Kanarie: ‘Ek wens ek kon dit vroeër gesien het’

KANARIE
Genre: Drama

Rolprent, 2018
Resensie deur Julie Claassens en Louis van der Riet


Die fliek Kanarie, met regisseur Christiaan Olwagen en musiek van Charl-Johan Lingenfelder, bied ’n fassinerende blik op die lewe van die Kanaries, ’n kerklike sanggroep in die weermag wat in die tagtigerjare deur die land gereis het. Dit word vertel deur die blik van een Kanarie, Johan Niemand, en sy worsteling om sy seksuele identiteit te aanvaar.

Hierdie fliek wat reeds uitstekend by internasionale filmfeeste ontvang is en bekroon is met die topprys by KykNET se Silwerskermfees, word eersdaags landwyd bekend gestel.

In wat volg, bied ons in gespreksvorm ’n paar perspektiewe. In 1985, die jaar waarin die fliek afspeel, was Julie op pad hoërskool toe. Louis was nog nie eens gebore nie.

Die fliek hanteer temas oor die verweefdheid van godsdiens, Afrikaner-nasionalisme, seksuele identiteit en die poging om individueel en kollektief om te gaan met ons komplekse verhouding met ras, geslag en seksualiteit. Dit spreek tot almal wat vandag steeds probeer ruimte skep vir diegene wat nie in eng boksies inpas nie.

Julie: Daar is soveel om oor te praat in hierdie ryk fliek. As Ou Testament-teoloog was ek aangegryp oor die rol van die Bybel – hoe Johan Niemand sy Bybel wat voos gelees is oral saam met hom dra. Maar ook oor die ambiguiteit van hoe hierdie bron van troos ook die woorde bevat wat hom in sy worsteling met sy seksuele identiteit so diep verwond. Dit was aangrypend hoe Johan sy eie identiteit probeer versoen met die Bybel deur ’n prentjie van sy held Boy George voor in die Bybel te dra wat ʼn belangrike tema in die fliek simboliseer.

Louis: Die fliek se simboliek en verteenwoordiging was ook vir my kragtig. Dit het tonele herroep van my eie jong adolessente dae waar ek ook soekend met ’n oop Bybel gesit het. Baie gelowiges sit steeds so, met ’n oorlog wat binne hul woed. Ek dink wel dat ons vandag meer verstaan, juis omdat daar geluister word na die Johans en Wolfgangs om ons, en binne ons. Ook teoloë verstaan en erken hierdie desperate soeke vandag beter; die onvermoë met taal, die woede en vrees. Ons weet beter. Tog weerhou meeste geestelike leiers en strukture hulself steeds om hulle eie blindheid raak te sien, en mis hulle die geskenk van die Johans oral om ons.

Julie: Ek het ook gedink dat die uitbeelding van die predikante interessant was. Aan die een kant is daar die kapelaan met sy totale aanslag retoriek en sy beskrywing van militêre diens as ʼn voorreg en plig om die land te verdedig teen die rooi gevaar, die swart gevaar en die gevaar van alles wat volksvreemd is. En dan is daar die ander kapelaan wat simpatiek oorkom en Johan Niemand ruimte bied om byvoorbeeld kerkmusiek met kontemporêre musiek van die dag soos van die Culture Club te vermeng. Maar selfs met al sy sorgsaamheid vir Johan in sy diep verwondheid, kan hierdie predikant nie vir Johan gee wat hy werklik soek nie – die toestemming om te wees wie hy is. Sonder vrees en voorbehoud.

Louis: Ek dink hierdie simpatieke kapelaan gee vir ons ’n voorbeeld van waar om te begin wanneer ons nie verstaan nie. Hy is een van vele vensters op weerloosheid in die fliek. Die fliek is outentiek, en nooi ’n mens uit na hierdie waagmoedige plek van deernis deur brutaal eerlik te wees. Die feit dat die fliek afspeel tydens apartheid is ’n verdere herinnering dat ons nie altyd dadelik bewus is van die vrese wat ons teologie in stand hou nie. Dit is ook die kreatiwiteit waarmee die vervaardigers omgegaan het wat dit oordra, en maak dat jy die fliek weer wil sien.

Julie: Die rol van musiek was vir my fassinerend. Daar is ’n wye verskeidenheid van musiek van die tagtigerjare: Depeche Mode, Yazoo, Kate Bush, tot ook die pragtige liedere vanuit die kerkskat soos Bly by my Heer, I lift up my eyes, en die Magaliesberg se aandlied word letterlik die manier hoe Johan oorleef. Hoe hy die teisterende klank van fietsklokkies – van die kinders wat hom geboelie het tydens sy kinderdae op Villiersdorp – uitdoof. Vir my wat ons kerkmusiek diep liefhet, was die verwewing van kerk en kontemporêre musiek besonders, aangesien dit net weer vir my ook gesê het hoe diep hierdie musiek in my eie murg en gebeente sit. En hoe daar in die geloofstradisie wel ruimte en bronne is vir opregte geestelike ervarings wat nie afhanklik is van die verteenwoordigers van die kerk wat soveel skade vir baie jong manne en vroue soos Johan veroorsaak het nie.

Louis: Gay gelowiges sal dit beslis bevestig – hulle hoef nie te wag vir toestemming van die res van die kerk om deur die proses van ontdekking te gaan voor hul God se genade en liefde begin uitleef deur hul verhoudings nie. Dit gebeur reeds. My hoop is dat hierdie fliek vir beide diegene wat binne die spreekwoordelike kas leef, en die kerklike strukture en prosesse wat daai kaste geslote hou, ’n mate van verlossing sal bied. Die fliek oordeel nie juis nie. Maar dit ontbloot waarheid, in liefde. Ek wens ek kon hierdie fliek vroeër in my lewe gesien het.

Julie: Die rol van Johan se suster staan vir my sentraal. Sy verteenwoordig vir my soveel van my LGBTIQ-vriende wat so graag eerlike verhoudings met hulle familie wil hê maar nie kan wees wie hulle is nie en dan moet weggaan. My hoop is dat Kanarie dit doen waarna Johan so gesmag het. Dat iemand, sy predikant of selfs sy held Boy George sal sê hy mag maar wees wie hy is. Dat daar ruimte is vir hom in die gemeenskap en ook die kerk om volkome homself te wees.

– Prof Juliana Claassens is professor in Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch; Louis van der Riet is ʼn PhD-kandidaat in Sistematiese Teologie, ook in Stellenbosch.