Skielik is daar nie meer ‘ons’ en ’julle’ nie

DS FANUS HANSEN was tydens die grensoorlog die kapelaan van die Suid-Afrikaanse Weermag se 61 Gemeganiseerde Bataljongroep. Hy het in Mei saam met hulle Veterane­vereniging teruggegaan Angola toe. Dis 30-40 jaar na die oorlog. Hy vertel van die emosionele reis.


Ons kry mekaar in Rundu, in die noordooste van Namibië. Daarna ry ons 140 km wes om by Katuitui, die grens na Angola, te kruis. Die paaie in Angola is sleg, op die grondpaaie bly ons ge­middelde spoed so rondom 25 km/h.

Die hartseer is dat jy geen diere sien nie, niks, nie ’n voëltjie wat tjirp nie. Behalwe vir pragtige Nguni-bees­te, spek-moddervet na ’n goeie reënjaar … Ons sien darem ook die onderstel en kajuit van ’n kwêvoël-vragdraer wat jare gelede ’n landmyn getrap het.

Die vreemdste – ons word hartlik terug verwelkom in Angola. Daar is dansers en tromme, daar is ou vete­rane wat in hul pragtige kakie-drag ons verwelkom, glimlag, kuier en gesels in gebroke Afrikaans. Hulle bied ’n koue Cuca-bier aan en die heerlikste vrugtesap.

Hulle vertel verhale van werk op plase en myne in die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië). Hulle ver­tel van die hartseer van oorlog. Hulle is brandarm. Infrastruktuur in die suidooste van die land bestaan nie. Maar die hartlikheid verstom ons.

Ons kom baie laat die nag net buite Minonque aan waar ons sommer op die parkeerterrein van die Rio Cuebe Lodge kamp. Ons swem en stort en vang tiervis sommer van die veranda af … Ons ontmoet soldate en burgerlikes wat 30 jaar gelede vyand was. Ons word só oorlaai met hartlikheid dat Jacques op ’n stadium sê: “… jong, as die Angolese nie nou ophou om ons te voer nie, ry ek met twee yskaste vol vleis terug huis toe …”

Jaap Steyn, eertydse bevelvoerder van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep en een van die organiseerders van die toer, hou ’n vlag vas wat die toer se boodskap van versoening illustreer.

Die vriendelikheid van die Angolese vang my op ’n stadium. Ek gesels met een van die jonger soldate. Hy is vandag ’n senior offisier, maar tydens die oorlog was hy ’n kind.

“Why do you spoil us? Why do you treat us so well? Why do you even talk to us? Remember, there was a war between us?” Sy antwoord slaan my vierkantig tussen die oë: “Sir, I am a Christian, I have learned to forgive!”

Net oos van die dorpie Cuito, staan daar drie van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se olifant-tenks. Een staan langs die pad, die ander twee nog in die mynvelde in die mopaniebos. Stille getuies van brutale gevegte aan die einde van 1987, begin 1988. Gevegte waartydens baie lewensverlies gely is.

Ons staan daar in die spierwit Angola-sand by ’n massagraf van Unita-soldate. Hulle het saam met ons geveg, aan die SAW se kant. Maar hulle lyke het op die slagveld bly lê … Hulle is sonder enige eer, sonder enige waardigheid deur die vyand begrawe. En ek dog heeltyd ons laat niemand agter nie.

Uit Numeri 6 bedink ons “die genadige God” die Een wat sy gesig na ons toe draai, die gesig wat ek en jy nie mag sien nie. Saam met Johanna, die wonderlikste tolk, verlig gesigte van Suid-Afrikaners en Angolese.

Gerhard klim in die een tenk, syne, hy was die be­velvoerder. Die volgende oomblik swerm bye om hom. Later skryf hy: “In Rigters 14:9 word vertel dat Simson heuning gekry het in die karkas van die ondier, dankie dat ek ook ’n stukkie ‘heuning’ binne-in my ou ondier kon vind …” ’n Stukkie heuning, ’n stukkie heling?

Johan vertel dat sy troepsersant die aand voordat hy dood is lank met hom kom praat het. Hy het net geweet iets gaan gebeur. En Johan, as 19-jarige jongman, moes luister en motiveer en moed inpraat. Hoe werk so ’n voorgevoel?

Papawers vir ons

Ons stap saam met die Angolese na die ou brug oor die Cuitorivier. Die paar vrouens wat ons op die toer vergesel het, gooi bloedrooi papawers in die rivier, vir elke mamma wat ’n seun verloor het, vir elke vrou wat haar man verloor het, vir elke sussie wat haar broer verloor het, vir elke nooi wat ’n kêrel verloor het.

Die houtbeeldjie van Jesus aan die kruis wat destyds uit ’n geplunderde Katolieke kerkie verwyder is, en wat nou teruggegee is.

Hardebaarde van albei kante huil op mekaar se ­skouer. En skielik is daar nie meer “ons” en “julle” nie. Daar is “ons” – ons wat deur ’n oorlog van ons jeug en onskuld beroof is. Ons wat “buddies” verloor het. Ons wat eintlik maar pionne was in die groter Koue Oorlog, van botsende politieke belange.

Ek skryf Stephan, wat ook daar gesneuwel het, se naam op my papawer en gooi dit saam met al die ander in die snelvloeiende Cuito, dis rooi, dit lyk vir ’n sekond lank soos bloed, dit borrel suid; ek huil vinnig – nou is dit kláár.

