Kleinmond se kerke hou ’n gee-basaar

Mense wat onlangs by Kleinmond se Fète Baruch, ’n “Fees van Seëninge”, opgedaag het, is behoorlik bederf. Elke stukkie koek, elke koppie koffie, elke boek, elke beurt op die veelkleurige springkasteel – ja, alles waarin hulle belang gestel het – was gratis.

Dié fees was ’n gesamentlike aksie van die ver­skillende kerkgemeenskappe op die dorp.

Die gedagte is die eerste keer in Kleinmond geopper tydens die NG Kerk se Getuienisfees gedurende September 2017. Ds Jaco Strydom van die Echo-jeugbediening was die hoofspreker en het van die suksesvolle aanbieding van hierdie soort basaar vertel – tot groot verwondering van meeste van die teenwoordiges by die Getuienisfees.

Die gedagte het dr Chris Malan van die plaaslike NG gemeente aangegryp en hy het sedertdien begin met die beplanning en organisering om dit ’n werklikheid te maak. Verteenwoordigers van die plaaslike kerkge­meenskappe is gekontak, idees is uitgeruil en vrywilli­gers vir al die bedrywighede is aangewys.

Die Forum van Kerk- en Christelike leiers is gestig en het gefunksioneer totdat hierdie idee op Saterdag­oggend, 16 Junie 2018, ’n werklikheid geword het toe die gee-basaar om 09:00 deur Malan met ’n gebed geopen is.

Elke deelnemende kerkgenootskap was ver-antwoordelik vir ’n spesifieke stalletjie, soos vooraf toegeken. Daar was ’n mooi verskeidenheid eetgoed vanaf pannekoek, koek en tert, tot by die pap-en-worsstalletjie, en elkeen was baie gewild.

Die aktiwiteite het ’n kleurvolle springkasteel en ’n biblioteek ingesluit, terwyl die kinders in lang toue gewag het vir die gesiggrimering – selfs nadat die aktiwiteite gesluit en die basaar verby was.

Die vroue asook ’n paar ervare mans van die NG gemeente het vir 1 000 pannekoeke gesorg wat gebak en bedien is, terwyl die Kleinmond Fellowship Church vir die teetuin gesorg het en 600 koppies koffie/tee en koeldrank bedien het. Saam met elke koppie of glas koeldrank is ’n bordjie met twee stukke koek/tert bedien.

Die beplanners het vooraf gesorg vir ’n pakkie ge­kleurde kaartjies wat aan elke persoon by die ingangs­hek oorhandig is. Elke kaartjie kon volgens kleurkode vir die verskillende stalletjies gebruik word.

Die omgee was ook nie beperk tot eetgoed nie. Die Marimbas, ’n groep skoolkinders wat deur musiek­legende Stefné van Dyk afgerig word, het deurentyd agtergrondmusiek verskaf.

Die vrywilligers uit die onderskeie kerkgemeenskappe was reeds van vroeg af daar en het tot aan die einde nog die opruiming van die terrein afgehandel.

Die spanne uit die verskillende kerkgemeenskappe, saam met die Forum van Kerk- en Christelike leiers en die inisieerder van hierdie Fees van Seëninge, het ’n nuwe begrip van samewerking, ondersteuning en naasteliefde in die gemeenskap van Kleinmond bewerkstellig.