Dit is lente

In die lente eggo die natuur ’n sentrale motief van die Christelike geloof: nuwe lewe.

Jesus Christus het opgestaan uit die graf. Hy het die dood oorwin. Hy het nuwe lewe moontlik gemaak waar daar sterfte was.

Maar ons sien nuwe lewe nie net in die opstanding nie. Dit deurtrek die hele evangelie.

Waar Jesus gegaan het, het Hy nuwe lewe gebring: in oë wat nie meer kon sien nie, in bene wat nie meer kon loop nie, in ’n hand wat gebreklik was.

Ons hoor hoe Hy vertel van nuwe lewe vir ’n verlore seun wat tuis kom na ’n ruimte toe waar hy kan blom, nadat hy weggeloop het en beland het op ’n plek waar hy besig was om te vergaan.

As Jesus roep “Volg my!” dan is dit ook ’n oproep aan sy kerk om lewe te bring waar daar dood is.

Dit gaan saam met die oproep om bekering van lewenswyses wat dood bring, maar dit gaan ook veel verder. Dit gaan ook oor die praktiese betoning van liefde, soos dié van die Samaritaan teenoor die man wat deur rowers verrinneweer is. Dit gaan ook oor geregtigheid teenoor die weduwees en die wese, die minstes in die samelewing.

In die NG Kerk is daar ’n groeiende bewuswording van hierdie missionale roeping.

Die verhaal van Willem se Speelplek illustreer iets daarvan. Toe Willem Janse van Rensburg begin om vir ander nuwe lewe te bring, toe kom daar ook nuwe lewe vir homself.

As die NG Kerk die roeping om draers van God se liefde te wees, goed hoor en goed daarop reageer, kan dit ook lente, ’n tyd van nuwe lewe, word – vir diegene aan wie die kerk God se liefde bring, maar ook vir die NG Kerk self.