By die Katolieke Kerk in Mupa wil ons ’n “crucifix” oorhandig wat ’n jong luitenant 35 jaar gelede geneem het. Hy vertel dat die kerkie reeds geplunder was, dat hy opgeklim het en die gesnede beeld van Jesus aan die kruis verwyder het, dat hy dit nog altyd wou teruggee, maar dat sy paaie net nooit weer hier verby geloop het nie.

Dit word ’n 90 minute lange liturgie. Vader Renato Felix Gaudentio Hafyenanye nooi my om die erediens saam met hom te lei, die kruisie word gewy, die nonnekoor sing soos engele, die kinderkoor sing agter ’n 13-jarige dogter aan. ’n Stampvol kerk, 11:00 op ’n Saterdag. Ons neem ’n dankoffer op, ter wille van hongeriges. Vader Renato is na al die jare nog op soek na die kerkklok, en ek dink ek weet waar hy deesdae hang.

By Cassinga breek oom Ockie by die massagraf. “Hier in Cassinga is my heel beste vriend langs my doodgeskiet, hier het ek 40 jaar gelede mense doodge­skiet.” Hy bel ’n week nadat ons by die huis gekom het: “Dankie dat julle saam was, my vrou sê ek is sommer baie beter, maar sy sê ek is nog nie heeltemal reg nie!” En ons lag heerlik saam.

Ons stop êrens tussen Onjiva en Xangongo by ’n groot kremetart. Werner haal iets uit ’n sak uit, begin om ’n kruis aanmekaar te skroef. Hy neem die leertjie van die daktent en maak dit staan teen die boomstam. Klim op en kap die kruis vas teen die stam.

Toe sy voete grondvat, is dit byna of sy bene hom nie langer wil óf kan dra nie, hy sak op sy knieë. “Dis vir my broer, hy is hier naby dood,” snik hy. “Maar dis ook vir my ma, sy is ’n paar maande gelede oorlede, en ek weet dat Fred se dood, haar eintlik in 1988 al dood­gemaak het.”

Johan roep ons op aandag en met kortbroeke en vellies salueer ons.

Eertydse vyande omhels mekaar. Met sy gesig sigbaar is Jasper Cloete, eertydse pelotonbevelvoerder. Die foto is geneem op ’n plek waar van sy troepe dood is en waar hy vir hulle kruisies in ’n boom gaan vassit het. Die man met sy rug na die kamera wat hom hier troos, is Andrei Polikanov, ’n eertydse Russiese raadgewer in Angola.

Die Sondag voordat ons uitmekaar spat, vier ons Nagmaal op Xangongo. Kwet help met die voorbereiding. Ek preek Matteus 5:13: “Julle is die sout vir die aarde …”

Elkeen stap vorentoe en ontvang saam met sy broodjie en kelkie wyn ’n persoonlike boodskap – nét vir hom/haar. Oral staan kringetjies wat saam-saam nagmaal gebruik, party stap sommer die bosse in.

Van die Angolese staan nader. Hulle is Katolieke, gebruik nooit wyn nie, die Jerepigo laat hulle grootoë maak.

Willem vertel hoe hy onder dieselfde boom waar ons nou nagmaal gehou het, in 1981 gesukkel het om ’n troep se bloeding te stop.

’n Rooi blommetjie herdenk ’n soldaat wat in die oorlog gesneuwel het.

Barries, Jannie, Killik, Arno, Lood en Wynand staan net noord van Calueque om die wrak van Mielie se Ratel. Hier is hy dood in die heel laaste gevegte. Op Calueque-brug wys Jacques waar hulle die tenks oor die rivier moes vat nadat die brug gebombardeer is. Vier kilometer voor Ombalantu gaan die Ford se remligte aan, en toe die dieselrook soos hulle versnel. Oor die radio kom die stem: “Sorry manne, ek wil nie, ek kan nie hier stop nie. Hier is te veel seer. Ek wil nou huis toe.”

Ek besef 30 jaar later maak dit nie meer saak wie die Slag van Cuito-Caunavale gewen en wie die slag verloor het nie. Want ons het elkeen iets gewen en ons het elkeen baie verloor. Ek besef dat persepsies nie ver­ander word deur my feite en jou emosies nie. Ek besef dat ideologieë ons laat glo, dit wat ons wysgemaak is. Ek besef dat die nagevolge van oorlog jare later nog sy fisiese, emosionele en psigiese letsels op mense laat. Ek sien hoe ’n land lyk, jare na ’n oorlog.

Maar ek sien ook heling. By individue, by die Angolese wat aangaan en opbou, by eertydse vyande wat mekaar omhels en ’n Cuca drink.

En op die byna 3 000 km huis toe wonder ek: Waarom spandeer ek tyd en geld en energie om hier te kom vrede maak, om hierheen uit te reik, om iets van myself hier te kom gee? Dit alles, terwyl daar in ons eie land, in ons eie dorp, mense is met wie ons so sukkel om in vrede saam te leef? Dit kan mos nie, dit mag mos nie?

Op Kuruman koop Bernard vir my ’n versameling “Salt of the earth” – sout wat glo afkomstig is van die Himalaja-berge. Hy sê: “Dooms, ons sal moet gaan sout wees in hierdie land, ons moet hierdie wêreld ’n lekkerder plek maak, ons moet skoonmaak, reinig, heel, smaak gee, verderf keer. Ons moet onsself herinner aan die verbonde en kontrakte wat ons reeds ge­sluit het …”