‘Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing’

Ek sit en kyk op TV na die openingseremonie van die World Choir Games in Tshwane. Een van die sprekers (ek dink dit was die burgemeester van Tshwane), sê iets in die lyn van: “We sing when we cry and we sing when we laugh, we sing when we are sad and we sing when we are happy, we sing when we are angry and we sing when we rejoice …” En dit laat my dink …

Is dit nie dalk die rede waarom ons so dikwels wanhopig voel in onse land nie?

Het ons verleer om te sing?

Wat het geword van “My Sarie Marais” en “Hoor jy die magtige dreuning”?

“Al die veld is vrolik” en “Aanstap Rooies” het stil geword.

Hoeveel ure is daar in die motors deurgebring op pad na ons vakansiebestemming, en dan is daar gesing om die pad korter te maak.

As ons in verwondering na die wonder van die natuur kyk, kom “O Heer my God” spontaan in ons gedagtes. Ons kon by enige geleentheid, sonder woorde op ’n skerm, “Prys die Heer” of “Op berge en in dale” sing!

Nou moet Pa of Ma maar so op hul eie die langpad probeer korter maak, die res van die gesin sit met oorfone vasgevang in een of ander elektroniese apparaat.

Ons sing darem so twee of drie liedere per week (as ons gereeld die eredienste bywoon), maar dan moet die woorde in duidelike letters iewers sigbaar vertoon word.

Die vreugde van om te sing as ons huil of as ons lag, om te sing as ons hartseer is of as ons gelukkig is, het ons iewers langs die pad verloor. Dit is hartseer dat ons mense al hoe minder lag en al hoe meer bekommerd raak oor die politiek, ekonomie, welstand, en so meer. Toegegee, die omstandighede in ons land is sekerlik nie rooskleurig nie, en baie van ons mense lewe onder geweldige druk – maar miskien is dit juis genoeg rede dat ons weer moet poog om “die lied in die lewe” terug te bring.

Gé Korsten het ’n baie mooi lied gesing: “Sing, seeman, sing. Jou lied wat heimwee bring …” Kan ons as Christengelowiges nie mekaar ook maar weer só aanmoedig nie: “Sing, Christen, sing – jou lied wat blydskap bring!”

Die Bybel vertel pragtige verhale van mense wat kon sing en dans. Paulus moedig gelowiges aan om te sing. Die Psalms is ’n versameling van liedere en Hooglied ’n pragtige lied oor die liefde.

“Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (Kol 3:16b). Die brandoffers moes met “gejuig en met sang” gebring word (2 Kron 23:18).

“Juig, al wat leef, juig voor die Heer!

Dien God met blydskap, gee Hom eer …”

Miskien het dit tyd geword dat ons weer saam met die digter van Psalm 108 uitroep: ” Ek voel weer veilig, o God, ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing.”

Verdryf die vlaag van mismoedigheid met die klanke van jou lied!

Ds Jasper Louw is moderator van die Oos-Kaapse Sinode.