Laat die kindertjies kom

“Ons het nie gesorg vir die kindertjies nie; ons het hulle in die steek gelaat. Ons het hulle verlaat.”

Só skryf Pous Franciskus in ’n onlangse brief oor pedofilie in die kerk. Ons is aandadig wanneer ons geweld teen die kindertjies pleeg, ook wanneer ons onwaarhede kwytraak of swyg oor dit wat gepleeg word – soos wat onlangs in ’n reeks skokonthullings in byvoorbeeld Amerika, Ierland, Chili en Duitsland bekend gemaak is, waarin duisende kinders oor dekades heen deur honderde priesters in die Katolieke Kerk seksueel mishandel is. Die omvang van pedofilie in die kerk is enorm.

Pedofilie behoort in die sterkste moontlike terme deur die kerk verwerp, teëgestaan, en uitgeroei te word. Ons behoort volledig gekant te wees teen alle en enige pedofilie. Daarvoor mag geen teologiese regverdiging gebied word nie. Die Pous se raad te midde van talle regsbevindinge van seksmisbruik deur priesters is dat dit die kerk se plig is om die weg van die waarheid te volg – waarheen dit ons ook al lei.

Onwaarhede – soos onverantwoordelike verbande wat tussen pedofilie en seksuele oriëntasie getref word – vertroebel hierdie weg. Deel van die kerk se soeke na waarheid behels juis om erns met die kindertjies te maak. Dit beteken om na die kindertjies te luister, hulle nie stil te maak nie, hulle te glo.

Die besorgdheid oor die kindertjies sou vir talle teo­loë rigtinggewend wees. So beskryf Friedrich Schleiermacher, in ’n pragtige Kersverhaal wat opgedra word aan sy vriende, ’n ernstige teologiese debat oor Kersete. Midde-in die debat is daar ’n enkele kindjie, Sophie, wat haar min steur aan die grootmense se gesprek. Sy lewe in haar eie verbeeldingswêreld, betower deur Kersfees en vriendskap en musiek.

Daar is Schleiermacher se hartseer begrafnispreek na sy jong seun Nathanael se ontydige dood, waarin hy bid vir vrede, liefde, wysheid. Daar is Martin Luther, vir wie die kindertjies ons meer leer oor die evangelie as jare se teologiese studie. Daar is Luther se hartseer briewe oor sy jong dogter Magdalena se ontydige dood, waarin ook hy bid vir vrede. Daar is Serene Jones, wat worstel met hoe sy ’n ma kan troos wie se kind in haar baarmoeder sterf, en wie se dogter Charis haar teologiese denke help vorm.

En in húlle geselskap nóg teoloë – soos Nicholas Wolterstorff en John de Gruchy – wat met die dood van ’n kind treurboeke skryf. Teoloë soos Russel Botman dra teologiese werke op aan kinders – sy eie kinders maar ook alle kinders van Suid-Afrika; teoloë soos Denise Ackermann skryf teologiese briewe aan kinders; teoloë soos Dietrich Bonhoeffer worstel met die vraag na watter soort teologie ons nou reeds moet beoefen ter wille van die komende generasie.

Die kindertjies is belangrik. Hulle welwese en hulle stemme, wat hulle dink – nie eers eendag wanneer hulle groot is nie, maar nóú reeds – en hoe hulle voel is belangrik vir die kerk se verstaan van die evangelie. Die kindertjies maak saak. Of hulle okei is maak saak. Kindskap maak saak in die kerk.

In ’n pamflet met die titel “Hoe kan ek seker wees?” skryf Willie Jonker dat dit juis in ons kindskap is wat ons diepste troos en versekering lê. Ons kan seker wees van ons verlossing omdat ons kinders van God is. Die Bybel gee ons juis sekerheid oor ons kindskap, skryf Jonker, wat vir ons vasgelê is deur God se Kind, Jesus Christus. Ons is veilig en geborge diep binne in Godsgenade, soos ’n baba in die baarmoeder, omdat Godskind van ons Godskinders maak. Ons kan dit nie verdien nie, al wil ons ook. Ons kan dit alleenlik maar ontvang. Godsgenade is die basis van ons Godskindskap.

Juis daarom is dit die allervreeslikste vergryp wanneer die kerk God se kinders laat twyfel daaroor of hulle God se kinders is, skryf Desmond Tutu. Die geweld waarmee ons ánder kinders uit die kerk probeer hou – en Tutu verwys spesifiek na God se LGBTQI+-kinders – is daarom skreiend en onregverdigbaar. God se genade is vir ál God se kinders. Godsgenade is genoeg vir élke kindjie. Niks en niemand kan ons daarvan vervreem nie – selfs ook nie die dood nie.

Maar hierin lê daar vir ons ook ’n waarskuwing opgesluit. Wanneer die kindertjies na Jesus toe wil kom, is dit die dissipels – diegene wat Jesus kén; ons sou kon sê die kerk – wat die kindertjies wegstuur. Dit is nie Jesus se vyande wat tussenbeide tree nie. Dit is Jesus se eie mense – vriende, volgelinge, vromes – wat die kindertjies probeer wegkeer. Dit is die dissipels. Dit is die kerk. Dit is ons. Dan is dit vir óns wat Jesus teëgaan. Dan is dit óns wat herinner moet word daaraan dat die koninkryk van God vir die kindertjies is.

Laat hulle álmal kom, en mag ons gééneen van hulle óóit verhinder van God se wye, diep genade nie.

Laat die kindertjies kom.

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.