‘Die Speelplek is my beradingskamer’

In ’n klein vervalle huisie in Laingsburg is Willem se Speelplek. Die verval buite is in teenstelling met die vreugde en hoop wat jy binne aantref. Want, sê Willem Janse van Rensburg, hier moet die kinders weet daar is iemand wat omgee en belangstel. Conette le Roux vertel die storie.


Jy vind “Willem se Speelplek” links van die N1 net voor jy Laingsburg agterlaat. ’n Stofstraat wat na bo-op ’n koppie kronkel neem jou na dié byna vervalle tweekamerhuis.

Maar binne hoor jy laggende kleuters. Willem Janse van Rensburg (39) is besig met dié kinders se daaglik­se lessie. Om hulle is speelgoed en boeke. Die kraken­de mure binne word verbloem met kleurvolle karton­kuns en handgemaakte gordyne.

In 2018 het Willem die eerste manlike “SmartStarter” geword wat die deur van sy eie kleuterskool en na­sorgsentrum geopen het. Die diensgroep Diaconia van Wes-Kaapland, in vennootskap met SmartStart, lei sedert 2016 vrywilligers op en verskaf speelgoed, leerdermateriaal en ’n daaglikse program.

Die doel van dié program is om kleuters wat geen toegang tot vroeëkinderontwikkeling het nie, juis ’n kans tot ’n beter toekoms deur opvoeding te gee, sê Nicola Vermeulen wat SmartStarters oplei.

En dít doen Willem se Speelplek. Vir kleuters én ouer kinders. Die vyf kleintjies wat in die oggend na sy speelplek kom, was voorheen net by die huis, sê Willem. “Ek gaan haal hulle sommer self in die oggend by hulle huis op pad hiernatoe. Die ouers bring hulle nie altyd nie.”

“As ons saam met ons kinders TV kyk, is ons nie deel van hulle wêreld nie. Ons moet iets saam met hulle doen,” sê Willem.

Daar was ook ’n groot behoefte aan nasorg. En só stap daar sedert Januarie nou 15 na 20 kinders van die buurt elke middag gretig ná skool na “oom Willem”.

Eiluschka Pietersen (13) vertel sy het voorheen in die middae by haar sussie gebly. Maar, sê Eiluschka, haar sussie het intussen ’n baba gekry en kan nie meer na haar kyk nie.

Hier kry hulle elke middag kos, koeldrank én oom Willem help hulle met hul huiswerk, sê sy.

Terwyl ons in die kamer sit waar geëet word en huis­werk gedoen word, sê Willem: “Dié plek is my beradingskamer waar ek elke dag met die kinders kan werk. Dié kinders moet weet daar is altyd hoop en iemand wat belangstel.”

Willem was self sonder hoop op Oukersaand vier jaar gelede.

“Dinge het skeefgeloop in my lewe. Ek het nie meer ’n blyplek gehad nie en kom toe hier na my ouers toe. Op Oukersaand het ek in die dorp rondgedwaal op soek na ’n kerkdiens. Ek het ’n groot begeerte gehad om my geestelike lewe in plek te kry,” sê Willem.

Op dié aand het net die VGK ’n kerkdiens aangebied en Willem is soontoe. Tot vandag toe is dit steeds sy kerk, sê Willem. Al is sy ouers, Sophia en Martin, lidmate by die NG gemeente.

In daardie stadium het hy nog by ’n bandeplek op die dorp gewerk, maar hy het later bedank omdat sy werk vereis het dat hy op Sondae moet werk en daarom nie kerk toe kon gaan nie.

Ná middagete is dit huiswerktyd!

“Ek het omtrent ’n maand later ’n werk as koster by die VGK gekry. Dit was vir my die antwoord.”

Willem het ’n droom gehad om kinderberading te doen “as gevolg van sy geskiedenis”. Hy vertel trots hy het twee dogters. Maar dat hy ongelukkig in die ver­lede baie foute as ouer gemaak het. Behalwe dat hy nou vakansies kans kry om dinge met sý dogters reg te maak, wil hy ook iets vir ander kinders beteken.

