’n Eindelose verlange na samehang

Binne die gereformeerde tradisie is die verhou­ding tussen kerk en kuns op sy beste proble­maties. Dit het veral te doen met die afwysende houding wat iemand soos Johannes Calvyn teenoor enige afbeelding van God ingeneem het.

Calvyn sê onder andere in sy Institusie dat God deur die eerste gebod “ons belet om Hom sigbaar voor te stel. Hy verwerp sonder uitsondering alle beelde, skilderye en ander tekens waardeur die bygelowige mense dink dat Hy in hulle midde is,” en: “Dink u dit in: ’n aardse mensie, wat elke oomblik sy asem kan uitblaas, sal deur sy kunssinnigheid die Naam en die eer van God op ’n dooie stuk hout oordra!”

Terselfdertyd sê Calvyn, in aansluiting by sy konsep van die geskape werklikheid as die “teater van God se heerlikheid”, die volgende:

“Ek is nie so bygelowig dat ek sou meen dat ons geheel en al geen beelde mag duld nie. Maar omdat beeldhoukuns en skilderkuns gawes van God is, verlang ek dat albei suiwer gebruik sal word, sodat dit nie misbruik word of tot ons verderf aangewend sal word wat God ons tot sy eer en ons welsyn gegee het nie … Alleen dié dinge kan of mag afgebeeld word wat gesien kan word, maar Gods majesteit gaan ver bo wat ons met die oë kan sien. Daarom mag dit nie afgebeeld word nie.”

Die gevolg van hierdie ingesteldheid was dat daar in die Calvinisties-Gereformeerde kunswêreld nie net ’n neiging was om enige Bybelse en religieuse temas te vermy nie, maar veral gefokus is op die uitbeelding van “natuurlike” subjekmateriaal soos landskappe, stillewes en portretstudies.

Ook in die Neo-Calvinisme, wat gedurende die 19de eeu in Nederland onder invloed van veral die teoloog-staatsman Abraham Kuyper ontwikkel het, is ’n eie regmatige plek aan kuns en die estetiese toegeken. So sê Kuyper byvoorbeeld in sy Stone-lesings van 1898 die volgende:

“Art reveals ordinances of creation (skeppingsordininge) which neither science, nor politics, nor religious life, nor even revelation can bring to light. She is a plant that grows and blossoms upon her own root, and without denying that this plant may have required the help of a temporary support, and that in early times the Church lent this prop in a very excellent way, yet the Calvinistic principle demanded that this plant of earth should at length acquire strength to stand alone and vigorously to extend its branches in every direction.”

’n Kunstenaar wat op fassinerende wyse aan hierdie denkwyse uitdrukking gegee het, is die Nederlandse skilder Piet Mondrian (1872-1944). Hy het opgegroei in ’n toegewyde Calvinistiese ouerhuis, as kunsstudent in Amsterdam by ’n goeie vriend en geesgenoot van Abraham Kuyper tuisgegaan, en in 1893 as lidmaat by die Gereformeerde Kerk wat pas die jaar tevore onder leierskap van Kuyper gestig is, aangesluit.

Ten spyte daarvan dat sy spiritualiteit mettertyd in ’n meer esoteriese rigting ontwikkel het en hy ’n lid van die Teosofiese Vereniging geword het, het hy in sy kuns steeds geworstel met die tipies gereformeerde vraagstelling oor die voorstelbaarheid van God en van die werklikheid soos dit met God in verband staan.

Onder invloed van die Franse Kubisme het sy kuns in die rigting van ’n abstrakte, non-figuratiewe styl ontwikkel. Deur toenemende abstraksie wou hy die fundamentele onderlinge verwantskap blootlê wat struktuur en betekenis aan die geskape werklikheid verleen, en op dié manier aantoon hoedat daar ’n essen­siële samehang inherent aan alle dinge is.

In ’n strewe om uitdrukking te gee aan wat hy “a pure reflection of life in its deepest essence” genoem het, het hy die kleurgebruik in sy skilderye gereduseer tot die drie primêre kleure, rooi, geel en blou (saam met wit), en die vormgewing gereduseer tot horisontale en vertikale lyne wat mekaar reghoekig kruis.

Hy het hierdie kunswerke self beskryf as figurasies van die onveranderlike bestaansgrond waaruit alle konkrete, veranderlike dinge tot stand kom. ’n Mens sou in ander woorde kon sê dat Mondrian uitdrukking probeer gee aan die basiese onvoorstelbaarheid van God en van die wyse waarop die voorstelbare werklikheid in verhouding tot God staan.

So gesien verteenwoordig ’n skildery soos sy Komposisie in Rooi, Blou en Geel van 1930 byna iets van die ervaring van Moses voor die brandende bos: Terwyl hy niks meer oor God verneem nie as die woorde “Ek is wat Ek is”, kry hy tog daardeur insig in die samehang tussen God en die werklikheid van God se mense.

Die wyse waarop Mondrian in skildery na skildery verskillende variasies van hierdie selfde gereduseerde kleurgebruik en vormgewing ontwikkel, sou dan beskryf kan word as ’n eindelose verlange na ’n wêreld waar die regte samehang tussen alle dinge herstel word. In die woorde van die kunskritikus Carel Blotkamp: “(the) essential contrasts between horizontal and vertical and between the three primary colors, were supposed to express the unity that was the final destination of all beings, the unity that would resolve harmoniously all antitheses.”