Om te sien

In Lukas 13 lees ons dat Jesus ’n gebreklike vrou in ’n sinagoge genees. ’n Sleutelelement van hierdie vertelling is die woorde: “Toe Jesus haar sien …”

Dit is iets wat ons meermale in die Evangelies raaklees: dat Jesus mense raaksien. Soms kom mense na Jesus toe. Hulle soek hulp by Hom. Maar in ’n verhaal soos dié van die gebreklike vrou, is dit nie wat gebeur nie. Sy is eenvoudig in Jesus se omgewing en Hy sien haar raak.

In party gevalle waar Jesus mense so raaksien, lees ons verder dat Hy hulle innig jammer gekry het. Dit gebeur byvoorbeeld in Lukas 7 waar Jesus die weduwee van Nain sien waar sy op pad is om haar seun te begrawe.

Waar Jesus mense so raaksien, waar Hy hulle jammer kry, daar help Hy. Hy maak die gebreklike vrou gesond. Hy wek die weduwee se seun op. Hy roep vir Levi. Hy voed die skare.

Dit is dieselfde patroon wat ons in Lukas 10 by die barmhartige Samaritaan kry. As die man onder rowers ­deurgeloop het, sien die Samaritaan hom raak, hy kry hom innig jammer en hy gaan uit sy pad uit om die man te help. Dis so anders as die priester en Leviet. Hulle sien die man ook raak, maar loop dan ’n draai om hom, want hulle wil nie sien nie.

Mense wat navolgers van Jesus wil wees, ’n kerk wat missionaal wil leef, moet hierdie patroon verstaan. Ons moet ons oë oophou en ons ore gespits vir die nood van mense: armes, misdaadslagoffers, vroue wat misken word, gay lidmate, gestremdes. Almal in nood.

Soms sal daar mense wees wat die stemme probeer stilmaak, soos die mense om Jesus die roepende blindes van Matteus 20 probeer stilmaak het. Dan moet God se mense hulle juis hoor, hulle sien, hulle innig jammer kry, en hulle help.