Nie ‘ten spyte van’ nie, maar ‘as gevolg van’

Die NG Kerk se Ring van Hopetown het dr Fanie Cronjé, Ou-Testamentikus en predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria, genooi om met hulle te kom gesels. Die tema wat hulle vir hom gegee het, was: “Armoede, politieke chaos, gebrek aan leiers: KOS VIR DIE KERK!” DJ MULLER, predikant van Prieska, berig.


Die Ring van Hopetown het op 9 en 10 September te Hopetown vergader – dié ring se 70ste vergadering. Die vyf gemeentes van die ring is Britstown, Hopetown, Orania, Prieska en Strydenburg. Dit is ’n ring wat deur die loop van die jaar gedurig kontak met mekaar het, brûe bou en na mekaar toe uitreik.

Behalwe vir die tipiese verslae wat ’n mens normaalweg met ringsittings assosieer, sluit die ring se sakelys jaarliks ook verslae van die ringsgemeentes in. Hierdie verslae word opgestel deur die konsulent, in samewer­king met die betrokke gemeente. Die doel hier­van is nie om statistieke te bekom nie, maar eerder om die gemeente se storie te hoor. Sommige stories is mooi, en ander weer hartseer en kommerwekkend.

Die realiteit in die area waarbinne die ring dien is ongelukkig dat die stories wat gehoor word, meermale die hartseer stories is. Stories wat vertel oor lidmaatge­talle wat tuimel, swak erediensbywoning, angswekken­de finansies, die effek van die droogte en mense wat na binne laer trek.

“As ons nie na Australië kan immigreer nie, immigreer ons na binne,” neem Cronjé waar wanneer hy vroeg Maandagoggend sy teologiese aanbieding begin. Dié aanbieding vind plaas op versoek van die rings­kommissie.

Deur talle geleenthede se saam gesels, droom en vrae vra, het die vermoede by die ringskommissie ont­staan dat daar ’n rede moet wees waarom ongunstige omstandighede juis in die kerk se guns kan tel. Hoe anders het die Joodse, en later Christelike geloof tot vandag toe oorleef? Hierdie vraag word tydens Cronjé se aanbieding ’n paar keer gevra.

Hy neem die ring terug tot by die eerste val van die tempel in 587 vC. Israel is ’n streek wat in terme van oppervlak, nie groter as die Krugerwildtuin is nie. Israel is nie ’n “empire” nie. Dit is ’n klein, weerlose staat in die aangesig van byvoorbeeld die Assiriërs en Babiloniërs.

Met die val van Jerusalem, breek ’n donker en hartseer tyd vir die Jode aan. “Ons moet onthou dat die inneem van ’n streek nie net ’n nuwe koning bring nie, maar ook ’n nuwe god,” sê Cronjé.

Dr Fanie Cronjé aan die woord voor die Ring van Hopetown. Foto: DJ Muller

Tog oorleef die God van die mense van Israel in die tyd na 587 vC.

Dan neem Cronjé die ring na 66 nC, toe die Joods-Romeinse oorlog begin het. Weereens word die fondamente van God se mense ten diepste geskud. Weer eens word die gelowiges se God nie ingeneem en oorgeneem deur ’n ander god nie.

“God is almal se God en Hy het almal lief,” sê Cronjé. Juis as gevolg van hierdie universele liefde, “oorleef” God, sy mense en hul geloof in Hom. Dit is juis die feit dat God se kinders in daardie tyd anders gekyk het na ongunstige omstandighede, dat hulle én hul geloof dit oorleef het.

Cronjé vertel van gelowiges wat in Antiochië gaan woon het, na die verwoesting van die tempel. Met die uitbreek van ’n epidemie, gee baie van die Grieke onder andere pad, en laat hul eie siek mense agterweë. Die gelowiges het dan hierdie siekes begin vertroos en versorg en op dié wyse honderde mense se lewe gered.

Wanneer die familie van die agtergeblewenes jare later terugkom in Antiochië, vind hulle dat hul gelief­des die epidemie teen alle verwagting, oorleef het. Hoe is so iets moontlik? Dit is alleenlik deur liefde, opoffe­ring en deernis van God se mense.

Jesus maan sy volgelinge dat hulle ’n offisier se bagasie twee stadia sal dra, al word daar net van hulle verwag om dit een stadium ver te dra.

Dit is baie duidelik dat God se mense deur die loop van die geskiedenis talle kere in ongunstige omstandighede was. Omstandighede wat ook hartseer en kommerwekkende stories tot gevolg sou kon hê. Maar dit het nie! Dit het juis ’n storie van volharding en oorwinning geword.

’n Storie wat vertel hoe God se mense uitstyg bo sogenaamde ongunstige omstandighede. ’n Storie van mense wat uit die stof uit opstaan en ander begin dien, die ekstra myl loop en hoop verkondig.

“Hoe is dit moontlik dat die Christelike geloof dit kon oorleef tot vandag toe?” vra Cronjé weer aan die einde van sy aanbieding. Sy antwoord: Deur ’n kopskuif te maak.

Deur die keuse te maak om te sê dat ek tussen die bourommel van die tempel gaan rondkrap totdat ek verstaan hoe die Here van die kerk ongunstige omstandighede in sy en die kerk se guns kan gebruik. ’n Kopskuif wat vra dat ek erken: Die oorlewing van die Christelike geloof het nie ten spyte van ongunstige omstandighede oorleef nie, maar as gevolg daarvan.