Teen die bors van Liefde

Betekenis word liggaamlik en in interaksie met ons omgewing gevorm. Die liggaam be­teken en vorm betekenis. Die titel van Mark Johnson se boek sê dit mooi: The meaning of the body.

Daar is geen manier hoe ons abstrakte konsepte soos nabyheid en geborgenheid kan bedink, sonder die oerervaring van fisiese aanraking in die skuilte van liefde nie.

Volgens Johnson bly volwassenes “groot babas”, omdat ons nooit die liggaamlike, omgewing- en verhoudingsmatige basis van betekenis ontgroei nie. Alle komplekse en abstrakte denke word as ’t ware van “onder” af opgebou vanaf ’n pre-verbale “le­wens­­gevoel”.

Dit mag uiters abstrak klink, maar dit bly vir ons so instinktief en voor die hand liggend dat ons ons liefde aan kinders, van die eerste oomblik af, nie proposisioneel inhoudelik betuig nie, maar met ’n rituele gesing-praat, ’n heilige kus op die voorkop, die ontsagvolle ontvangs op die bors, ’n sagte aanraking van vrede. Hoe sal ons kinders dan anders ons onvoorwaardelike liefde begin verstaan?

Geloofsontwikkelingskenners leer ons dat in die “eerste fase” van geloof van min of meer twee tot ses jaar kinders die mees ontvanklik is vir die beelde, rituele en simbole van die geloof.

Dit is daarom verregaande dat ons dié wyse waar­op jong kinders kan deelneem aan die liggaamlike en simboliese uitdrukking van God se liefde van hulle weerhou. (En daarmee saam ook onhoudbaar dat ons hierdie liggaamlike uitdrukking sou skei van die woorde om kwartaalliks of dalk maandeliks beleef te word.)

Om proposisionele en abstrakte kennis as die voorwaarde te stel om die liggaamlike bevestiging van God se liefde in Jesus Christus binne die ge­meen­skap van die Gees te beleef, is om op ’n tragie­se manier die kar voor die perde in te span.

Hoe anders sal ons kinders leer om te onderskei dat dit die liggaam van Liefde is wat ek in ontvangs neem en wat my ontvang, as juis deur die belewenis van daardie liggaam se intiemste nabyheid? Hoe anders sal ons leer vertrou (want dit is tog wat geloof beteken) as ek nie die betroubare Een nie ook (eers!) op ’n nie-verbale wyse leer ken nie? Die be­geer­te tot nabyheid en aanraking word tog vervul en aangewakker deur die aanraking self.

Daarom pleit ek dat ons sal terugkeer na die prak­tyk wat in groot gedeeltes van die Christendom beoefen word: die bevestiging van ons deel-wees van die gemeenskap van Liefde met die liggaamlike ritueel wat bestaan uit doop, salwing en die eerste deelname aan die Eucharistie. Vir volwassenes, kin­ders en suigelinge.

En daarna ’n weeklikse terugkeer na die fontein van die lewe deur deelname aan die Eucharistie. Woord en sakrament geïntegreerd soos dit hoort. Liefde wat bevestig word soos ’n sentimentele ballade uit my jeug dit wil sing in: “More than words”.

So word die betekenis van liefde liggaamlik in ons en ons kinders gevorm. So word ons die liggaam van betekenis wat ons ontvang: die liggaam van Christus.

Ds Dieter de Bruin is predikant van die NG gemeente Pretoria.