Groot ‘gaping’ tussen ons en die Skrif?

In die vyfde aflewering van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele sake se reeks oor die NG Kerk se vertolking van die Bybel, skryf DR PIETER VAN DER WALT, in oorleg met die lede van die taakspan, oor die historiese karakter van die Bybel.


Ons hoor onder leiding van die Heilige Gees en in gemeenskap met mekaar die Skrif as God se lewende Woord. Hierdie oortuiging is hel­der verwoord deur die Algemene Sinode, onder andere in Skrifgebruik en Skrifgesag (2004).

Dit beteken dat ons die Skrif as die lewende God se Woord aan ons adres hoor, ontvang en daarmee omgaan in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar in die verwagting dat ons in en deur die lees en interpretasie van die Skrif die openbaring van Godself en van God se wil vir die lewe ontdek.

Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van verantwoordelike interpretasie van die Skrif. Ons moet in ag neem dat die Bybel ’n historiese karakter het. Dit het in spesifieke tydperke ontstaan. Daarom die voortdurende soeke na die beste metodes vir Skrifuitleg.

Dit wil nie sê dat slegs teologies geskoolde mense die Bybel se boodskap kan hoor nie. Die hele gemeente bid vir die leiding van die Heilige Gees en vir begrip en fyn aanvoeling om te kan onderskei waarop dit aan­kom (Fil 1:10; Rom 12:2). As “boek van die kerk” kan die Bybel alleen verstaan word binne die konteks van die geloofsgemeenskap. God het sy Gees nie net aan teoloë gegee nie, maar aan die kerk. Die kerk kan oordeel of hulle in die uitleg van die Bybel die Gees van die gekruisigde en opgestane Here hoor. ’n Lewe van afhanklikheid, gebed en bereidheid om te luister, is onontbeerlik vir die be­studering van die Bybel. Kerk en teologie het mekaar nodig en moet in gesprek bly met mekaar.

Teoloë moet die kerk onder andere deur navorsing oor die “wêreld agter die teks” help met die vertolking van die Bybelse boodskap. Ons moet onthou dat God, soos Willie Jonker dit stel in Die Woord as opdrag, dit goedgedink het om in die loop van die geskiedenis aan ons bekend te word. Die Bybelse boodskap was altyd gerig aan ’n bepaalde adres: aan mense van vlees en bloed wat God se Woord vir hulle eie situasie verstaan. Alle gedeeltes van die Bybel het ’n duidelike tydsbetrokke karakter.

Daar is wel ’n groot verskil tussen tydsbetrokkenheid en tydsgebondenheid. Die Bybelboodskap is nie tydsgebonde nie. Die Sinode sê in Skrifberoep in etiese sake (1990) die teks is “nie opgesluit binne die konteks van destyds” nie. Die teks het wel konkreet geword in spesifieke kontekste van destyds en “sweef” dus nie “bo die werklikheid” nie. Maar die boodskap daarvan geld ook in ander tye. Ons word steeds aangespreek wanneer God deur die woorde van die apostels en die profete met ons praat.

Dit sou ook soos volg gestel kon word: Die Bybel is nie net een keer deur die Heilige Gees geïnspireer nie. Die Bybel bly die boek van die Heilige Gees wat nog steeds en voortdurend, waar en wanneer dit die Gees behaag, deur die Bybelwoord só tot ons spreek dat ons soos profete en apostels óók kan sê dat die Woord van die Here tot ons gekom het (Jonker).

Baie vind dit vandag moeilik om die gesag van die Bybel vir die lewe in die 21ste eeu te aanvaar. Die afstand in tyd is vir hulle net té groot en die wêrelde waarin die Bybelboeke ontstaan het is net té vreemd. Ons kan egter in gedagte hou dat mense uit verskillende tye en kulture nie totale vreemdelinge vir mekaar is nie. Ons herken mekaar oor tydperke en kulture heen as medemense. Die eendersheid van mense is veel meer opvallend as hulle andersheid; ons deel in dieselfde sonde, skuld, nood en dood. Die Bybelbood­skap bly aktueel vir elke tyd.

Ons moet wel rekening hou met goeie uitlegkundige reëls. Dit is nie goeie Skrifhantering om op die klank af ’n willekeurige beroep op Skriftekste te doen om jou standpunte te bewys sonder om die geheel van die Skrif en die agtergrond van die tyd en situasie waarin dit geskryf staan in ag te neem nie. Mense wat die Skrif so hanteer, maak in elk geval gewoonlik selek­tiewe keuses en ignoreer die res van die Bybel. Hulle gee voor dat hulle na die Skrif alleen wil luister, maar heers eintlik self oor die Skrif. Daarom verklaar die Sinode van 2002 “dat ons met God in aanraking kom deur middel van die geskiedenis wat Hy met die mense gemaak het soos deur die Skrif vertolk.”

Die heel kortste samevatting van hierdie geskiede­nis is die Triniteit. God daal neer tot by ons en binne ons. Alles in die Skrif draai om hierdie geskiedenis. As dit nie so was nie sou die Bybel meer verse as net ses aan koning Omri afgestaan het (1 Kon 16:23-28). Omri was menslik gesproke een van die belangrikste ko­nings. Israel is geken as “die land van Omri”. Dit gaan egter vir die Bybelboodskap nie in die eerste plek oor wat mense in die geskiedenis gedoen het of wat ons moet doen nie, maar oor wat God vir ons doen.

Die Skrif is getuienis “oor die groot dinge wat God gedoen het” (Hand 2:11). Omdat ons God so ken, kan ons leef met ’n hoopvolle verwagting.