Kaross is gebore uit die liefde vir mense

Kaross se hoëgehalte borduurwerk word uitgevoer na plekke reg oor die wêreld. Agter hierdie onderneming lê daar n merkwaardige verhaal. NEELS JACKSON vertel.


Kaross was nie ’n kerklike projek nie. Dit was nie eens ’n doelbewus godsdienstige projek nie. En tog sien ’n mens daarin verskeie elemente van wat vandag in die kerk verstaan word as ’n missionale lewe.

Die verhaal begin in 1984 toe Burgert en Irma van Rooyen uit Johannesburg na die omgewing van Letsitele, oos van Tzaneen, verhuis het. Hy was ’n bedryfs­ingenieur wat besluit het om ’n sitrusboer te word. Sy was ’n kunstenares wat voltyds geskilder het.

Op die plaas was Irma baie bewus daarvan dat hulle en die mense op die plaas mekaar nodig het vir ’n gelukkige, produktiewe voortbestaan. Hulle lewe was op verskeie gebiede met mekaar verweef: op sosiale vlak, op godsdienstige vlak en op emosionele vlak. Hulle was deeglik bewus van mekaar se wel en wee, van hulle verantwoordelikheid om gelukkig saam te woon en te werk.

Dit is een van die grondliggende aspekte van missionale kerkwees: om naby mense te leef, om in verhoudings met hulle te werk.

Irma het gesien dat die Tsonga-vroue (hulle noem hulleself ook Sjangaans) as deel van hul kultuur bor­duur. Ook dít is kenmerkend van die missionale verhaal: om ’n oog te hê vir mense vir hulle talente en behoef­tes.

Vir haar was dit ’n natuurlike uitvloeisel om hierdie talent verder te ontwikkel en uit te bou – nie net tot ekonomiese voordeel vir elkeen nie maar ook om hulle trots vir wie hulle is en vir waar hulle vandaan kom, te versterk.

Sy het die vroue genooi om saam met haar te kom borduur. In die woordjie “nooi” lê daar ’n wêreld se respek opgesluit. Sy het nie beterweterig haar idees op die vroue afgelaai nie. Sy het hulle ingenooi in ’n gesamentlike aktiwiteit in.

“Middae ná werk het hulle onder ’n boom vergader en het ons begin borduur,” vertel Irma. “So het ons mekaar leer ken en het ’n wedersydse respek en liefde vir mekaar gegroei tot ’n diepe bewussyn dat ons aan mekaar behoort, dat ons respek het vir mekaar en dat ons mekaar nodig het. Ons kon saam bid vir reën. Ons kon saam bid vir ons kinders. Ons kon saam hande hou en werk.”

Vir Irma is dit belangrik dat sy nie die vroue probeer “ophef” het nie. Daar is iets vernederends in die woord “ophef”, asof die vroue minderwaardig was. Die Tsonga-mense het nie opheffing nodig nie. Hulle is trotse mense, vertel sy.

Sy het hulle ook nie probeer evangeliseer nie. Dit is nie nodig nie. Oor die algemeen is die Sjangaans reeds Christene.

’n Geborduurde muurbehangsel. Die borduurder wat so iets doen, kry die lap met die ontwerp op sowel as ’n bak met garings van verskillende kleure wat saamgestel is om bymekaar te pas.

Aanvanklik was dit net vyf vroue wat saam met Irma begin borduur het. En hulle het verskeie dinge probeer voordat hulle iets gevind het wat werk. Aan­vank­lik was dit kralewerk, maar dit was nie ’n sukses nie.

Toe het Irma gedink dié vroue se stories moet gedokumenteer word. Sy het hulle gevra om die stories te teken. Daarna het hulle dit geborduur. Mense het ge-oe en ge-aa daaroor, maar hulle het dit nie gekoop nie.

Dit is toe dat Irma begin het om self die ontwerpe te doen. Sy het die Tsonga- en Vendakuns as inspirasie gebruik. Dít wat sy op hulle huise, hulle potte en hulle klere gesien het. Dié ontwerpe is dan deur die vroue geborduur.

