’n eenvoudiger tyd; ’n tyd van melk in glasbottels, brood in ’n papiersak en groente wat nie in plastiek toegedraai is nie. Miskien is dit eerder ’n behoefte aan ’n lewe wat deur meer eenvoud gekenmerk word.

Dit het my aan die dink gesit – hoe lyk ’n lewe wat deur eenvoud gekenmerk word? Wat sê die manier waarop ek lewe van my lewensingesteldheid? Is eenvoud enigsins moontlik in vandag se tyd? En indien wel, watter aanpassings sal dit van my vra? Ek vermoed dit hou verband met ’n ander vraag, naamlik: Wat is genoeg?

Ds Fay van Eeden is predikant van die NG gemeente Lynnwood.