Nico se pelgrimstog wil entrepreneurs kweek

Vroegoggend op 18 Julie (Mandela-dag), het Nico de Klerk by die Madibastandbeeld voor die Uniegebou op sy “Long Walk” vertrek. Die plan is om 130 dae lank te stap en 2 750 km, 100 gemeenskappe en 200 werkwinkels later, op 24 November (Suid-Afrika-dag) by die Parlement in Kaapstad te eindig.

Nico, ’n NG dominee wat ’n doktorsgraad oor pelgrimstogte gedoen het, pak hier ’n pelgrimstog met ’n verskil aan. Waar pelgrimstogte gewoonlik oor die self gaan (oor stil word, dalk die verwerking van trauma, oor perspektief kry) gaan Nico se pelgrimstog oor ander mense. Hy wil armes help.

Die besorgdheid oor armes is ’n baie ou geloofs­tradisie waarby Nico aansluit. ’n Mens sien dit by die Ou-Testamentiese profete, by Jesus self, by die vroeë kerk. Dit is diep vasgelê in die NG Kerk se geskiedenis, en is nou steeds ’n fokusarea vir die kerk.

Die probleem, sê Nico, is dat baie jongmense vasgevang is in ’n denkraamwerk van armoede. Dit is ’n raamwerk van bakhand staan, van verwag dat ander moet sorg.

Neem inisiatief

Die manier om dit teen te werk, is om jongmense iets te laat snap van entrepreneurskap, van inisiatief neem en jou eie omstandighede verander. As hulle manier van dink kan verander, sal hulle lewe verander.

Dr Nico de Klerk op sy pelgrimstog om entrepreneursdenke in Suid-Afrika te bevorder. Foto: Neels Jackson

Daarmee is Nico al ’n geruime tyd besig met sy StreetBiz Foundation. Op verskillende plekke in die wêreld het hy al spanne jongmense vergesel om aan internasionale kompetisies in entrepreneurskap deel te neem.

Nou neem sy staptog hom deur groot dele van Suid-Afrika om die vonkie van entrepreneurskap in verskillende gemeenskappe aan te steek. Oral waar hy kom, praat hy met groepe mense hieroor.

Dit het begin by plekke soos Diepsloot, Soweto en Sharpeville in Gauteng. Daarna stap hy deur dorpe soos Sasolburg, Bethlehem en Clocolan in die Vry­staat. Dan volg plekke soos Burgersdorp, Middelburg en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap, en dan stap hy via Knysna, Ladismith, Villiersdorp en hoeveel ander dorpe Kaap toe.

Rondom Nico en StreetBiz is ’n hele netwerk van organisasies wat saamwerk. Dit wissel van die regering se Kleinsake-Ontwikkelingsagentskap tot by die Universiteit Stellenbosch, Helplift en andere.

Die ideaal is om ’n aanlyn-entrepreneurskool tot stand te bring waardeur jongmense se potensiaal ontsluit kan word.

Een van die doelwitte van die lang staptog is om die netwerke uit te bou, om meer vennootskappe te sluit met mense en organisasies wat sal help om die vonkies aan te blaas tot ’n entrepreneursvuur oor die lengte en breedte van Suider-Afrika.

Plaaslike gemeentes wat wil saamwerk, is welkom om hom te kontak, sê Nico. En as iemand ’n dag of wat saam met hom wil kom stap, is hulle ook welkom.

’n Week nadat die lang stap begin het, is Nico oorstelp oor die opgewondenheid wat hy langs die pad teëkom. In Orange Farm het die leiers van die gemeenskap hom byvoorbeeld terstond oor die plaaslike radiostasie laat praat. Hulle wou hê sy boodskap moes gehoor word.

Dis nog ’n lang pad wat voorlê. Te voet Kaap toe, maar ook om die kopskuiwe te maak wat die entrepreneurskappotensiaal van talle gemeenskappe se jongmense sal ontsluit. Wat alles voorlê, is nie seker nie.

Maar, het dr André van Niekerk tydens die uitstuur­diens in die NG gemeente Waterkloof gesê, dié soort geloofsverhaal is nie vreemd nie. Dink maar aan Abraham wat sy huis verlaat en trek, aan Noag wat ’n ark bou, aan die vissers wat hulle bote los om Jesus te volg.

Hy het daarop gewys dat geloof nie net oor kopkennis gaan nie, maar dat ’n mens moet doen wat jy oortuig is God vra. Sy boodskap aan Nico was om te doen wat hy glo, maar ook te glo dat die Here dít wat hy doen, sal seën en gebruik om die land te heel.

Kyk ook na www.streetbiz.co.za en op facebook na StreetBiz Foundation Nico de Klerk, of bel vir Nico by 082 566 1484.