‘Bring die doopvont terug in die liturgiese ruimte in’

Dit is droog, en leeg. Die stof lê in ’n dik laag op die bodem van ’n holte, hier waar daar steeds water moet wees.

So staan daar in vele kerke iewers ’n doopvont, leeg en stowwerig. Sommiges pronk spoggerig in die liturgiese ruimte. Ander is iewers in ’n donker stoor­kamer versteek, en word net by geleentheid voor die gemeente ten toon gestel. Elke gemeente het een – van die makrogemeente wat tientalle babas op ’n Saterdag deurwerk soos lammers in ’n drukgang, tot die klein plattelandse gemeente wat gelukkig is as hulle een maal per jaar hierdie misterieuse sakrament kan ervaar – en meeste ervaar ’n waterskaarste. Die doopvont het opgedroog.

Ons het grootgeword in ’n gereformeerde tradisie waar die doop eenmalig as sakrament bedien word, en dan is dit klaar, afgehandel. Ons keer selde terug na die doop, en daarmee word daar nie gepleit vir ’n herdoop nie. Die doop as ’n sakrament wat slegs een maal bedien word, hetsy aan babas of volwassenes, met besprinkeling of onderdompeling, staan vas.

Dit is God wat handel in die doop, en God alleen. ’n Belofte van God waar Hy ons kom troos en verseker dat Hy Homself onlosmaaklik verbind tot ons mense. Maar ons vergeet. Dit het so lank terug gebeur dat die foto’s al dof is en herinneringe vervaag het. En soos die kerke leeg loop, doop ons al minder, en kry ons al minder die kans om iets van hierdie oorvloedige genade te ervaar.

Ons het nodig om die sakrament van die doop by herhaling te vier, doelbewus, aspris, net soos ons doen met die nagmaal. Ons herdenk verjaarsdae en huweliksdatums. Baie moeite word gedoen met die viering van Kersoggend, Goeie Vrydag, Opstandingsondag, Hemelvaart – dit alles was ook eenmalige gebeure, en tog het dit steeds implikasies vir ons daaglikse heil. Waarom die doop afskeep?

’n Begrafnisdiens bied meer troos deur by die doopvont te begin ter herinnering aan ’n lewe vervul in God en sy beloftes. Die ervaring by die gebruik van nagmaal word verdiep wanneer lidmate wat na die tafel genooi word, eers by die doopvont verby beweeg en hulle hande natmaak daarin. Christus het immers gesterf vir elkeen wat deur die doop deel het aan God.

Ons het nodig om die droogte in ons gemeentes en lidmate te verbreek, nou meer as ooit. Hetsy dit die verlies van ’n geliefde is, of kerklike verstoting deur “billike diskriminasie”, of bloot net ’n sielsdroogte – ons almal kan doen met meer troos.

Bring die doopvont terug in die liturgiese ruimte in. Stof dit af. Maak dit tot oorlopens toe vol water.

Ds Marius Combrinck is predikant van die NG gemeente Ventersdorp-Oos.