Het ons die spoor byster geraak?

Bybelse mense was pre-industriële, veeteelt-landbou, groep-georiënteerde Oosterlinge wat hulle aan die verlede georiënteer het. Alles draai om die oorlewing, voortbestaan en harmonie van en in die groep. In-groep en uit-groep en die waar­des eer-skaamte, beperkte goedere, “evil eye” en rein-onrein speel ’n baie belangrike rol.

Ou-Testamentiese bepalings, voorskrifte en “wette” was bedoel om die oorlewing van die groep te verseker en vreedsame naasbestaan moontlik te maak. So kon lewe gedy en word God geëer. “Beperkte goedere” is die oortuiging dat God alles geskep het en aan elkeen ’n deel gee. Niks van wat jy ontvang het durf verkwis te word nie, want dan verloor die groep en word sy voortbestaan bedreig. “Rein-onrein” het verseker dat alles wat God geskep het ’n geskikte plek het en dat die grense van plek nie oorskry word nie. Wanneer mense en dinge in plek is, beleef ’n groep vrede.

Deur kinders te hê binne ’n verhouding waarvan die gemeenskap getuie is dat dit geldig is, is die voortbestaan van en harmonie in die groep verseker. Deur manlike saad op enige ander plek as in ’n geslagsryp vrou se liggaam te stort, is die voortbestaan van die groep bedreig, want God het aan elkeen slegs ’n beperkte hoeveelheid saad gegee.

Ons is na-Aufklärung, individualistiese, introspektiewe, kapitalisties-gedrewe en toekomsgeoriënteerde tegnokratiese Westerlinge wat streef na persoonlike selfverwesenliking. Individuele regte staan voorop, solank dit nie inbreuk maak op die welwese van die ander en die gemeenskap nie. Wat ons betref is alles in onbeperkte maat beskikbaar, daarom doen ons byvoorbeeld gesinsbeplanning. Seks speel by ons ’n meer omvattende rol as bloot voortplanting. Ons kategoriseer dinge anders en waar ons dít wat oënskynlik nie by mekaar pas nie, bymekaar kan bring word dit eer­der as innovasie en vooruitgang gesien.

Vandag het gelowiges steeds die roeping om lewe te koester en vreedsame naasbestaan te verseker. Wanneer gelowiges so leef, beleef mense dat God ons die lewe in oorvloed skenk.

In dié lig is dit verbysterend dat soveel tyd, energie en hulpbronne in ons kerk tans deur ’n onverkwiklike konflik oor die vraag of die Here se seën op selfdegeslagverhoudings rus, opgeslurp word. Terwyl ons land ekonomies, polities, sosiaal en kragtens medemenslikheid steier, gaan sommige in die kerk aan asof twee mense wat in ’n selfdegeslagverhouding leef, die voortbestaan van die menslike spesie en vrede in ons land bedreig.

Dit terwyl ’n dogtertjie deur ’n man in ’n veilige ruimte verkrag word. Lewens is deur een daad verwoes, dit skeur ons brose gemeenskap verder uitmekaar en dit maak ’n bespotting van Genesis 2 wat getuig dat die mens geskep is as mekaar se helpers en gelykes.

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.