’n Oproep tot bekering

DS RUDI SWANEPOEL van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg het in die afgelope tyd al meer onder die indruk gekom van rassespanning en ander kwessies in die samelewing. Daarmee saam voel hy sterk dat die NG Kerk nog nie na behore die verlede gehanteer het nie. Hy rig die volgende oproep aan die kerk.


Ek het eers getwyfel of ek hierdie in Afrikaans moet skryf, maar toe besluit ek ek moet, want ek vermoed sterk dat Afrikaans die hartstaal is van die mense wat ek die graagste wil hê hier moet lees. 

Hierdie is ’n pleidooi. Dit is ’n pleitskrif, ’n smeking, ’n gebaar van hoop. 

Dit begin met ’n vraag, en die vraag lui so: Het ons – die NG Kerk, haar lidmate, haar leierskap, haar gemeentes en ringe en sinodes en algemene sinode – ons­self al bekeer? 

Ons het, ons het, ons het. Ons het tot bekering gekom op CSV-kampe, by gebedsbyeenkomste en by begeesterde Pinksterpreke en vroue- en mannebyeenkomste waar daar meer mense was as wat jy kan tel. 

Ons het Jesus ingenooi, Hom gekroon, as Koning erken, ons het hande opgesteek, hande in die lug gehou, ons het belowe, ons het gebid en ons het commit

Maar daar is ’n sonde wat ons – die NG Kerk – sukkel om te bely, sukkel om te aanvaar, sukkel om te voel en te verstaan hoekom dit so ’n bitter ding is. 

Dit is apartheid. 

Apartheid was ’n sonde en is steeds ’n sonde. Dis ’n onbelyde sonde, ’n wandaad, ’n wond wat nie aandag gekry het nie. Vir sommige is dit dalk al ’n letsel, ’n merkplek wat herinner aan iets wat gepyn het, onuit­houdbaar seer was maar tog teen alle verwagting in tot ’n sekere mate toegegroei het. 

Of is dit? 

Want waarvan is die afbrekende rasdiskoers (wat verwarrend is, want niemand weet regtig hoeveel mense hoe hatig is teenoor wie nie) tekenend, die simptoom? Is die wond dalk nie toegegroei nie, broei die sweer dalk steeds? 

En as die sweer broei, is daar nog ’n kans op skoonmaak? As die aandag aan die seerplek en gepaardgaande pyn nie te laat is nie, wat moet gebeur? Bestaan daar ’n middel, ’n magiese medisyne wat kan maak dat ons mekaar dalk tog nie vernietig nie? Is daar ’n ma­nier waarop en waardeur die Christelike verhaal (en die NG Kerk) in Suid-Afrika en Afrika en die wêreld gered kan word? 

Daar is. 

Dis bekering. Dis klassieke bekering: omdraai, rig­ting verander, met 180 grade. 

Die draaislag gebeur nie met woorde nie, nie met verklarings en asseblief nie nog vergaderings nie. Dit gebeur met erkenning, erkenning en erkenning: erken­ning dat apartheid onuithoudbaar verkeerd en sonde was.

Saam met die erkenning “own” ons dit dan, ons aanvaar dit as óns wandaad en bly weg van die gerieflike verplasing van blaam. Dit was ons, ons kerk, ons teoloë, ons predikante, ons gemeentes, ons kerkrade, ons ouderlinge, ons diakens, ons streeksinodes en algemene sinode wat dit gedoen het en die Bybel gebruik het om vir mense te sê dis reg, God het dit so gemaak en bedoel (wie is jy om te stry), dit moes en moet so wees, reg van die skepping af, dis die koninkryk. 

Ons het. Ons het so gesê en so gemaak. 

Daarom moet ons nou nie net anders nie, maar anders maak. Net as ons draai, kan ons anders maak. As ons omdraai kan ons anders loop, ander paaie loop, ander teëkom, ander sien, na nuwe plekke gaan. 

Die tyd is nou, ons kan nie wag nie. Daar is ’n venstertjie oop wat dalk ’n deur kan word (hoop ek met my hele hart), daar is ’n kans. 

Ons moet versoen. Ons moet werk aan versoening, ons moet onsself verbind tot versoening. Ons moet weer probeer as dit dalk nie dadelik werk nie, ons moet uitvind hoe as ons nie weet nie.

Ons moet raaksien wanneer ons bekering halfhartig is (want dit gebeur) en nog draai as dit moet. Ons moet vir balans bid, anders gaan ons onsself weer bluf met die idee dat wanneer ons met God versoen is en Hom liefhet, dit genoeg is. 

Dit is nie. 

Kom ons draai.

Hoe?

  • Die NG Kerk het (steeds) ’n tak in elke stad of dorp in SA.
  • As daai plekke reeds as bymekaarkomplek­ke sonder aansiens des persoons gebruik word, doen dit weer en meer.
  • Maak die gedeelde nuwe mensheid in Christus julle sentrale vertrekpunt in elke ontmoeting, as individue of groepe.
  • Wees oop om jou/julle blindekolle te sien wanneer dit by ras, geslag en seksuele oriëntasie kom.
  • Praat oor ras, geslag en seksuele oriëntasie.
  • Vra jou susters en broers in die Here om jou bewus te maak van jou blindekolle, om jou te wys wat jy nie sien nie.
  • Wees bereid om nuwe dinge te sien en nuut te kyk.
  • Reël praatplekke, maar luister meer.
  • Raas saggies met dié wat nie meer wil luis­ter nie.
  • Moenie bang wees jy is (of raak) huma­nisties nie: Christus was ’n mens.
  • Verskerp jou luistervaardighede, herhaal wat jy by die mens voor jou en langs jou hoor.
  • Sê jy is jammer.