Kaapse Kansel saai weer uit

Die Christelike radiostasie Kaapse Kansel 729AM is terug op die lug nadat die stasie weke lank nie kon uitsaai nie.

Radio Kaapse Kansel se sender het op 22 Mei onklaar geraak. Ondersoeke het getoon dat die sender nie herstelbaar is nie en Radio Kaapse Kansel sou tot twaalf weke van die lug af wees terwyl die stasie wag op ’n nuwe sender wat deur die nasionale seinverspreider, Sentech, verskaf word.

Die Kansel Media Groep (KMG) het intussen ’n alternatief onderhandel om Radio Kaapse Kansel so vinnig as moontlik terug op die lug te kry. KMG het die sender, waarmee die groep hoogs suksesvolle toetsuitsendings vir digitale radio gedoen het, as tussentydse maatreël vanaf Gauteng na die Wes-Kaap verskuif totdat die nuwe sender uit die buiteland arriveer.

Radio Kaapse Kansel sê in ’n verklaring luisteraars kan nou weer op hul “daaglikse reisgenoot” inskakel om na relevante, Christelike programme te luister wat die hart raak.

Luisteraars kan ook regstreeks na Radio Kaapse Kansel luister op die stasie se slimfoontoepassing, beskikbaar op die App Store (Apple) en Play Store (Android), of deur Radio Kaapse Kansel se webblad by kaapsekansel.co.za.