En toe praat die Bybel Afrikaans …

Die jaar 1933 sal vir altyd in die geskiedenis van die NG Kerk die jaar wees waarin die Bybel begin “Afrikaans praat” het. Die feestelikhede het op 29 Mei 1933 begin met die aankoms van 10 000 Afrikaanse Bybels wat in Brittanje gedruk is.

Dit het op 27 Augustus 1933 ’n hoogtepunt bereik toe die Bybel in Bloemfontein deur die drie Afrikaanse kerke in gebruik geneem is. Hierdie Bybel in Afrikaans was die 182ste volledige Bybelvertaling in die wêreld. Die kerk het hom daarmee losgewikkel uit die kloue van die Nederlandse Statenbijbel wat deur die eeue die Bybel was wat deur die kerk hier gebruik is.

Verhoef skryf tereg hieroor: “Daar kan vir ’n kerk en taalgemeenskap geen groter lig op die reispad as ’n vertaling van God se Woord in die moedertaal op die reispad wees nie.” Die belangrikheid van hierdie stelling word beklemtoon deur die feit dat die 1933-vertaling nie die laaste was nie. Dit is opgevolg met ’n hersiene vertaling in 1953 en ’n nuwe vertaling in 1983. Die groot verskil tussen die 1933-vertaling en die 1983-vertaling was die feit dat eersgenoemde ’n letterlike vertaling was terwyl laasgenoemde die teks meer idiomaties weergegee het.

Sedertdien het baie water in die see geloop en het verskeie alternatiewe Afrikaanse vertalings verskyn. Daar word ook onverpoos gewerk aan ’n amptelike nuwe vertaling van die Bybel.

Wat beteken dit alles in 2018? In ’n tyd waarin beide die Bybel en Afrikaans onder druk is? Is dit dalk net in belang van die kerk om hierdie twee kleinode te koester. Te maklik word die gesag van die Bybel afgewater en word daar gesê dat ons net maar Jesus se liefde in die samelewing moet uitleef – so asof die twee in stryd is met mekaar. Laat die kerk dit toe, beland ons weer in die tyd voor die Reformasie.

In ’n wêreld waarin Afrikaans al minder as omgangs­taal welkom is, is dit net so maklik om dit eenkant toe te skuif vir “praise” en “worship” en ’n mengelmoestaal wat veral vir die jeug meer verstaanbaar sou wees.

Miskien is dit nodig dat die NG Kerk ernstig nadink oor die belang van die Bybel in Afrikaans. Dit word die beste saamgevat deur die doelstelling van die vertalers van die 1983-vertaling: “Alle Afrikaanssprekendes, hier of in die buiteland, moet in staat wees om die groot dade van God in Christus deur die Heilige Gees in hulle eie taal te lees en te hoor.”

So verstaan, moet die kerk sorg dat daar nooit ’n dag kom waarin die Bybel ophou Afrikaans praat nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.