Gemeenskap van hoop

Andreas van Rooyen van Boshof skryf:

In dié distrik staan ’n mens verbaas oor hoe die gemeenskap saamstaan.

Boshof is ’n distrik wat deur moeilike tye is. Die vorige seisoen het meer as ’n 100 000 hektaar landbougrond afgebrand. Voor dit was daar vier jaar droogte. In so ’n gemeenskap verwag ’n mens dat elkeen net op hom- of haarself sal fokus, want hoe anders oorleef ’n mens? Dit het goed gereën in die laaste deel van die reënseisoen, ’n seën, maar dit was nie sonder uitda­gings nie.

Die winter was koud en droog, die gras lank en ruig. Goed vir die diere, maar ’n konstante brandge­vaar. In September was daar meer as 12 brande in verskillende dele van die distrik – van hulle op dieselfde plekke as waar dit die vorige seisoen afgebrand het. Tog is die skade dié seisoen baie minder. Nie omdat die vure nie so erg is nie, maar omdat mense al hoe meer saamstaan.

As daar ’n boodskap deurkom dat dit op Oom Ben se plaas brand, al is dit 22:00 in die aand, kom daar binne minute boodskappe deur wat eenvoudig lui: “Ek laai die brandspuit dan kom ek”; “Ek is op pad”; of: “Ons kom.”

Binne minute is dit nie een man in ’n bakkie wat sukkel om met ’n brandspuit die vuur dood te spuit nie, maar ’n vlaag bakkies wat almal op die vuur af­storm en dit gou doodmaak. Ná die vuur dood is en die boodskap op WhatsApp vertel dat alles onder beheer is, ry elkeen terug na sy eie huis, en gaan aan met die dag.

Elkeen help met die wete dat wanneer die nood kom, ander sal kom om hulle te help, sonder oordeel, sonder vrae. Mense wat sukkel en nie veel het nie, wat te midde van die hoë kostes uitry om ander in nood te help.

Daarin lê die hoop, mense wat mekaar help soos hulle graag gehelp sal wil word. Al gaan dit moeilik bly ons saamstaan. Hierdie gemeenskap gee my hoop vir ons land. Ons almal kry swaar, maar ons almal doen wat ons kan om mekaar te help.