SA kerke kry tweede prys by WRK

Die NG Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk het nie daarin geslaag om die Wêrelraad van Kerke (WRK) te oortuig om hulle volgende Algemene Vergadering in 2021 in  Kaapstad aan te bied nie, maar hulle sal wel gasheer speel vir die vergadering van die WRK se Sentrale Komitee in 2020.

Die twee kerke se bod om die Algemene Vergadering aan te bied, het behels dat dit in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou sou word. Dié vergadering vind elke agt jaar plaas en word deur duisende mense bygewoon.

Die WRK se Sentrale Komitee het egter op hulle vergadering in Geneve, Switserland, besluit dat die volgende Algemene Vergadering in Karlsruhe, Duitsland, gehou sal word, met die Evangeliese Kerk van Duitsland as gasheer.

Dit sal die eerste keer in meer as 50 jaar wees dat die WRK se Algemene Vergadering in Europa plaasvind. Dit het laas in 1968 in Uppsala, Swede, gebeur. Ondertussen het die WRK se algemene vergadering reeds twee keer in Afrika vergader: in 1975 in Nairobi, Kenia, en in 1998 in Harare, Zimbabwe.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk wat die bod saam met prof Mary-Ann Plaatjies van Huffel van die VGK, gaan voorhou het, het gister gesê hulle is gekomplimenteer op ’n uitstekende voorlegging.

Die groot verskil tusen die Suid-Afrikaanse en Duitse aanbod was dat die Duitsers ’n groot bedrag kon aanbied om die koste van die vergadering te delg, wat die Suid-Afrikaanse kerke nie kon doen nie.

Wat betref die geriewe vir die vergadering, het die Suid-Afrikaanse bod geensins teruggestaan vir dié van die Duitsers nie. Dit was in sekere opsigte selfs beter.

Die Duitsers het aangevoer dat dit goed sal wees om die vergadering daar, in die geskulariseerde konteks van Europa, te hou. Hierteenoor het Claassen aangevoer dat dit goed sal wees om die vergadering in Afrika te hou in die lig van die globale verskuwing van die Christendom na Afrika.

Terwyl die eerste prys na Duitsland toe is, sê Claassen hulle is bly dat die Sentrale Komitee se vergadering in 2020 na Suid-Afrika toe kom.

Die Sentrale Komitee vergader elke twee jaar en hanteer die sake van die WRK tussen die vergaderings van die Algemene Vergadering.

Claassen sê dit is self ’n groot vergadering met sowat 350 afgevaardigdes. Dit sal waarskynlik in Kaapstad gehou word.

Claassen sê die aanbieding van die Sentrale Komitee se vergadering sal baie beteken vir die twee kerke se ekumeniese status en dat dit die tafel sal dek vir ander groot vergaderings in Afrika.