Rensburg help mense blom soos kosmos in die herfs

Rensburg is ’n gemeente in Heidelberg in die suide van Gauteng. In hulle gebied is daar baie nood, maar daar het ook ’n groep ontstaan waar daar omgegee word vir mekaar. NEELS JACKSON vertel.


Op die Hoëveld sterf die landskap in die herfs. Wat groen was, word vaal en bruin en doods.

Maar in Maart en April gebeur daar ook iets anders: Die kosmos begin blom. ’n Vrolike uitbars­ting van wit en pienk en donker maroen verskyn in die veld en langs die paaie. Dit bring kleur, dit bring vreugde.

Daarom is dit so gepas dat die Kosmosgroep van die NG gemeente Rensburg in Heidelberg, hierdie naam vir hulleself gekies het. Hulle help men­se om te blom waar dinge vaal is.

Rensburg is ’n gemeenskap waar heelwat arm mense bly. Daar is mense wat net staats­toelae het om van te leef, en daar is men­se wat nie eens staatstoelae het nie.

Party van hulle is lidmate van die NG gemeente. Ander skakel by ander kerke in. En nog ander is heeltemal kerklos.

Die NG gemeente se betrokkenheid by hierdie nood strek lank terug.

Teen 2013 was die gebruik in die gemeente om een maal per maand ’n kospak vir die volgende maand te gaan aflaai by gesinne wat dit regtig nodig het.

Maar toe voel ds Derick Claassens dat hulle eintlik meer moet doen. Mense het immers nie net kos nodig nie. Hulle het ook geestelike en emosionele steun nodig.

Dit is toe dat daar besluit is om ’n steungroep van hier­die mense self te vorm.

Die gedagte was om een maal per maand ’n geselligheid by die kerk te hou. Die mense sou dan hulle kospakke vir die volgende maand daar kry, maar hulle sou ook meer kry. Soos geestelike pitkos.

By dié geleenthede sou mense verhoudings kon smee wat nie moontlik is as jy net een maal per maand by iemand ’n pak kos gaan aflaai nie. In dié verhou­dings sou die gemeente se mense die kans kry om die groeplede beter te leer ken, hulle nood beter te leer verstaan, en om dan te help waar dit regtig nodig is.

Die mense het self besluit om dit die Kosmosgroep te noem, want, het hulle gesê: “Omgee kos mos niks.” En dit was wat hulle wou doen. Hulle wou vir mekaar omgee.

Een van die sleutelmense in die gemeente wat die Kosmosgroep help funksioneer, is Margie Grobler, ’n afgetrede onderwyseres. Om haar is ’n span lidmate wat die Kosmosgroep bystaan en ondersteun. Hulle noem hulleself eenvoudig die helpers van die Kosmosgroep.

’n Trotse Nellie Bronkhorst (regs) met die skinkbordlappie wat sy geverf het. By haar is haar ma, Adri Bronkhorst.

Margie vertel dat sy ná haar aftrede vroue wou help wat swaarkry. ’n Ander gemeente in Heidelberg wat naaldwerkklasse vir huishulpe aanbied, het nuwe naald­werkmasjiene gekry, en die oues toe aan Rensburg geskenk. Toe begin hulle met ’n naaldwerkklas. Dit het een van die eerste aksies van die Kosmosgroep geword.

As die Kosmosgroep een maal per maand by die kerk bymekaarkom, begin hulle met Skriflesing en gebed. Dit is die geestelike pitkos en dit gaan oor in ’n gesprek.

Margie sê sy staan dikwels verstom oor dié mense se geloof, oor die manier waarop hulle te midde van hulle omstandighede vashou aan die Here.

Daarna gesels hulle ook oor praktiese dinge. Een vrou het op ’n dag gevra of hulle ’n kookklas kan begin. So gesê, so gedaan.

By een geleentheid het die gemeente ’n skenking gekry van blikkies mielies. Dit was deel van die maand se kospakke. Op kospakkiedag het Derick toe vir die mense gewys hoe maak ’n mens ’n mielietert. Dis ’n maklike, bekostigbare, voedsame en smaaklike resep wat hulle toe ook saam met die mielies in die kospak gekry het.

