Geregtigheid

Vir ’n lewe in navolging van Christus, is geregtigheid ’n saak wat van kernbelang is. En Jesus Christus maak dit keer op keer duidelik wat Hy onder geregtigheid verstaan.

Soos die keer in Lukas 11 toe ’n Fariseër vir Jesus nooi om by hom te kom eet. Tot sy verbasing doen Jesus nie die fatsoenlike ding om sy hande voor ete te was nie.

En dan praat Jesus met hom oor geregtigheid. Die Fariseërs dink mos dis belangrik om iets aan die buitekant skoon te maak, sê Jesus. Maar binne-in is hulle vol inhaligheid en gemeenheid. Hulle bring die tiendes van kruie soos kruisement en wynruit, want hulle dink dit is in dié soort nougesette nakoming van die wet dat geregtigheid lê.

Maar Jesus dui ’n ander weg aan. Hy sê eerder as om hulle te bekommer daaroor of die buitekant van borde en bekers skoon is, moet die Fariseërs dít wat binne-in die borde en bekers is, vir die armes gee. Dít is waarin geregtigheid en liefde vir God lê.

Geregtigheid is dikwels nie ’n gemaklike saak nie. Die eis om geregtigheid neem ’n mens juis uit jou gemaksone. Vra maar vir die ryk jong man vir wie Jesus gesê het om sy besittings te verkoop, die geld vir die armes te gee, en Hom dan te volg.

Weer is dit die eis: besorgdheid oor die armes. Weer vra Jesus dat iemand moet gee. Hy vra wat Hyself kom demonstreer het: selfopofferende liefde.

Hierdie eis om geregtigheid kom staan vandag in verskillende gedaantes voor die NG Kerk. Dit kom in die vorm van debatte oor grond. Dit kom in debatte oor taal en oor toegang tot onderwys.

En die uitdaging is om nie net aan eie belang te dink nie, maar om, in navolging van Jesus, om te gee vir ander. Juis wanneer dit ongemaklik word.