Godgesentreerd, of selfgesentreerd?

Omstandighede in ons kerk stel groot uitdagings aan ons. Gemeentes dink al hoe meer aan hulleself en hulle eie oorlewing. Dit is vir hulle moeilik om hulleself te sien as deel van ’n groter geheel.

Uit vraelyste wat ons van gemeentes in die Vry­staat terug ontvang het en met die byeenkoms vir rings­kommissies in Julie vanjaar, het ons gehoor dat finansies, die tydsgees en ons geskiedenis tot die huidige situasie bygedra het.

’n Simptoom van ons situasie is dat baie gemeentes, na-binne-gerigte gemeentes geraak het wat die plaaslike gemeente as die enigste vergestal­ting van die kerk sien. Vir gemeentes wat in ’n oorlewingstryd is, is dit moeilik om hulle missionale karakter te verstaan waar dit juis oor die breër verstaan van ons roeping gaan: die roeping om te fokus op die wêreld en die mense wat buite die kerk staan.

Daar is een saak waaroor ek die afgelope tyd nagedink het en dit is die vraag of ons Godgesentreerd dink en of ons selfgesentreerd dink. Wanneer dit goed gaan, meen ons dat dit deur ons toedoen gekom het. Ons ontwikkel dikwels in die proses ’n vals selfvertroue. Ons val op ons eie planne terug.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Selfgesentreerdheid het ook ’n ander kant. Die Here kom na ons toe omdat Hy ons by sy werksaamhede wil inskakel, maar ons kan so teen onsself vaskyk en met verskonings kom soos: “Ek dink nie ek kan nie …”; “Ek is nie opgelei daarvoor nie …” God weet ons kan nie, maar dit beteken nie dat Hy nie kan nie.

Gemeentes kan in dieselfde slaggat trap. God roep ons omdat Hy ’n plan met ons het, maar ons kan ook maklik sê: “Ons het nie die hulpbronne nie …”; “Ons kan nie dit ook nog inpas nie …”; “Ons kan nie dit ook nog van ons mense verwag nie …” En dan natuurlik die mees algemene een wat ons hoor: “Ons kan dit nie bekostig nie.”

Al hierdie dinge is simptome wanneer ons selfgesentreerd lewe. As ons oortuig is dat ons daar is waar God wil hê ons moet wees; besig met die dinge waarmee Hy wil hê ons moet besig wees, moet ons Hom vertrou dat Hy sal voorsien.

Ons haal maklik ons oë van God af. Dan sien ons al die swaar en ons tekortkomings en meen ons dat ons nie kan doen wat God moontlik oor ons pad gestuur het nie.

Ons lees in Psalm 81 dat Israel presies dieselfde gedoen het. Wanneer hulle op hulle pad sou terugkyk, sou hulle al die bakens raakgesien het wat die getuienis dra van God se voorsiening. By wyse van terugskoue sou hulle sien: “In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered” (vers 8). Nou is hulle weer in nood en God tree na vore as die Verbondsgod: “Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het” (vers 11). En dan moet ons die volgende woorde nie mislees nie: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.”

Dr Pieter van Jaarsveld is moderator van die NG Kerk in die Vrystaat.