Hy het op televisie van die School of Fire te hore gekom waar hy “deur die pos” kon studeer. Vandag het hy al ’n jaar en ’n half van studie agter die rug. Behalwe Bybelse kennis leer hy ook hoe om ’n dissipel van God te wees en pastorale berading te gee.

Die probleem was egter dat hy nie geweet het hoe hy sy kennis sal kan gebruik nie. Willem verduidelik: “Ek was vreemd in die dorp. Niemand het my geken nie.”

Maar toe moet hy eendag die kerk gaan oopsluit vir ’n aanbieding. Die spreker was Nicola wat meer kom vertel het oor SmartStart. En net daar het hy onmiddellik besef dís wat hy moet doen. So gaan hy met ­kin­ders kan werk.

Willem se fokus lyk só: “My plan is om deel te word van die kinders se wêreld. Ek wou hulle nie van mý wêreld deel maak nie.

“Nou kan ek probleme raaksien terwyl ons huis­werk doen. Ek kan deurlopend met die kinders werk, sonder dat hulle dit eens agterkom.”

Maar, sê Willem, die kinders het hom baie meer geleer as wat hy ooit vir hulle kan leer. “Ek kan nie byvoorbeeld hier sit terwyl hulle dáár sit en verf nie,” sê hy terwyl hy na die tafels en stoele wys.

Willem Janse van Rensburg (links) en ds Mias Nortier by die ingang van Willem se Speelplek.

“Dit is wat ons as ouers verkeerd doen. Ons is by die kind, maar nie betrokke by die kind se leefwêreld nie.

“Ouers sal my gereeld in die pad voorkeer en kla dat hulle met hulle kind sukkel. Dan sê ek dat ek geen probleme met die kind het as hy hier by my is nie. Ek dink regtig dis omdat ek deel word van hulle wêreld en net aan húlle aandag gee. Ek sien ook hoe ontstel dit hulle as ek byvoorbeeld dringende boodskappe op my selfoon lees. Hulle soek jou onverdeelde aandag.”

Wanneer George Barbers sy kleinseun Jaymen September na skool kom aflaai vertel hy: “Ek is dankbaar vir Willem. Jaymen is mal oor die nasorg. Ons het ’n wegneemeteplek op die dorp en daar is hy verveeld. Ons is heeltyd besig en kan nie aandag aan hom gee nie.”

Jesus loves me!

Agter op ’n tafel staan plastiekhouers vol toebroodjies. Sjokoladesmeer. Broodjies met kaas. Grondboontjiebotter. En gekleurde plastiekglase en -bordjies staan reg. Waar kry hy die fondse om sy speelplek te bedryf?

“Die ouers kan nie werklik bekostig om my te betaal nie. Ek het laasmaand slegs R100 van ’n ouer gekry. Net die kos beloop so R3 000 per maand. Dan is dit slegs pap vir die kleintjies in die oggend en broodjies in die middag. Partykeer maak my pa ’n ligte middagete. My ma kan nie hiermee help nie want sy werk by die ouetehuis. Tot onlangs het my ouers die grootste koste gedra. Ek is baie dankbaar, sonder hulle sou ek dit nie kon doen nie,” sê Willem.

Daar is nou bietjie hulp uit die gemeenskap. Engen help byvoorbeeld met sekere produkte wat hulle elke tweede week skenk. Dit word onder hom en vier ander SmartStarters op die dorp verdeel. Dan maak die besighede op die dorp plastiekdoppies en ander herwinbare materiaal vir hulle bymekaar. Deel van SmartStart se filosofie is om speelgoed en opvoedkundige materiaal uit “rommel” te maak, sê Willem.

“Ek kry baie van my idees op Pinterest. Jong, dis gevaarlik. Ek wil gewoonlik net vinnig iets gaan kyk en as ek weer sien is drie ure verby,” lag Willem.

In Augustus het hulle ’n braai vir Willem se Speelplek gehou. Besighede op die dorp het die wors, rolletjies en bakkies geskenk en, sê Willem, hulle het so R2 000 gemaak wat vir kos en skryfbehoeftes gebruik word.

