Die fietswiel maak Filippense oop

CHRISTUS BLY ONS HOOP
Deur Herman Breytenbach
Uitgewer: Christelike Lektuurfonds, 2018

Resensie deur Tielman Roux


Fietsry is deesdae ’n groot ding. Maak nie saak waar jy jou bevind nie, van die grootste stede tot die kleinste gemeenskappe, daar is fietsryers. Breytenbach se Christus bly ons hoop is ideaal vir groepstudie en bespreking, veral in ’n fiets­ryklub in jou gemeente – of dit kan ’n goeie rede wees om een te begin.

Breytenbach gebruik die metafoor van ’n fietswiel om die brief van Paulus aan die moderne leser te ver­duidelik.

In ’n aangrypende inleiding met die konteks van Filippi en die tyd waarin die brief geskryf is, bring hy die konteks van die verlede en die hede bymekaar. ’n Mens besef vinnig dat dinge soos korrupsie, diskriminasie, maghebbers, sosiale ongeregtigheid en ’n land met vele gelowe nie nuwe verskynsels is nie. Die brief kan vir gelowiges antwoorde gee oor hoe om vandag as gelowige te leef.

Die boek lei die leser tot geloofsvrae soos “Waarheen is ek op pad?”, “Waaroor gaan ware aanbidding?” en “Waaroor gaan my lewe?” Dit bevat treffende verduidelikings oor lyding, blydskap en eens­gesindheid, wat veral waardevol kan wees vir ’n gemeente wat verdeeldheid beleef. Dit lees gemaklik, is verstaanbaar en gee wenke tot geloofsgroei.

Weens my persoonlike voorkeure het nie alle dele van die boek my ewe veel geïnteresseer nie, maar vir die gelowige wat nie baie kennis het van Paulus en sy teologie nie, sal hierdie studie ’n waardevolle bron wees. Ook vir die gelowige wat lief is vir Paulus se briewe, sal die studie bydra tot ’n herwaardering van die brief se inhoud.

Ek sal die boek aanbeveel vir enige iemand wat ’n studie oor Filippense wil doen en veral fietsryers aanmoedig om dit saam te lees, want saam sal julle leer wat die as (kern) is waarom die wiel (geloof) draai, julle sal leer om fiks (groei) te word en fiks te bly in die geloof.

▶ Ds Tielman Roux is leraar by die NG gemeente Hendrina, met ’n passie vir Ukuba – ’n welsynsprojek vir vroeëkinderontwikkeling.