Koos noop jou om saam na te dink

SIELSKOS: STORIES OOR VERLANGE EN HOOP
Deur Koos van der Merwe

Uitgewer: Lux Verbi
Resensie deur Stephan Bothma


Koos van der Merwe vervul sy lewens­roeping deur te woeker met woorde. Of hy sing, preek, pastorale gesprekke voer, vertaal of skryf. Interessant, dus, as juis hy sê “Woorde is goed. Dit kan ’n mens help om te leef. Om te glo. Maar soms is woorde net goed as hulle swig voor die krag van die stilte.” As woorde egter so vinding­ryk ingespan word soos wat Koos dit doen in die bundel Sielskos, sou ons tog armer gewees het daarsonder.

Koos het aanvanklik vir sy musiek bekend ge­raak as deel van die groep Prophet en sy treffer “Houtkruis”. Meer onlangs het hy Leonard Cohen en Bob Dylan in Afrikaans vertaal en gesing. Maar hy is ook ’n predikant en natuurlik ’n skrywer. Hier­die bundel is saamgestel uit 15 jaar se rubrieke in die tydskrif Sarie. Die temas is waarnemings van en besinnings oor die alledaagse, dikwels uit ’n ongewone hoek en met ’n stewige skeut humor. Telkens loop dit uit op een of ander praktiese ge­loofs­waarheid.

Vars, kreatiewe woordgebruik maak die boek ’n plesier om te lees. Hy skryf: “Ek ry gewoonlik stadiger as almal wat ek ken, maar op Sondae nog stadiger. ’n Bedevaart vanaf Heroldsbaai na George. Teen die spoed van toewyding.” Of sy simpatieke humor: “Sy was nou nie eintlik ’n klein vroutjie nie. Vroulik, ja, maar as sy naby was, was daar genoeg van haar in die omgewing.” 

In talle van die titels kan mens jou totaal ver­kneukel. Wie sal dit dan kan weerstaan om ’n stuk met die naam “Grys gebede se heilige klanke” onmiddellik te wil lees! Na my mening was hierdie stuk ook een van die bestes. In die algemeen het ek gevoel die sterker rubrieke is dié wat minder neig om sentimenteel te wees en waar die “boodskap” minder uitgesproke is.

Koos se bepeinsings lei hom dikwels tot insigte wat jou noop om saam na te dink. Insigte soos: “Mag ons met die waarheid wandel, maar nooit nét met die waarheid nie. Want waarheid wat alleen loop, raak donker.”

▶ Stephan Bothma is ’n oud-SAUK-joernalis wat hom nou meer voltyds daarmee besig hou om grense te probeer oorsteek en die barista in Greyton op haar tone te hou.