In die spanning tussen hoop en wanhoop

FIRST REFORMED (2017)
Genre: Drama
Resensie deur Nathania Hendriks


Die film First Reformed, geredigeer deur Paul Schrader (Taxi Driver), met Ethan Hawke in die hoofrol, vertel die verhaal van die predikant van die eerste Gereformeerde kerk in ’n klein dorpie naby New York.

Die predikant, Toller (Hawke), word gekonfronteer met sy eie pyn en die donker werklikheid van sy lewe. As deel van sy worste­ling begin hy om ’n joernaal te skryf. Die stryd om oor die dood van sy seun, die einde van sy huwelik en ernstige gesondheidsprobleme te kom, bring Toller tot ’n konfrontasie wat hom die rol en invloed van die kerk in die samelewing, asook geloof self, laat bevraagteken.

Hierdie rolprent daag ’n mens uit om jou geloof en geleefde erva­ring in ’n wêreld wat onder die onderdrukking van die mensdom ly, te evalueer. Dit vra die vraag: “Sal God ons vergewe vir wat ons aan die wêreld gedoen het?” En ’n mens kan daardie vraag uitbrei na die mensdom. Sal God ons ver­ge­we vir wat ons aan mekaar doen? Hier­die fliek bly in die spanning tussen hoop en wanhoop, sonder om die werklikheid van die stryd te verontagsaam. Dit is ook sensitief vir die kerk en hoe die kerk met “in die wêreld, maar nie van die wêreld” worstel.

First Reformed gebruik die apo­­kaliptiese genre, maar in plaas daar­van om die einde van die wêreld te beklemtoon, soos die meeste rolprente van hierdie genre, vra dit van ons om ’n wêreld met hoop voor te stel, te beliggaam en om vir Christus daarin te vind.

Hierdie rolprent trek jou in met die skerp kinematografie, die dramatiese musiek en die identifiseerbare emosies van die karakters. Dit is geskik vir alle ouderdomme, maar verkieslik in ’n groep, ter wille van refleksie. Dit skep ’n ruimte vir gedeelde refleksie en me­ditasie wat spesifiek fokus op die aspekte van geloof en die spanning wat tussen hoop en wanhoop gevind word.

Nathania Hendriks is ’n MDiv-student aan die Universiteit Stellenbosch.