Die diakonaat van saamleef

Die amp van die diaken is oor die afgelope aantal dekades afgewater tot geldopnemers ty­dens eredienste en uitdelers van die tekens by die nagmaal. Dit strook natuurlik glad nie met die belofte wat diakens aflê by hulle ampsaanvaarding nie. “Julle moet die materiële en geestelike nood van mense fyn aanvoel en daadwerklik help,” staan geskryf in Vir die erediens – ’n handleiding (2007). Daar is nie integri­teit in ’n bedeling waar een ding beloof word en ’n ander verwag word nie.

Die situasie beteken natuurlik nie noodwendig dat diens van barmhartigheid nie in ons gemeentes ernstig opgeneem word nie. Inteendeel, daar is nie ’n gemeente waar daar nie projekte en uitreike en insame­lings gedoen word vir minderbevoorregte mense nie. Maar daar is baie gemeentes wat selfs nie eens meer diakens het nie.

Daar is skrale troos daarin te vind dat hierdie verskynsels wêreldwyd aan die orde van die dag is. Die wêreldkerk word dus nou uitgedaag om nuut te dink oor die amp van diaken, maar ook onderliggend oor die diakonaat van gemeentes.

Voeg hierby die wêreldwye verskynsel dat kerke en gemeentes al meer hulle professionele welsynsdienste deur nie-regeringsorganisasies laat doen het. Hierdie werk is mettertyd uitgebrei om statutêre welsynswerk in te sluit. Die staat het gevolglik vir baie van die werk van die kerklike welsynsorganisasies die hoofborg geword.

Uiteindelik het daar ’n onhoudbare afstand ontstaan tussen die werk van diakens, gemeentes se diens van barmhartigheid en die organisasies van die kerk wat ge­stig is met die oog op die lewering van barmhartigheids- en welsynsdienste.

Voeg hierby die missionale beweging in die kerk en dit word duidelik dat ’n wesenlike herbesinning nodig is oor die amp van die diaken en die barmhartigheids­werk (diakonaat) van gemeentes. Die vraag moet dus gevra word na die betekenis van missionale diakonaat.

Die drie streke in Europa van die Lutherse Wêreldfederasie het besluit om met die oog op die viering van die Reformasie in 2017 ’n besinning te doen oor gemeenskapsdiakonaat. In ’n 2014-vorderingsverslag gee hulle dan die raamwerk van wat bekend sou word as die “conviviality process”. “Conviviality” is in hierdie denke die kuns en praktyk van saamleef. Tradisioneel het ons die roepingsvraag gevra in ’n nou verhouding tot wat ons het. Ons sou dan byvoorbeeld bid: “Here, U het ons geseën met baie gawes uit u hand. Waarheen of na wie stuur U ons?”

Ons roeping het daarom ten nouste saamgehang met ons kapasiteit, of in ander woorde, ons mag. Dit was nie sleg bedoel nie en dit het derduisende mense laat eet en leef. Ons het in die proses bepaalde vaardig­hede ontwikkel. Ons fokus was veral op volhoubare ont­wikkeling. Ons het uitstekend gevaar met die ont­wik­keling van programme en omvangryke dienste.

Die resultate van hierdie benadering móét, waar die behoeftes voortbestaan, in stand gehou word. Ons werk daarom ook tans, saam met ander kerke, aan ’n nuwe memorandum van verstandhouding tussen die gods­diensgemeenskap en die staat om op nuwe vindingryke maniere ondersteuning aan hierdie dienste te bied.

Ons sal egter ook fundamenteel nuut oor ons gemeentediakonaat moet dink. Diakonaat kan nie meer alleen verstaan word as ’n beweging waarin die kerk of individue beskikbare kapasiteit weeg en dan oorweeg en afweeg wat daarvan aan ander beskikbaar gestel kan word nie.

Dit kan nie langer verstaan word as diegene wat het wat gee aan diegene wat nie het nie. Dit moet eerder verstaan word as ’n intensionele teenwoordigheid tussen lydende mense omdat God intensioneel by hulle is. Ingeneem in sy verhouding met lydendes, kan on­derskeiding daag en kan ons dien en bedien word.

Ons kan dus in die verhouding en in die saamleef met lydendes iets van Christus se teenwoordigheid beleef, en dan ook sigbaar maak. Dié saamleef is dus ’n gedeelde saamleef met Christus én met lydende men­se. Dié saamleef wek ’n sin van broosheid, van gelyk­making, sodat die motief nie meer gee is nie, maar die ontvangs van ’n diep sin vir geregtigheid en ’n Godge­gewe mede-menswaardigheid met die lydendes.

Die uitkoms van diakonaat skuif gevolglik met hier­die benadering van ’n roeping tot volhoubare ont­wik­keling na ’n roeping vir volhoubare gemeenskap. Hierdie benadering het radikale betekenis vir die amp van diaken.

Diakens kan dan die mense wees wat die nood van die wêreld persoonlik aanvoel. Hulle kan die saamleef-mense in elke gemeente wees. Hulle kan die nood en die lyding van mense fyn aanvoel en dienend die ge­regtigheid van God en die menswaardigheid van die mense as opgaaf van God in ontvangs neem. Hulle kan die nood van die wêreld voortdurend onder die ouder­linge en gemeente se aandag bring. ’n Kerkraad sou dan om geen rede sonder diakens wil wees nie.

Daar is ’n spreekwoord wat sê die teenoorgestelde van armoede is nie rykdom nie, maar geregtigheid. Ander sê die teenoorgestelde van armoede is gemeenskap. Hiervoor sal ons nuwe vaardighede móét aanleer en die gee-en-gee-gewoontes as outomatiese terugval-posisie, sonder intensionele saamleef, móét afleer.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk.