Christus, die sentrum van die kosmos

Naas sy land- en tydgenoot Picasso is die Spaan­se skilder Salvador Dalí (1904-1989) waarskynlik die bekendste en mees kontroversiële kunstenaar van die 20ste eeu. Soos in die geval van Picasso het dit ook te doen met sy flambojante lewenstyl en sy opspraakwekkende uitsprake oor (onder andere) godsdiens en geloof.

Gebore in ’n huis waar daar ’n skerp godsdienstige verdelingslyn was, het hy aanvanklik tot in sy veertigerjare gekies vir die uitgesproke ateïsme van sy pa téén die toegewyde Katolisisme van sy ma. Tekenend van hierdie eerste, ateïstiese fase van sy lewe is ’n skets van Christus met die titel Soms spoeg ek met behae op die portret van my moeder.

In die 1940’s het daar egter ’n wending in sy gods­dienstige oortuigings gekom en het hy op ’n byna obsessiewe wyse aandag aan godsdienstige temas gewy. Na ’n privaat oudiënsie met pous Pius XII in 1949 het hy die volgende jaar aangekondig dat hy weer ’n lidmaat van die Katolieke Kerk geword het.

In sy skilderye met religieuse temas het hy op ’n fassinerende wyse twee verskillende skilderstyle gekombineer: die surrealistiese styl wat die vorige fase van sy werk oorheers het, en wat hy genoem het “Nu­kleêre Mistisisme” – laasgenoemde met sterk invloede uit sowel die klassieke Griekse en Romeinse kuns, as die herlewing van die klassieke tydens die Renaissance.

Die Surrealisme is ’n kunsbeweging wat sterk beïnvloed is deur die psigoanalitiese teorieë van Freud en Jung, en waarin daar uitdrukking gegee word aan beelde wat opkom uit ’n onderbewuste droomtoestand. Kenmerkend van surrealistiese kunswerke is die ongewone naasmekaarstelling van elemente wat normaalweg nie enige verband met mekaar het nie, en wat deur die naasmekaarstelling nuwe verstaansmoont­likhede open.

Met die sogenaamde Nukleêre Mistisisme poog Dalí (op ’n wyse wat sterk herinner aan die mistisisme van die Jesuïtiese filosoof-paleontoloog Teilhard de Chardin) om die insigte van die moderne wetenskap, in besonder dié van die kernfisika, in verband te bring met verskynsels van die menslike bewussyn soos die samehang tussen persepsie en werklikheid.

Een van die bekendste voorbeelde van ’n werk uit hierdie fase van Dalí se loopbaan as kunstenaar is die skildery Christus van Sint Johannes van die Kruis. Geïnspireer deur ’n skets wat die sestiende eeuse Spaan­se mistikus Johannes van die Kruis ná ’n eksta­tie­se geesteservaring geteken het, het Dalí eers ’n eie skets en daarna die skildery gemaak in ’n proses wat hy soos volg beskryf het:

“In the first place, in 1950, I had a ‘cosmic dream’ in which I saw this image in colour and which in my dream represented the ‘nucleus of the atom’. This nucleus later took on a metaphysical sense; I considered in ‘the very unity of the universe’, the Christ! In the second place, when … I saw the Christ drawn by Saint John of the Cross, I worked out geometrically a triangle and a circle, which aesthetically summarized all my previous experiments, and I inscribed my Christ in this triangle.”

In die skildery word twee perspektiewe op paradoksale wyse naas mekaar gestel: aan die een kant die voorstelling van die gekruisigde Christus wat van bo af – as ’t ware vanuit God se perspektief – uitgebeeld word; en aan die ander kant ’n strandtoneel wat reg van voor vanuit ’n normale menslike perspektief voor­gestel word.

Johannes van die Kruis se skets van Christus.

Deur die naasmekaarstelling van perspektiewe word twee dimensies op tipies surrealistiese wyse met mekaar in verband gebring: die transendente (die Goddelike dimensie) en die immanente (die menslike dimensie) wat hulle samehang vind in die kruisgebeure wat vanuit ’n bo-aardse perspektief betrag word, maar nogtans verband hou met die gewoon aardse strand van Port Lligat waar Dalí die grootste deel van sy volwasse lewe gewoon en gewerk het.

Die wyse waarop Christus aan die kruis uitgebeeld word, was veral in sekere meer konserwatiewe Katolieke kringe redelik kontroversieel. Anders as in die tradisionele voorstellings word daar nie gefokus op die afgryslike foltering van die kruis nie, en word Christus derhalwe sonder doringkroon of kruiswonde, en selfs sonder die spykers in sy hande en voete uitgebeeld. Hiermee word daar aansluiting gevind by die Johannesevangelie se perspektief van die kruis as ’n vrywillige daad wat ook die sentrale gebeurtenis in die verheerliking van Christus is.

Die geometriese patrone in die uitbeelding is opvallend: ’n dubbele driehoek word enersyds gevorm deur die arms en kop van Christus en andersyds deur die drie punte van die kruis. Reg in die middel van hierdie konfigurasie word ’n sirkel gevorm deur Christus se kop. Die dubbele driehoek sou as ’n voorstelling van die Drie-eenheid beskou kon word, terwyl Dalí self na die sirkel in die middel verwys het as ’n aanduiding dat Christus die sentrum en sin van die hele kosmos is.

Op ’n manier herinner dit aan die woorde van Kolossense 1:20: “Deur Christus het God alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ont­wikkeling aan die Universiteit van Pretoria.