Van die vroue bak nou ook al beskuit en verkoop dit vir hul eie wins. Dis nog nie ’n groot wins nie, maar dit groei. Die gemeente bestel van die beskuit.

Derick sê die visie is om mense te bemagtig sodat hulle ’n eie inkomste kan verdien. Hulle mik na werk­skepping.

Susan Brits (links) en Amanda du Toit by die kool in die groentetuin op die kerk se terrein.

Maar daar is van die mense met bitter min lewensvaardighede, mense wat nie weet hoe om kos te maak of hoe om naaldwerk te doen nie. Daar is mense met min goeie skoolopleiding.

Daarom skenk die Kosmosgroep heelwat aandag aan lewensvaardighede. Soms gaan dit oor iets so basies soos hoe om skoon te leef as jy nie duur seep of deodorante kan bekostig nie.

Margie verduidelik dat dit nie so maklik is as jy arm is nie. As jy moet loop waar jy wil wees, dan sweet jy. En as jou groot bekommernis is waar die aandete vir die gesin vandaan gaan kom, dink mense nie meer vanselfsprekend oor persoonlike higiëne nie.

Dis moeilik vir mense in sulke situasies om daaroor te praat, maar soms kom vra van die Kosmoslede, en dan word dit in die groep bespreek en daar word na oplossings gesoek. Daar word ook gehelp met produkte soos toiletpapier en sanitêre doekies.

Nog ’n manier hoe die Kosmosgroep mense help, is die kunsklas wat deur Amanda du Toit, een van die Kosmosgroep-helpers, begin is. Daar kyk hulle byvoorbeeld wat hulle uit weggooigoed kan maak. Hulle het dinge gedoen soos om margarienbakkies met lap oor te trek.

In die proses, vertel Amanda, ontdek mense hulle eie kreatiwiteit en dan begin hulle eie mens­waardigheid ook optel.

Sy vertel van Nellie wat 23 jaar oud is maar nie kan lees nie en nie met ’n naaldwerkmasjien kan werk nie. Maar toe Susan Brits, nog een van die helpers, vir hulle lapverf laat doen, toe verf Nellie die mooiste skinkbordlappie.

Kosmos bring ’n skouspel van kleur in die herfs op die Hoëveld.

Nellie is nie ’n spraaksame mens nie, maar haar gesig blom as sy die komplimente oor haar lappie hoor. Amper soos die vrolike kosmos in die herfs.

Maar dis die naaldwerk wat sover die meeste sukses behaal het.

Margie noem ’n rits dinge op wat lede van die Kosmosgroep al geleer doen het. Hulle kan gordyne maak en hulle kan tafeldoeke maak. Hulle kan klere verstel. Hulle kan langbroeke korter maak en hulle kan ritssluiters vervang. Hulle maak vir hulleself klere.

Twee lede van die groep doen nou kwiltwerk. Hulle het begin om vir iemand werk op T-hemde en op babaklere te doen. En dit lyk of dit werk gaan wees wat gaan hou. Dit is die soort werkskepping wat hulle uit die Kosmosgroep wil laat voortspruit.

Derick vertel dat hulle al ’n kontrak gehad het om die weerkaatsende strepe op oorpakke vas te werk. Toe het die men­se van die Kosmosgroep die kerksaal vol gesit en werk. Diegene wat dié werk gedoen het, het sowat R1 000 per maand verdien. Ongelukkig was dit ’n kontrak wat na ’n tyd uitgeloop het, maar dit het gewys hoe die kerksaal in ’n soort fabriek omskep kan word as die geleentheid daar is.

Onlangs het hulle vir Tutela, die maatskaplike diensorganisasie binne die Hoëveldsinode, ’n laslapgordyn gemaak vir ’n vlot wat aan ’n parade van hulporganisasies deur Heidelberg se strate sou deelneem.

’n Ander projek wat die Kosmosgroep aangepak het, is ’n groentetuin op die kerkterrein. Selfs in die middel van die winter pryk daar koolkoppe van formaat. Maar daar was ook al ander groente soos rape en spinasie.