Saam met die ontwerpe het sy vir die vroue goeie gehalte materiaal en garing gekry om mee te werk. En dan het sy gelet op die gehalte van hulle borduurwerk.

Sy het die vroue betaal vir hulle werk. Van die ander werkers, ook van buurplase, het dit gesien en wou ook aan die projek kom deelneem.

Irma vertel dat sy vir iemand wat wou borduur tot vyf of ses kanse sou gee om hulle werk op standaard te kry. Dié wat dit kon regkry, het gereelde werk gekry.

Burgert se opsomming is dat Irma dié tradisionele vaar­digheid wat die plaaswerkers gehad het, veredel het.

Vir die borduurders het dit goed gewerk. Dit was iets wat hulle kon saamneem waar hulle gaan. As iemand in ’n ry by ’n kliniek sit en wag om ’n dokter te sien, kon sy borduur. As sy middagete het, kon sy borduur. Dit is iets wat oral gedoen kon word. En dis iets wat elkeen op sy of haar eie tyd kan doen.

In die begin het vriende en familie van die produkte gekoop. Later het die boodskap versprei. Maar dit was ook in die tyd toe kunsvlyt in Suid-Afrika ’n opbloei getoon het. Daar het ’n netwerk van kunsvlyters ontstaan en daardeur het hulle uitgekom by South African Craft Council. Kaross, soos die projek later geheet het, het ’n agent gekry om hulle produkte te bemark.

Dit het gegroei soos die mosterdsaadjie waarvan Jesus vertel. Vandag is daar sowat 1 400 mense wat vir Kaross borduur. Baie van hulle borduur voltyds. Party is seisoenswerkers wat borduur wanneer daar in die produksiesiklus van die sitrus nie vir hulle werk is nie.

Die produkte is oral in toerismewinkels te kry: in die wildtuin, op lughawens, in waterfronte. Dit word oor die wêreld heen uitgevoer. Daar is ook nou ’n aanlynwinkel.

Hulle moes al ’n geleentheidstuk borduur vir ’n besoek van pres Barack Obama. ’n Werk van 15 m lank wat vir die Universiteit van Pretoria se eeufees geborduur is, hang nou in die Merensky-biblioteek op die kampus. Daar was ’n stuk vir Oprah Winfrey se skool. Hulle werk nou aan produkte vir die nuwe hotel wat in die Krugerwildtuin gebou word.

Maar uiteindelik gaan dit oor die bemagtiging van mense, veral vroue. Kaross gee vir vroue die geleentheid om hulle eie geld te verdien. Dit gee ’n vrou self­stan­digheid. Sy hoef nie meer so afhanklik van haar man te wees nie.

’n Vrou wat borduur, kry 45% van die prys waarteen Kaross haar werk verkoop. Die res betaal die materiale en oorhoofse koste, sê Irma.

Die werk gee die vroue – met reg! – ook selfrespek. Irma vertel hoe sy soms sien dat van die vroue met ’n tafeldoek oor die skouers in die pad afstap. Só trots op hulle werk, die produkte van hulle kultuur.

As dit een van die doelwitte van missionale kerkwees is om mense, veral mense wat swaarkry, te help om ’n ryker en voller lewe te lei, iets van die lewe in oorvloed waarvan Jesus in Johannes 10 praat, dan is Kaross ’n voorbeeld daarvan.

Olivia Phephenyane, sedert 2007 Kaross se bestuur­der van verkope, verklaar: “Kaross beteken baie vir my. Sonder Kaross het ons nie ’n toekoms nie.”

Sy vertel trots hoe dit die Sjangaan-kultuur vorentoe gevat het, hoe dit die gemeenskap gehelp het. “Kaross het hulle uit armoede opgelig,” sê sy.

Sonder Kaross sou borduurwerk as deel van die Sjangaan-kultuur verlore gegaan het. Nou is dit ’n inspirasie vir die mense, vertel Olivia.

