‘Exorcist of Apartheid’ dra ’n boodskap van versoening

’n Dokumentêr, Exorcist of apartheid, wat oor die lewe en boodskap van versoening van Johan Heyns handel, is onlangs in Johannesburg en Kaapstad bekendgestel. Die vervaardigers van die dokumentêr is Adam Heyns en Willem van den Heever. JACOBIE M HELENA het met hulle gesels.


“My oupa was ’n man wat tydens ’n besonders moeilike tyd in ons land ’n baie belangrike rol gespeel het en die hoogste prys daarvoor betaal het.” Só sê Adam Heyns, die kleinseun van prof Johan Adam Heyns, wat in November 1994 in ’n sluipmoordaanval vermoor is.

Johan Adam Heyns is in 1928 in Tweeling-distrik gebore. Hy het ’n BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit voltooi en het daarna teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy was onder andere klasmaats van Willie Jonker, David Bosch en Nico Smith.

Heyns het sy doktorsgraad aan die Vrije Universiteit van Amsterdam onder die leiding van prof GC Berkouwer voltooi. As predikant van die NG Kerk het hy in sy leeftyd by die NG gemeentes Ysterplaat en Rondebosch bedien. Hy het daarna in 1966 by die Universiteit van Stellenbosch begin doseer. Heyns is in 1971 by die Universiteit van Pretoria as professor in dogmatiek en etiek aangestel.

Heyns het nie net op akademiese gebied óf in die praktyk ’n invloedryke rol gespeel nie, maar het op beide gebiede deur sy lewe belangrike rolle vertolk. Hy is bekend vir veelvoudige akademiese publikasies, maar hy is verál bekend vir sy betrokkenheid as kerkleier in die NG Kerk. Hy was moderator van die Noord-Transvaalse streeksinode en het ook van 1986 tot 1990 as moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien.

’n Berig uit die Cape Times net ná die verkiesing van prof Johan Heyns as moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode in 1986.

Die NG Kerk was tot die jare 1980’s bekend daarvoor dat hulle op morele en teologiese vlak apartheid ondersteun het. Johan Heyns het in 1980 vir die eerste keer op ’n publieke forum sy teenkanting van die NG Kerk se ondersteunende standpunt van apartheid uitgespreek. Hy het óók ’n invloedryke rol gespeel in die totstandkoming van die beleidsdokument Kerk en samelewing, waarmee die NG Kerk begin het om sy rug op apartheid te draai. Die eerste weergawe van dié dokument is in 1986 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar. Die besluit van die Algemene Sinode het daartoe gelei dat duisende NG lidmate uit protes die kerk verlaat het en die Afrikaanse Protestantse Kerk gestig het. Heyns word ook onthou vir sy preek op Geloftedag in 1988.

Proff Conrad Wethmar en Cas Vos skryf in 1988 in die voorwoord van Heyns se feesbundel, ’n Woord op sy tyd, dat Heyns ’n besonderse brugbouer was. Hy het nie net as akademikus die gawe gehad om brûe te bou tussen die teorie en praktyk nie, maar het in sy leeftyd ook brûe tussen mense en groepe van diverse standpunte, wat meestal teenoor mekaar gestaan het, gebou.

Dertig jaar later haal prof Piet Meiring vir Heyns aan waar Heyns homself as ’n brugbouer beskryf: “As jy ’n brug probeer wees, moet jy verwag dat mense oor jou gaan loop. Hulle gaan op jou trap! As dit nie gebeur nie, is jy nie ’n effektiewe brug nie,” het Heyns gesê.

Johan Heyns was op die aand van 5 November 1994 besig om met sy vrou en drie kleinkinders kaart te speel. Hy is toe, terwyl sy vrou en kleinkinders rond­om hom gesit het, deur ’n sluipmoordenaar doodge­skiet.

Dié storie van prof Heyns is vir Adam ’n persoonlike storie. En dit het hom daarby gebring om die dokumentêr te maak.

“Ek het nog altyd van die legende van my oupa gehoor, maar ek het eintlik min geweet. Ek was moeg vir advertensies maak en fiksie versprei. Ek was op soek na iets ég. Ek het in ’n stadium met my eie ‘white privilege’ begin geworstel en worstel steeds daarmee. Ek het die behoefte ontwikkel om uit te vind waar ek vandaan kom.

“Dié dokumentêr het net soos die regte ding gevoel om te doen. Ek wou aanvanklik met die dokumentêr ondersoek instel oor wie my oupa vermoor het. Ons het met ’n paar groot geeste, soos FW de Klerk, Pik Botha en my ouma Renée Heyns, gaan praat. Die beeld­materiaal was oorweldigend en hoe meer ek afgeneem het, hoe meer deurmekaar het dit my laat voel.

Prof Johan Heyns in sy studeerkamer.

“Maar tóé gee my ouma vir my die boks met die VHS-kassette. Ek het besef my oupa se hele storie is in dáárdie boks en dís waar ek moet begin,” vertel Adam.

Willem is ook op ’n unieke manier aan die storie van Johan Heyns gekoppel: “Adam het ’n paar jaar gelede vir my die storie van sy oupa vertel. Hy het genoem dat hy besig is met navorsing oor sy oupa en dat hy dit moontlik in ’n dokumentêr wil verwerk. Ons is albei in die filmbedryf en ek het onmiddellik belang gestel om by die projek betrokke te raak.