Die Kosmoslede werk in die tuin en kry groente uit die tuin. En hulle het al geleer hoe om van gerasperde rape ’n lekker slaai te maak of hoe om skyfies van rape te maak.

Daar was by geleentheid ook al ’n veearts om na van die Kosmoslede se diere om te sien.

As daar iemand van hulle swanger raak, hou die Kosmoslede vir die voornemende mamma ’n babatee. En die Kosmoslede dra self by vir die geleentheid, al is dit net ’n koekie seep.

Daar was ook al ’n troue tussen twee van die Kosmoslede. Vir hulle is daar ’n mooi onthaal in die kerksaal gehou. Op sulke maniere word daar waardigheid aan mense gegee.

Die lys van die Kosmosgroep se aktiwiteite is lank. Daar is ’n jaarlikse Kerspartytjie. Met Vroue­dag was daar ’n funksie waar die Kosmosvrou van die Jaar gekies is. Daar is ’n klerebank. Boonop het Tutela hulle ringskantoor na Rensburg toe geskuif.

By al hierdie aktiwiteite is die gemeente betrokke. Vir hulle is dit ’n geleentheid om te gee en te dien.

Vroeër, sê Derick, is hulle kerk se gebou net op Sondae gebruik. In die week het daar niks gebeur nie. Maar nou is daar gedurig iets aan die gang. En die lidmate het so betrokke geraak, dat hy nie eens weet wat alles gebeur nie. Soms kom hy maar net by die kerk en sien daar is iets aan die gebeur waarvan hy niks weet nie.

En dit is goed so. Dis hoe dit moet wees in ’n gemeente wat omgee.

Die Wyse Uiltjies ontwikkel mooi

uite Rensburg se kerksaal, gly ’n klompie kleuters een na die ander teen ’n glyplank af. Hulle is die Wy­se Uil­tjies van die kleuterskool met dié naam wat begin vanjaar by die kerk begin is.

Aan die stuur van sake is Alet Williamson, ’n afgetrede kleuterskooljuffrou. Sy werk as vrywilliger, sonder salaris. Maar, sê sy, dit gee haar rede om soggens op te staan. Dit maak haar lewe sinvol.

Saam met haar werk daar twee dames uit die Kosmosgroep. Hulle kry ook nie salaris nie, maar kry wel ’n weeklikse kospak.

Die gemeente het heelwat bygedra deur skenkings om dit alles moontlik te maak.

Die wyse uiltjies gly by die glyplank af. Regs is Alet Williamson, die skoolhoof.

Die kinders kom uit huise wat nie vir ’n kleuterskool kan betaal nie. Dit is moeilike omstandighede wat hulle merk op die kinders laat. Daar is maatskaplike probleme en daar is gesondheidsprobleme.

Die Kosmos-helpers het nou al gereël dat een kind met ernstige voetprobleme, mediese hulp daarvoor sal kry. Nog een se oogprobleem kry ook aandag.

Emosionele probleme maak dat kinders moeilik inskakel. Alet vertel van ’n kind wat so getraumatiseer is, en net skree en klap. Maar mettertyd kalmeer so ’n kind, hulle wen die kind se vertroue en hy sy of sy begin veilig voel. En, indien nodig, word die maatskaplike werker se hulp ingeroep.

Die kinders leer vaardighede aan wat hulle nie tuis sou kry nie, maar wat op skool onontbeerlik gaan wees, soos om te teken en legkaarte te bou. Hulle blom soos die kosmos in die herfs. Alet is vol vertroue dat hulle skoolgereed sal wees wanneer hulle skool toe gaan.

Vir hierdie kinders word ’n fondament gelê waarop hulle sou kon voortbou sodat hulle bokant hulle omstandighede kan uitstyg.

En, soos Derick sê, as hulle hierdie kinders uit die siklus van armoede kan uitruk, is dit nie net die kinders wat hulle red nie, maar vir elkeen van hulle ook ’n hele nageslag.