Ephas Mathebula, wat ontwerpe doen en sakke maak in Kaross se fabriek, vertel hoedat Kaross ’n groot verskil in die gemeenskap maak deur mense werk te gee. “Ons voel baie goed oor ons werk,” is sy opsomming.

Maar Kaross en die sitrusboerdery doen baie meer as net om vir mense werk te gee. Ook op ander terrei­ne word mense bemagtig.

Hulle het die mense gehelp om bankrekeninge te open, vertel Irma.

Irma van Rooyen met ’n geborduurde uitbeelding deur een van die vroue wat vroeg in die geskiedenis van Kaross een van die borduurders was. Kaross is besig met ’n reeks van sulke werke waarmee hulle die geskiedenis van die vroue wil vaslê. Irma wil ook ’n boek daaroor laat maak.

Hulle het lesings oor vigs gereël. Hulle het al groot panele geborduur vir vigskonferensies. Dan het hulle baie oor die siekte gepraat.

Op die plaas is daar ’n hardloopklub gestig. Nie net was dit ’n geleentheid om mense te help om fiks te bly nie, dit het ook die deur geopen vir wyer blootstelling. Van die hardlopers het nou al deelgeneem aan byeenkomste op plekke waar hulle andersins nooit sou kom nie.

Burgert is betrokke by Partners for Possibility, ’n projek wat vennootskappe smee tussen sakeleiers en plaaslike skoolhoofde. Die gedagte is om die onderwys te help deur die hoof te help met bestuursvaardighede.

En in die proses is dit nie net die Sjangaans wat voordeel trek nie. Burgert sê oor sy vennootskap met die hoof: “Om te gee, maak jou ryk.”

Kaross het ook ’n groot invloed op die plaas se stabiliteit, omdat seisoenswerkers nou ook die res van die jaar ’n inkomste kan verdien. Burgert sê daar is om­trent nie ’n omset van werkers nie. Die werkers bly, want hulle is gelukkig.

Irma sê sy het so baie by die Sjangaans geleer oor hoe hulle vir mekaar omgee.

Burgert en Irma, lidmate van die NG gemeente Letsitele, sê hulle het nooit oor Kaross gedink as ’n godsdienstige projek nie, hoewel geloof deel is van die saamwees. Donderdae bid hulle byvoorbeeld saam. As iemand weggaan, bid en sing hulle saam. By sulke geleenthede sing die Sjangaans ’n lied wat sê: “Goeie dag. Die Here seën jou.”

Dit was eintlik iets wat spontaan begin het en spontaan ontwikkel het, omdat hulle lief is vir mense.

In Burgert se woorde: “Ons doen dit, want dit is deel van ons DNS. Dit is die Woord in praktyk.”

Sonder om deurentyd oor die Here te praat, is dit die boodskap wat hulle uitdra: “Ons is lief vir mekaar. Ons respekteer mekaar.”

Dit geld Kaross, maar dit geld ook die boerdery. Almal word dieselfde geag. Een is nie geringer as die ander nie.

Anders gestel: Daar is nie ’n “ons” en ’n “hulle” nie. Almal is deel van een groot “ons”.

En as ’n mens die woorde glo in Jakobus 1 – dat egte en ware godsdiens voor God die Vader onder meer is om die weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan, dan is dit ook waar van Kaross.

So vertel Rejoice Ngobeni wat in die winkel werk, dat Kaross vir haar ’n kombers is. Sy werk al 13 jaar daar en dit het haar lewe baie verander. Toe sy haar man verloor het, kon sy vir haar kinders sorg. Sy kan vir hulle kos gee en sy kan hulle skool toe stuur.

Op soveel vlakke is dit wat by Kaross gebeur, ook waaroor missionale kerkwees gaan: om die liefde van God na ander toe uit te leef.

Dr Lourens Bosman, algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode, sê ’n missionale kerk se impak lê ten minste net soveel in die roeping wat in lidmate se hart leef, as in projekte wat ’n gemeente organiseer.