Elkeen van die 15 kies toe iets uit Dordt

Daar moet goeie rede wees as ’n spesifieke sinodesitting vir eeue lank onthou en her­denk word. Deur jongmense! Hoekom sou jongmense in Amerika ’n sinodesitting in Dor­drecht, Nederland, in 1618 en 1619 wil onthou en hoë waardering vir die Dordtse Leerreëls?

Die invloedryke nuustydskrif Time het in Maart 2009 op die voorblad aangekondig: “10 ideas changing the world right now”. Nommer 6 was “The new Calvinism”. (2009 was ook die 500-jarige herden­king van Johannes Calvyn se geboorte. Toeval?)

In Time se artikel oor “New Calvinism” skryf David van Biema dat, as jy jongmense wil peil, jy na die musiek waarna hulle luister moet kyk: “In the early 1900s you might have heard ‘The old rugged cross’. By the 1980s you could have shared the Jesus-is-my-buddy intimacy of “Shine, Jesus, Shine.” And today, more and more top songs feature a God who is very big, while we are … well, hark the David Crowder Band: “I am full of earth/ You are heaven’s worth/ I am stained with dirt/ Prone to depravity.”

Dié jongmense het grootgeword in ’n samelewing gevul met “… brokenness, divorce, drugs, sexual temptation …” en het moeg geword vir die spook­asem-teologie van die hoofstroomkerke. Dié kerke het baie klem gelê op jou emosies en eie keuses, maar heel weinig op gesonde, gefundeerde Bybelse dogma. Collin Hansen, skrywer van die gesaghebbende boek Young, restless, reformed: A journalist’s journey with the New Calvinists skryf: “They have plenty of friends: What they need is a God.” En Albert Mohler (president van die teologiese seminarie van die groot Southern Baptist Convention) vervolg: “The moment someone begins to define God biblically, that person is drawn to conclusions that are traditionally classified as Calvinist.”

Ook in Nederland word dieselfde tendense ondervind. Op 28 April 2014 het ’n regeringsorga­nisasie, die Sociaal en Cultureel Planbureau, bevind dat ’n groei­ende getal jongmense dikwels “baie behoudende opvattings” oor die geloof daarop nahou. Hulle bevind dat kerke wel kleiner, maar meer ortodoks word.

En in die NG Kerk? Hier is ’n plaaslike brokkie: In Upington-moedergemeente het ds Louwtjie Louw die gebruik om die kinders wat belydenis van geloof aflê, ’n gedeelte uit een van die Formuliere van enigheid te laat voordra. Elkeen van die groep van 15 wat verlede jaar belydenis afgelê het, kies toe ’n gedeelte uit die Dordtse Leerreëls! Hy moes hulle forseer om ook uit die Kategismus gedeeltes te kies.

Wat moet ons daarvan maak? En by name met die hernieude belangstelling in die Dordtse Leerreëls?

Dit behoort nie vir ons vreemd te wees nie. Vyf­tig jaar gelede skryf prof WD Jonker ’n artikel vir Die Kerkbode vir die 350-jarige herdenking van Dordt. Hy noem dit: “Belydenis van Gods Genade”. Dié titel is inderwaarheid die hermeneutiese sleutel om die Leerreëls mee te lees.

Wie nie raaksien dat Dordt telkens die klem op God se soewereine genade – uit vrye guns alleen – lê nie, verstaan Dordt nie. Nogeens prof Jonker: “Die Dordtse Leerreëls praat in diep eerbied en met pastorale bewoënheid oor die uitverkiesing … die troos van die uitverkiesing word op die voorgrond gestel, asook die godsvrug wat nodig is om op die regte manier daaroor te praat.