Klein begin

’n Mens kom soms af op verhale van mense wat op ’n klein skaal maar met groot opregtheid begin om iemand anders te help. En dan, sonder dat iemand dit so beplan het, groei die omgee tot ’n projek met ’n omvang waarvan niemand ooit kon droom nie.

Dit is die beginsel wat Jesus verduidelik wanneer hy die gelykenis van die mosterdsaad vertel. Dit mag die kleinste saad in die land wees, maar dit groei tot ’n struik waarin die voëls kan kom nesmaak.

’n Mens sien dikwels dat God so werk. Hy gebruik die kleinste en die onaansienlikste om sy werk te doen. Dan is dit duidelik dat dit God is wat die verskil maak.

Dink maar aan Gideon se klein groepie manne, die spreek­woordelike Gideonsbende, deur wie God die vyand verslaan het. Dink maar aan Dawid, die jongste en mins gerespekteerde van Isai se seuns, wat Israel se groot­ste koning geword het. Dink maar aan die klein en min geagte Betlehem uit wie die Verlosser van die wêreld gekom het.

Wat sê dit alles vir ’n kerk wat in gehoorsaamheid wil deelneem aan God se heelmaak van hierdie wêreld?

Miskien dat ’n mens versigtig moet wees daarvoor om groot en indrukwekkende projekte te beplan. Groot en indrukwekkend kan so maklik iets vir vertoon word. Dit kan so maklik ons prestasie word.

En dat ’n mens nie klein projekte, klein bydraes, po­gings om op klein skaal ’n verskil te maak, moet onderskat nie. Dít is immers hoe dit gaan met die koninkryk van God. Dit is soos ’n klein mosterdsaadjie wat groei tot ’n groot plant.

Want die uitbreiding van God se koninkryk hang nie van ons af nie. Dit vra dat ons getrou moet wees, maar uiteindelik kom die groei en die genade van God af.