Vrystaatse Moderamen maan oor lied

Die moderamen van die NG Kerk in die Vry­staat is gekant teen die sing van strydliedere soos “Thina Sizwe” wat by die afsluiting van die Wêreldkoorspele in Pretoria gesing is.

’n Polemiek het om die sing van die lied losgebars nadat daar aanvanklik berig is dat dit gaan oor die doodmaak van boere. Later het dit aan die lig gekom dat dit nie so is nie, maar dat dit gaan oor swartmense se grond wat afgevat is. Dit is ’n uitdrukking van hulle hartseer daaroor en bevat ’n pleidooi om die grond terug te gee.

Die Vrystaatse Moderamen sê in ’n verklaring al gaan die lied nie oor die doodmaak van boere nie, wil hulle hulle tog uitspreek teen die sing van dié soort liedere.

“Die Moderamen verstaan dat die situasie oor grond in die land op hiedie stadium uiters sensitief is, veral gesien teen die lig van die grondhervormings­gesprek. Daarom rig die Moderamen ’n versoek aan alle partye om hulle van opruiende taal en liedere te weerhou,” lui die verklaring.

Die Moderamen sê voorts hulle verstaan dat die sing van liedere ’n emosionele saak is en sal daarom graag in gesprek wil tree met mense vir wie dit ’n belangrike lied is om te sing. Die Moderamen wil daardeur ’n beter begrip ontwikkel oor die belang van die lied.

Intussen vra die Moderamen lidmate van die kerk en geloofsgemeenskappe om altyd na vreedsame maniere te soek om met mekaar te praat om sodoende nasiebou te bevorder.