Huiwering en vreugde in die teenwoordigheid van God

In hierdie rubriek is ’n tema al ’n hele paar keer aan die orde gestel. Dit is die paradoksale samehang tussen die kenbaarheid en onkenbaarheid van God. In die teologie vind dit uitdrukking in twee uit­een­lopende benaderings, die sogenaamde apofatiese wat fokus op die onkenbaarheid, en die sogenaamde kata­fatiese wat fokus op die kenbaarheid van God. In die Christelike kunstradisie word dié problematiek weer­spieël in die verskil tussen ’n meer realistiese en ’n meer abstrakte benadering.

’n Bybelgedeelte waarin hierdie spanning tussen kenbaarheid en onkenbaarheid op ’n baie besonderse manier uitgebeeld word, is die verhaal van Moses se kennismaking met God in die brandende doringbos (Eks 3 en 4).

Die verhaal begin met die vreemdheid van ’n do­ringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Moses word onmiddellik deur hierdie verskynsel aangetrek en wil nadergaan om dit te probeer verstaan. Hy word egter deur God verhinder om té naby te kom en aangesê om sy skoene uit te trek omdat hy hom op heilige grond bevind. Op ’n wyse wat herinner aan die apofatiese benadering in die teologie, maak Moses dan sy gesig toe, “want hy was bang om na God te kyk” (Eks 3:6). Moses se poging om die misterie te deurgrond, lei aan die een kant dus tot toenadering en ’n mate van begrip, maar aan die ander kant tot huiwering en verwondering.

In die daaropvolgende gesprek maak God Homself op verskeie maniere aan Moses bekend: as die God van die voorvaders, “die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob” (3:6); die God wat die swaarkry en lyding van mense ter harte neem (3:7) en wat ingryp om hulle van verdrukking te bevry (3:8-19), en die God wat mense stuur om in sy Naam op te tree (3:10).

Wanneer Moses egter verder gaan en vra na die Naam van God, kry hy die enigmatiese antwoord van God wat sê: “Ek is wat Ek is.” En dit is wat Moses vir die Israeliete moet sê: “‘Ek is’ het my na julle toe ge­stuur” (3:14). Weereens die noue samehang tussen bekendmaking (“Ek is die God van jou voorvaders …”) en verberging (“Ek is wat Ek is …”).

’n Kunswerk waarin hierdie tweekantigheid van die gebeure op uitnemende wyse uitgedruk word, is die skildery Moses en die brandende bos wat in 1985 deur die Amerikaanse kunstenaar Keith Haring (1958-1990) geskilder is – minder as vyf jaar voor sy vroeë dood op 31-jarige ouderdom aan ’n MIV/vigsverwante siekte.

Soos in die meeste van sy werke maak Haring ook hier gebruik van komplekse oppervlakpatrone en verrassende kleurkontraste waardeur dit wat uitgebeeld word, tegelyk gepresenteer én verberg word. By die eerste oogopslag lyk die werk na ’n willekeurige same­spel van rooi en pers kleurvlakke, blou, geel en swart kronkelende lyne, en ’n magdom geel spikkels. By nadere aanskoue word daar egter ’n menslike figuur aan die linkerkant van die skildery en ’n brandende bos aan die regterkant onderskei.

Die menslike figuur, wat ’n voorstelling van Moses is, staan met ’n kombinasie van huiwering en gefassi­neerdheid: sy voete is effens uitmekaar asof hy gereed staan om enige oomblik weg te vlug, terwyl sy nek en sy kop ver na vore uitgestrek is en met ’n nuuskierige blik die misterie van die brandende bos betrag. Terwyl sy een arm na agter gestrek is, waag hy dit om met sy ander hand uit te reik en die vreemde verskynsel aan te raak.

Die brandende bos beslaan die grootste deel van die skildery en die rooi en die geel van die vlamme word ook gereflekteer in die rooi en geel van Moses se liggaam – om daarmee aan te dui dat die uiterlike misterie van die ontmoeting met God ook lei tot ’n erva­ring van innerlike transformasie by die mens wat in hierdie ontmoeting betrek word. Die afstand tussen God en mens word enersyds gehandhaaf, terwyl ’n geheimenisvolle verbintenis andersyds tot stand gebring word.

Met die lewenskragtige beweeglikheid van sy tipies graffiti-agtige styl gee Haring in die meeste van sy kuns­werke uitdrukking aan ’n uitbundige lewensvreugde. Ook in hierdie skil­de­ry is dit die geval: Nie net die vlamme van die brandende bos lyk of dit op ’n speelse wyse rondbeweeg nie, maar ook Moses lyk asof hy op die punt staan om saam te begin dans.

Op ’n treffende manier word die ontmoeting met God wat tegelyk transen­dent én immanent, onkenbaar én kenbaar is, voorgestel. En daarmee saam ook die huiwering én die vreug­de wat deur hierdie ontmoeting te­weeg gebring word. Soos Sheila Cussons in een van haar gedigte sê: “Hoe sal ek U ooit ken?/ U is te naby, U is te ver,/U klewe aan my kyker vas,/wykende, wyderende ster … dan snap ek die genade –/ suiwerder as weet, duideliker as pyn –/ van wyk dat ek moet nader,/ altyd verder nader … / O, verborge Wonder,/ Magneet, wat ek sal ken!” (Plektrum, 1970).

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.