“Ek het van my kant af uitgevind dat my pa vir prof Heyns goed geken het en selfs by hom klas gehad het. Ek het my pa oor prof Heyns uitgevra en hom van die projek vertel. Die projek het stilgestaan en ek het Adam begin moed inpraat om dit af te handel.

“Ek was kort daarna vir twee maande in die buiteland. In dié tyd het Adam dit oorweeg om van Gau­teng na Kaapstad te verhuis en het in daardie tyd by my ouers loseer. Interessant genoeg is my pa, dr Johan van den Heever, tans predikant in NG gemeente Rondebosch waar Adam se oupa ook destyds predikant was. My ouers woon in dieselfde pastorie waar hy jare lank gewoon het en waar Adam se pa grootgeword het. Die verwikkelinge het weer vuur in die projek geblaas en ek is dankbaar dat ek as medevervaardiger die projek kon help afhandel,” vertel Willem.

Adam brei uit: “Ek het nooit my oupa werklik geken nie, want hy is dood toe ek vyf jaar oud was. Dit was daarom vir my belangrik om, met die vervaardi­ging van die dokumentêr, met hom kennis te maak. Dit was vir my verstommend om my oupa op die skerm te sien leef en praat toe ek die eerste VHS-kasset in my woonstel in Hillbrow gekyk het – veral sy preek op Geloftedag in 1988.”

Dié dokumentêr se boodskap is beslis vir die ouer én jonger generasies. Adam merk op dat baie ouer mense in die kerk sy oupa nog sal onthou en dat dit vir hulle waardevol sal wees om die boodskap van versoening wat sy oupa gepreek het, opnuut 30 jaar later, te hoor.

Willem vertel dat hulle met die dokumentêr spesifiek óók vir jong mense meer van die geskiedenis wil leer. “Ons wou spesifiek die kern van die boodskap van versoening aan veral die jonger ‘no-care’-geslag kommunikeer en hulle weer geïnteresseerd in ons geskie­denis kry. Ons hoop die dokumentêr sal vir jonger mense perspektief gee oor hoekom ons, as ’n land, is waar ons vandag is. Ons sal vir die jonger gene­rasie meer lig wil werp op waardeur ons in die land gegaan het en dat ons ten spyte hiervan wél beter af is.

“Dié dokumentêr wil vir mense wys dat daar tog helde was wat sáám met Nelson Mandela en Desmond Tutu vir ’n beter Suid-Afrika geveg het. Dit laat ’n mens dan ook met die vraag oor waar ons helde van­dag is. Waar is die helde wat alles opgeoffer het? Waar is die mense wat selfs hul lewe vir ’n beter toekoms sal prys gee?” vra Willem.

Hulle hoop dat die boodskap van versoening deur die dokumentêr gesien kan word en dat dit vrae by mense sal wakker maak. Willem brei uit: “Ek hoop mense begin met nuwe oë na ons land en medemense kyk. Mag die dokumentêr mense saam in ’n vertrek kry om ongeag hulle geloof, ras of ouderdom met mekaar te kan praat, vrae te vra en dalk selfs begrip by mekaar te ontwikkel. Ons hoop is dat die dokumentêr positiwiteit by mense sal kweek.”

’n Spotprenttekenaar van The Daily News se indruk van die hervormingsrol wat prof Johan Heyns destyds gespeel het.

Willem kon deur die vervaardigingsproses van die dokumentêr die evangelie van versoening by prof Heyns sien. “Ek dink die kernvisie waarvoor die ‘vryheidsvegters’ soos Mandela en Tutu gestaan het, was versoening. En ongeag prof Johan Heyns se uitsprake oor die NG Kerk en sy eie mense, wat hy kon sien besig was om verkeerd op te tree, kon ek steeds die boodskap van versoening by hom sien. Een van die eerste dinge wat sy familie hulleself oor uitgespreek het na sy moord, was dat hulle geen wraakgevoelens koester teen­oor die moordenaar nie en dat hulle met hom wil versoen,” sê Willem.

Exorcist of apartheid het ook ’n belangrike boodskap binne én buite kerke vandag. Willem vertel: “Ek dink dit is belangrik dat dié boodskap van versoening binne en buite die kerk gewys word. Ons wil nie net vir die koor preek nie.

“Máár as ek uit my eie ervaring praat, het ek self nie belydenis in die NG Kerk afgelê nie. Ek het al oor ’n bestek van ’n paar jaar reeds probleme met van die doen en late van die NG Kerk. Dit is die kerk waarin ek grootgeword het. Dit het vir my begin voel dat die NG Kerk besig is om die pot mis te sit en die kern van wat ’n kerk moet wees begin vergeet het. Béslis as dit by veroordeling kom.

“As ons kyk wat die laaste paar jaar rakende die gay-debat aangaan, dink ek dis nie veel anders as die apartheiddebakel destyds nie. Dit lyk tóg of die NG Kerk maar net weer dieselfde foute maak.

“Juis dáárom dink ek dis belangrik dat hierdie dokumentêr in die NG Kerk gewys word, want daar kan baie van versoening geleer word. Ek wonder wat sou iemand soos prof Johan Heyns vandag gesê het? Sou prof Johan Heyns, die sogenaamde ‘meneer NG Kerk’ nog in die NG Kerk gewees het?” vra Willem.