Luister weer na die stem van Cottesloe

Die Cottesloe-beraad het van 7-14 Desember 1960 in Johannesburg plaasgevind. Dit was ’n direkte gevolg van een van die donkerste dae in die geskiedenis van Suid-Afrika – die gebeure te Sharpeville op 21 Maart 1960, toe die polisie tydens ’n betoging 69 mense doodgeskiet het.

Díe kerkeberaad, wat op inisiatief van die Wêreld­raad van Kerke plaasgevind het, het veral die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika uitgedaag om te besin oor die verhouding tussen die verskillende rasse in Suid- Afrika.

In ’n verklaring wat ná die beraad uitgereik is, is onder meer aandag gegee aan onbillike diskriminasie, stemreg aan al die inwoners van die land, die ont­wrigting wat trekarbeid op die gesinslewe gehad het en die reg van alle burgers van ’n land om grond te besit. Die verklaring het ook bevestig dat niemand op grond van ras of kleur van enige kerk uitgesluit kon word nie.

Deur die Cottesloeverklaring is die NG Kerk gekon­fronteer met sy teologiese steun aan die destydse Nasionale Party-regering. Ongelukkig het die negatiewe reaksie waarmee die verklaring ontvang is, die stem van Cottesloe in die kerk stilgemaak. Sinodes van die kerk het die verklaring in 1961 verwerp. Dit het die etiket van apartheidsvennoot finaal om die kerk se nek gehang. Wat ’n groot ekumeniese deurbraak kon wees, het ’n doodloopstraat geword.

Alhoewel hierdie etiket sedert 1986 met Kerk en Samelewing stukkie vir stukkie formeel deur die NG Kerk afgehaal is, word die kerk steeds gekonfronteer en uitgedaag met die werklikhede van die tyd waarin ons leef. Die Marikana-slagting van 2012, omgekeerde rassisme en die dreigende chaos oor die onteiening van grond sonder vergoeding, is enkele sake wat ons dwing om weer helder en duidelik na die stem van Cottesloe te luister.

In die kerk se pogings om missionaal kerk te wees sal daar pynlik eerlik gevra moet word in hoe ’n mate die omstandighede in die land ’n laer-mentaliteit by lidmate en in gemeentes laat herleef waar nuwe rassisme gekweek en gekoester word. Die ons-en-hulle-debatte gaan die kerk niks help nie.

Oop deure en oop lidmaatskap en mooi teologiese besluite oor missionale kerkwees moet juis nou lei tot oop harte. In 1960 het die NG Kerk ’n reuse-geleentheid deur sy vingers laat glip. Wat op die oomblik in Suid-Afrika aan die gebeur is, is ’n nuwe geleentheid wat die kerk nie durf misloop nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.