Moderatuur vra gebede oor reën

Die Moderatuur van die Algemene Sinode het versoek dat daar op Sondag, 2 September, ’n dankdag gehou word vir die reën wat omvangryke uitkoms in die Wes-Kaap gebring het.

Dit volg op dae van verootmoediging wat gehou is om te bid vir uitkoms van die ergste droogte in menseheugenis in dié streek.

Intussen het ds Danie Mouton, direkteur van die Oos-Kaapse Sinode, laat weet dat die droogte in die westelike deel van die Oos-Kaap steeds voortduur. Damme in die vrugbare Kougavallei is dolleeg. Dit lei tot laer produksie en werksverlies, wat ongeskoolde werkers die meeste raak.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, vra in die oproep tot die biddag dat gelowiges dankie sê vir die goeie reën wat die Here wel gegee het, voorbidding doen vir dele waar dit nog baie droog is, bid vir diegene wat swaar kry weens reën en koue, en voorbidding doen vir mense wat nog lank gaan ly aan die gevolge van die droogtes.

Claassen wys daarop dat daar geestelike seën in tye van beproewing gevind kan word, en spreek die hoop uit dat mense wat dankbaar is vir reën, ook daarin geestelike seën sal vind.