En dan is daar die kraletjieprodukte. “My buurvrou het aanvanklik ’n klomp krale geskenk. Ek wou die kinders sommer besig hou en het hulle armbande laat ryg. Toe ek hulle reaksie daarop sien, het ek besluit ons gaan dit nou gereeld doen. Hulle is mal daaroor.”

Willem neem die oudste kinders elke maand na die gemeenskapskermis om dié kralewerk te verkoop. Hulle leer sommer iets van besigheid omdat hulle self die kleingeld vir kopers moet gee, sê Willem.

Willem het ’n plan gemaak en die gebreekte venster met dié kunswerk-met-’n-boodskap vervang.

As die ouer kinders by Willem se speelplek aansluit, is dit duidelik daar is ’n vasgestelde roetine. Voor mid­dag­ete wag hulle in netjiese rye buite. En vóór hulle een-vir-een mag inkom, moet hulle Willem se spesifieke klappatroon reg naboots én vir hulleself ’n drukkie gee en sê: “Jesus loves me“.

Terwyl die ouer kinders die kosbestellings vat, van watter kombinasie van broodjies elkeen wil hê, deel die kleintjies vir elkeen ’n bordjie en glasie uit. Voor etenstyd kry iemand kans om uit die Bybel voor te lees. En dan kan almal wat wil, bid. “Hulle kan bid net wat hulle wil. Ek judge hulle glad nie,” sê Willem.

Daarna kry twee kinders ’n beurt om die skottelgoed te was voor hulle met huiswerk begin. En die ouer kinders help eers saam met Willem die graad 1’s, voor hulle met hulle eie huiswerk wegspring.

Vryheid en kreatiwiteit, sê Willem, is báie belang­rik. “Hier is reëls, maar dit mag nie hulle kreatiwiteit demp nie. Ek sal byvoorbeeld sê: ‘Hier staan die goed wat ons gaan gebruik om iets te maak. Maak wat julle wil’. Ek sal nie vir hulle sê presies wat hulle moet maak nie, ek wil hulle nie leer namaak nie.”

Willem wys skielik na sy hare en sê: “Ek het gister ’n 12-jarige toegelaat om my hare te sny.” Hy lag. “Haar eie ma het gesê ek is mal om dit toe te laat! Maar Shandré (Phillips) wil ’n haarkapper word en watter beter manier as om haar toe te laat om te probeer hare sny. Die paar happe in my hare is die moeite werd.

“Daar is mense wat dink dat my speelplek nie ’n verskil in Laingsburg gaan maak nie. Dit gaan dalk nie nóú ’n groot verskil maak nie, maar elkeen van dié kinders gaan dalk twee of drie kinders hê en só sal die hoop bly groei …”

‘Willem is ’n pionier in Laingsburg’

“Willem is ’n pionier van hoe ’n gemeenskap moet saamwerk,” sê ds Mias Nortier, predikant van die NG gemeente Laingsburg. Hy preek ook een keer per kwartaal by die VGK. Mias besoek gereeld vir Willem en sy vrou, Yolandi, is deur die gemeente aange­stel om vroeëkinderontwikkeling in Laingsburg te koördineer en pastorale berading aan kinders te gee.

Mias sê: “Willem is vir ons ’n voorbeeld van hoe mense in die gemeenskap ’n verskil kan maak. Hy is ook ’n brug tussen die blankes en kleurlinge,” sê Mias.

Maar, sê Mias, hier is baie uitdagings. “Die ouers kan of wil nie vir Willem betaal nie. Hy is werklik van aalmoese afhanklik. Ons Karoodorpie val ook uitmekaar as gevolg van drank- en dwelmmisbruik. Laingsburg is boonop ’n rampgebied as gevolg van die droogte. Boere word gedwing om alles te ver­koop. My werk as predikant voel soos ’n groot taak. Maar Willem gee die kerk weer hoop dat ’n mens ’n verskil kan maak.”

– Indien jy of jou gemeente belangstel om by te dra tot Willem se Speelplek, of die ander SmartStart-kleuterskole op die dorp, kan jy ds Mias Nortier by mnortier@gmail.com kontak.

Kyk video hier