Die reënboog

Vroeg in die 1990’s het aartsbiskop Desmond Tutu die term “reënboognasie” gemunt. Daarmee wou hy sê dat die mense van verskillende kleure hier aan die suidpunt van Afrika een nasie kan vorm.

Die reënboog is ’n simbool wat baie vroeg in die Bybel voorkom. In Genesis 9, na afloop van die sondvloed, sluit God ’n verbond met Noag, sy seuns en al die ander lewende wesens. As teken van dié verbond, en met die belofte dat so ’n ramp nie weer die aarde sal tref nie, gee God die reënboog. Dit is dieselfde simbool wat Tutu gebruik het om die reënboognasie te beskryf.

Tutu het dié term begin gebruik in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse samelewing op die randjie van ’n rasse-oorlog gehuiwer het, toe daar pogings was om die same­lewing op ’n nuwe vreedsame koers te stuur.

Die reënboognasie was ’n visie van ’n versoende samelewing, een waarin mense mekaar nie aan die keel gryp nie, maar saamwerk om ’n beter samelewing. Hierdie visie van versoening behoort tot die hart van die kerk se werk. In God se sending na die aarde, bring Hy versoening. Versoening tussen God en mens, maar ook tussen mense onderling. Dit is die taak van God se mense om dié soort versoening te bevorder en te bewerk.

Dit is goed om in verhale in dié uitgawe van Kerkbode te sien hoe al meer NG gemeentes hulle doelgerig daarvoor beywer om in hulle eie gemeenskappe vir versoening te werk. Terwyl daar politici is wat rassespanning aanblaas, help sulke gemeentes om God se liefde vir alle mense sigbaar te maak.

En wanneer die reënboognasie in sulke gemeentes sigbaar word, dra dit ’n soortgelyke boodskap as die reënboog wat God vir Noag gegee het. Dis ’n teken dat rassekonflik nie ons voorland hoef te wees nie.