Jesus het in Afrika gebly

Jesus Christus het in Afrika gebly. Trouens, daar is navorsers van sy geboortegeskiedenis wat meen dat Hy tot so lank as die eerste twee jaar van sy lewe op ons kontinent opgegroei het.

Een van die eerste Christenbekeerlinge was uit Afrika: ’n Ethiopiër op ’n wa. Hy het die Pasga in Jerusalem gaan bywoon. Hy kom in Ethiopië terug, splinternuut, gedoop, vrygemaak en met die Goeie Nuus van die koninkryk sy hart en lewe vol.

Dit is nie die eerste Ethiopiër van wie ons in die Bybel lees nie. Vroeër was die land as Kus bekend. Moses het sy broer en suster omgekrap toe hy met ’n vrou uit Kus trou, diep uit Afrika.

Of die Ethiopiër die vlam van geloof in dié land aangesteek het, sal ons seker nooit weet nie. Ons lees wel in Irenaeus van Lyon se geskrifte dat “Simon Backos” in 180 nC die evangelie in Ethiopië verkondig het en gepreek het oor God wat vlees geword het “soos vroeër aan julle almal verkondig is”.

Laat ons ook nooit vergeet dat Augustinus, die groot kerkvader, die biskop van Hippo Regius in die 4de eeuse Noord-Afrika was nie.

Die koms van Jan van Riebeeck in 1652 en die bring van die evangelie na Afrika via die Suide, is dus ’n laat, maar belangrike toevoeging tot die groeiproses van die koninkryk en kerk op ons kontinent.

Vandag is Afrika getallegewys een van die grootste groeipunte van die Christelike geloof. Die sentrum hiervan is egter nie in Suid-Afrika nie. Elders op hierdie kontinent gryp mense die Goeie Nuus aan en wy hulle hulle volledig aan Jesus toe.

Maar die verstaan van die evangelie het verander. Goddank, want baie kolonialiste se verwagtinge het slegs oor die hemel gegaan, oor redding en die ewige lewe. En die lewe van gehoorsaamheid wat moes volg het gegaan oor morele kodes, oor opheffing tot aanvaarbare Europese standaarde, oor gebruike (kultuur) en vaardighede wat die mense bruikbaar gemaak het. Die kolonialiste het immers ingekom agter Afrika se rykdomme aan.

So staan ek onlangs by die massagrafte in Kigali, in Rwanda, waar meer as 250 000 mense se oorblyfsels begrawe is. In 1994 is ’n miljoen Tutsi’s in Rwanda deur Hutu’s vermoor.

Die ergste is dat die Hutu’s en Tutsi’s nie twee verskillende etniese groepe was nie. Hulle het saam geleef tot die koloniale regerings hulle op klassebasis begin indeel het. As jy 10 of meer beeste besit het, is jy as ’n Hutu gereken. As jy armer was, was jy ’n Tutsi.

En toe in 1933 stel die koloniale Belgiese regering ’n ID-kaart in waarop aangedui word of jy ’n Tutsi of
’n Hutu is. Dié klasseverskil is deur koloniale regerings en kerke gedryf. Dit is aangehits tot ’n ideologiese monster, wat op 6 April 1994 en die 100 dae daarna homself sou wreek. ’n Letsel is op die lyf van Afrika gekap wat nog ’n eeu sal neem om onder die vel te verdwyn.

Al lyk Rwanda vandag mooi, al bestaan die Hutu-Tutsi-verdeling nie meer nie, al is dit vandag die skoonste land in Afrika, al is die inwoners trots op die nuwe Rwanda, al werk die Rwandese hard, lê die pyn vlak en het die klank van weeklag en broosheid ’n sagte ondertoon geword in elke hart en huis en werkplek. Sag, maar onmiskenbaar en pynlik.

Daarom was die tema van die pas afgelope vyfjaarlikse vergadering van die All Africa Conference of Churches (AACC) in Kigali “The Journey Leading to Respecting the Dignity and God’s Image in Every Human Being”.

Na 2 018 jaar weet ons die oproep tot bekering en geloof in Jesus Christus het ook alles te doen met hiérdie lewe, met ánders kyk na mense, met diens­baarheid aan ander, respek, omarming, waarde­toevoeging tot mekaar se lewe, omgee, luister, brûe bou, met praat met die mees onwaarskynlike mense in die gemeenskap, met die afbreek van mure, met die afbreek van aannames oor ander, met die ruimte maak vir die verskeidenhede van menswees, met die deel van jou middele, met die salwing van ander se wonde, met die wegdoen van kulturele dwang, met uitreik na ander, met sorg, met gemeenskap met Christus en mekaar, oor grense. Dié evangelie het alles te doen met die heling van wonde en die herstel van mense se eer.

Ek het in Kigali gestaan en gedink oor Suid-Afrika en geweet ons het hierdie evangelie nou bitter nodig. Die ideologiese klassestryd wat tans in ons land aangevuur word, is buitengewoon gevaarlik. Ons wonde van vroeër is nog oop. Ons móét nou kies vir die regte evangelie. Die Jesus van die stal, vlugteling, vreemdeling, is reg vir Afrika.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.