Hoe gebruik ons die Bybel vir etiek?

In die laaste aflewering van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake se reeks oor hoe die NG Kerk die Bybel verstaan, skryf DR PIETER VAN DER WALT, in oorleg met die lede van die taakspan, oor hoe die Bybel in etiese vraagstukke gelees moet word.


Die Algemene Sinode het in 1986 ’n duidelike gemeenskaplike Skrifbeskouing aanvaar. Dosente van die drie teologiese fakulteite is vooraf geraadpleeg en die verslag is met instemming aanvaar.

Dieselfde Sinode het egter gevra dat daar verder gedink moet word oor “die Skrifberoep in etiese sake”. ’n Gemeenskaplike Skrifbeskouing lei naamlik nie vanselfsprekend tot ’n gemeenskaplike Skrifuitleg nie. Lidmate van dieselfde kerk het toenemend oor morele kwes­sies totaal verskillende standpunte ingeneem. En dít skynbaar met ’n beroep op dieselfde Bybel.

Die sinode het nie ’n kortpad probeer soek uit hierdie vasgelooptheid nie, maar ’n raamwerk ont­wikkel waarbinne verbeeldingryk en gelowig met etiese probleme omgegaan kon word:

– Lees tekste binne hul breër verband en in die lig van die sentrale boodskap in die Bybel;

– Onderskei tussen algemene en kultuurspesifieke norme in die Skrif;

– Plaas die eietydse vraagstuk in die lig van die algemene motiewe van die Bybelboodskap;

– Maak seker of die Skrif self ’n bepaalde norm as algemeen geldend beskou;

– Hou aan met die onderskeiding al is dit nie eenvoudig nie;

– Bid om die leiding van die Gees.

Hierdie raamwerk veronderstel dat wie God se wil uit die Skrif wil verneem, nie net ’n beroep op die Skrif moet doen nie, maar ’n “verantwoorde be­roep”. Die verstaan van die Bybel moet met ander woorde ten volle rekening hou met wat die hele Bybel wil sê.

Tekste moet verstaan word in die lig van die verband waarin dit staan in die Bybel as geheel. Interpretasie geskied teen die agtergrond van die sentrale boodskap van die verlossing in Christus en die koms van God se koninkryk. Tekste kan dus nie “op die klank af” na willekeur aangehaal word om eie standpunte te ondersteun nie.

Die Reformatore was eintlik reeds goed bewus hier­van. Hulle kon byvoorbeeld onderskei tussen morele, seremoniële en burgerlike wette in die Ou Testament en kon genuanseerd dink oor wat wél en wat nié meer op ons van toepassing is nie.

Ons is byvoorbeeld nie meer verplig om diere te offer of om presiese tiendes te gee nie, maar ons is wel verplig om onsself tot ’n lewende offer aan God te wy en ook na ons vermoë by te dra vir die verkondiging van die evangelie en die instandhouding van die ere­diens.

Daar is ’n verskil tussen God se algemene gebod en die konkrete, tydsgebonde toepassing daarvan. Ons moet hierdie verskil eerbiedig. Die gebooie van die Skrif het blywende betekenis vir die kerk van alle tye.

Maar ons moet kan raaksien wanneer wetgewing byvoorbeeld kultuurspesifiek was. In Bybelse tye het die mense geleef in voor-industriële kulture. Verhoudinge was toe baie anders as wat dit vandag in tegnies-gevorderde kulture is. Hoe meer gekompliseerd die kultuur word waarin die kerk leef, hoe min­der reglynig kan die “Skrifberoep in etiese sake” ook gedoen word.

Daar is baie dinge in ons leefwêreld waaroor die Skrif nie ’n duidelike uitspraak lewer nie. Soms het kwessies in ons tyd vorme en afmetinge aangeneem wat nie binne die visier van die Bybelskrywers geval het nie. Oorlog is ’n goeie voorbeeld. Ook die mo­derne ekonomiese problematiek, die wetenskap, politiek, staat, huwelik en gesin.

Die Skrif was oorspronklik gerig aan mense in ’n ander kulturele situasie as ons. Gehoorsaamheid aan die Skrif beteken nie dat ons vanuit ons eie tyd moet terugkeer na die kultuurfase van die mense in die tyd van die Bybel nie. Dit beteken wel dat ons ons deur die Skrif laat leer wat die wil van God vir die lewe in alle kulturele fases is.

Die Bybel bevat dus nie ’n voorskrif oor elke moontlike saak wat in ons moderne wêreld mag opduik nie. Die Bybel bied wel leidende motiewe, algemene gesigspunte, teologiese koördinate, vaste bakens in die see waaraan ons onsself kan oriënteer.

Onder hierdie algemene riglyne is daar die dubbelgebod van die liefde en die Tien Gebooie met die verdieping daarvan in die Bergrede. Daar is die normatiewe gesigspunte wat gegee is met die skepping, en daar is die lig wat val vanuit die herskepping in Christus, met die eis van selfverloëning en kruisdra. Daar is die apostoliese vermaninge en die beskrywing van die vrug van die Gees. So kan ’n mens voortgaan.

Die totale boodskap van die Skrif het ’n sedelike kant met normatiewe betekenis. Al vind ons nie voorskrifte oor elke moontlike moderne saak nie, word ons tog wel op ’n ryke wyse ingelig oor die wil van God vir ons hele lewe.

Ons moet ook in die geloofsgemeenskap onderskeidend luister na die insette van kundiges en wetenskaplik-geskooldes uit verskillende dissiplines, sodat dit presies duidelik kan wees waaroor ’n vraagstelling gaan.

Hoe ingewikkeld ons probleme ook al is – wanneer ons, soos die Sinode van 2011 oortuig was, in gesprek met mekaar daaroor bly en bid dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling om die dinge te onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10), sal ons in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek.