Die Bybel – wat is kern- en wat is randsake?

In hierdie aflewering van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake se reeks oor die NG Kerk se vertolking van die Skrif, kyk DR PIETER VAN DER WALT, in oorleg met die taakspan se lede, na die “skopus” (of kern) en “periferie” (of randsake) van die Skrif.


Die Bybel is aan ons gegee “om ons wys te maak tot saligheid, sodat die mens van God vol­ko­me kan wees, volmaak toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16, 1953-vertaling). Die doel van die Bybel is dus nie om akkurate informasie oor die breë spektrum van kennis te verskaf nie, maar om die le­wende God se beoordeling en redding van die wêreld te vertel en te verkondig.

Die Algemene Sinode beklemtoon daarom deurgaans dat die Bybel ’n “religieuse skopus of doel” het. Daarmee word nie ontken dat álles wat in die Skrif verkondig word, betroubaar is nie. Die onderskeid tussen “skopus” en “periferie” beteken eerder dat alles wat in die Skrif verkondig word in verband gebring moet word met die doel waarvoor die Skrif aan ons gegee is. Daar is ’n samehang tussen die tekste van die Bybel, wat te make het met die getuienis en bekendmaking van God se liefde.

Ons hoef met ander woorde nie elke teksgedeelte in die Bybel volgens moderne rasio­na­liteit as waar of vals te beoordeel nie. Elke teks, elke berig, verhaal, gedig of brief in die Bybel beantwoord aan die bedoeling van God daarmee. Die lewende God Self gee deur sy Gees, die eintlike Outeur en Begeleier, betekenis aan die Skrifteks wanneer gelowige mense dit lees en ontvang.

As daar dus onderskei word tussen die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand, is dit nié om dit van mekaar los te maak nie. Hart en rand kom saam as God se Woord na ons toe. Die onderskeid maak wel duidelik dat die gesag van die Skrif nie setel in geïsoleerde Skrifgedeeltes op hulle eie, los van die geheel nie.

Die kortste samevatting van die geheel van God se Woord is Triniteit. Ons leer ken God in die geheel van die Bybel as onskeibare Vader, Seun en Gees. ’n Mens sou kon sê die Ou Testament handel veral oor God die Vader as Skepper en Verbondsgod, die Evangelies oor God die Seun as Versoener en Verlosser, en Handelinge en die Briewe oor God die Heilige Gees as Tolk en Trooster. Elk van die dele kan egter slegs verstaan word in die lig van die geheel. En die geheel kan slegs verstaan word in die lig van die dele.

Die God van die Bybel is nie ’n afstandelike en onkenbare Godheid waaroor filosowe spekuleer nie. God is betrokke. God spreek ons aan. God luister. Die God van die Bybel as geheel is die God van Abraham, Isak en Jakob wat in die Persoon van Jesus van Nasaret en deur sy Gees tot mense kom en ons in ons menslikheid ontmoet.

Dit help om te bly by die eenvoudige stelreël van die Reformasie dat die Skrif sy eie uitlegger is. Die gesag van die Bybel word bepaal deur die Bybel self en ten diepste deur die drie-enige God self. Ons mag dus nie alles op biblisistiese wyse in die Skrif gelykmaak en Skrifwoorde willekeurig en selektief, direk en sonder vertolking op mense van die hede van toepassing maak nie. Ons mag ook nie die Skrif by voorbaat aan ons eie moderne verstaan onderwerp nie.

Indien die doel van die Skrif is om “ons wys te maak tot saligheid”, word ons verhoed om op vernuftige wyses na geheime leringe en kreatiewe insigte oor God daarin te soek. God se doel met die Woord wat tot ons kom, is om God nuut te verstaan en ons verbeelding te transformeer in die lig van die spesiale gebeure van Jesus Christus. Ons tref hierdie verhaal aan in die “hart” of die “skopus” van die Skrif. Hierdie Woord bring ons tot nuwe ingesteldhede, nuwe gewaarwordinge, nuwe houdings en nuwe maniere om onsself, ander en die wêreld te sien en te waardeer. Soms keer dit die maniere waarop ons hieroor gedink het onderstebo.

Dit is belangrik om in die geloofsgemeenskap in gesprek te bly met mekaar oor die hart van die Skrif. Die 2004-verslag van die Algemene Sinode het daarop gewys dat sommige die nodige vernuwing van byvoorbeeld ons siening van die vrou in dieselfde mandjie gooi as afwykende sienings soos dat Jesus se kruis geen heilsbetekenis het nie en dat Hy nie opgestaan het nie. Wat ons nodig het is verantwoordelike interpretasie, wat in afhanklikheid van die Gees steeds erns maak met die hart van die Skrif as geheel.