In die koninkryk van God is almal familie

Die waardes van die koninkryk van God wat Jesus verkondig het, was lynreg teenoor dié van sy tyd.

In die eerste-eeuse Mediterreense wêreld was alle sosiale interaksie volgens antropoloë op die beginsel van wederkerigheid gebaseer. Wederkerigheid was ’n implisiete sosiale kontrak wat tussen mense bestaan het wat bepaal het hoe hulle mekaar hanteer en by­staan.

Tussen familielede is goedere en hulp vrylik gegee sonder om iets terug te verwag. Ouers sou byvoorbeeld hulp aan hulle kinders gee sonder om te verwag dat hulle iets sou terugontvang (Matt 7:11).

Binne die groter stam waaraan mense behoort het, is daar weer ’n streng balans tussen gee en ontvang gehandhaaf wat as gebalanseerde wederkerigheid be­skryf kan word. Hiervolgens moes almal in die stam ontvang waarop hulle geregtig is (Matt 10:10).

Teenoor enige persoon wat egter nie aan jou stam behoort het nie, is negatiewe wederkerigheid beoefen deurdat hulle selfs gekul kon word in handelstransaksies (Luk 10:30).

In die wêreld van Jesus is dus altyd gevra wie is iemand in terme van hulle sosiale herkoms. Is hulle vreemdelinge en daarom buitestanders, of stamgenote en selfs familielede?

Waar daar in die geval van positiewe wederkerigheid soos teenoor eie kinders gefokus is op die behoef­tes van die ander persoon, staan eie behoeftes voorop by negatiewe wederkerigheid. In die geval van geba­lan­seerde wederkerigheid is weer ewe veel gewig aan beide partye se belange verleen.

Dit is daarom insiggewend dat wanneer Jesus praat oor God se koninkryk en die deelgenote daarvan Hy hulle beskryf as mekaar se nuwe familie (Mark 3:31-35). Die verwysing na gelowiges as “broers” en “susters” is dan ook die algemeenste aanspreekvorm van medegelowiges in die Nuwe Testament (Matt 18:15; 28:10).

Hulle status as familielede impliseer dat hulle mekaar met ’n positiewe wederkerigheid moet hanteer. Die behoefte van die ander broer of suster moet eerste kom in sosiale interaksies.

Die kerk in Jerusalem leef dan ook soos een groot familie deur alles te deel volgens die behoeftes van elk­een (Hand 4:32). In Romeine 12:9-21 spel Paulus verder uit net hoe radikaal die koninkryk van God sosiale grense en daarmee saam ons omgaan met mekaar geskuif het.

Nie net moet medebroers en -susters met liefde on­dersteun word nie (vers 13) maar selfs vyande (vers 14). Gelowiges moet ten alle tye goedgesind wees aan alle mense (vers 17).

In die koninkryk van God word mense nie georden en dan verskillend hanteer nie. In die koninkryk van God is almal familie.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.