‘Die Skrif is aan die muur’

Chris Smith van Westonaria skryf:

“Die Skrif is aan die muur” is ’n volksuitdrukking wat beteken dat ’n bepaalde saak klaar veroordeel is. “Geweeg en te lig bevind” is weer ʼn uitdrukking na aanleiding van Daniël.

Ek hoor dikwels van persone wat vir selfdegeslagverhoudings (SGV) is, dat ek wetties is, genadeloos en sonder liefde. Ek hoop werklik nie so nie, want dan leef Jesus nie meer in en deur my nie. Is dit net onbillike kritiek of tyd vir selfondersoek? Ek probeer kyk na die “groot riglyne en temas”.

Paulus staan bekend as die “Apostel van Genade”. Kyk na die Galasiërbrief – geen redding deur onderhouding van die wet nie. Die Efesiërbrief se bekende “uit genade gered, deur geloof”. Ook al die ander briewe bevestig hierdie reputasie sterk.

Ek sien ook Paulus se hart vir sy naaste: “Die liefde van Jesus dring my …” En sy liefde vir sy eie mense: “Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Geen twyfel oor sy liefde nie!

Tog is dit dieselfde Paulus wie se briewe gekenmerk word deurdat die eerste deel gaan oor die redding deur geloof en genade en dan die tweede deel gaan oor riglyne vir die lewe. Hoe moet gemeentes as verlostes leef! Dan skryf hy duidelik aan die gemeentes om losbandigheid te los, onder andere ook selfdegeslagverhoudings. Het hy nou skielik wetties geraak? Liefdeloos geraak? Ek dink nie so nie. Hy wil dat geloof oorgaan in gehoorsaamheid.

Johannes staan bekend as die “Apostel van liefde”. Hy skryf oor homself as “die apostel wat die Here liefgehad het”. Hy skryf die bekende gedeeltes oor die nuwe gebod om mekaar lief te hê. Maar dan lees ek ook in 1 Johannes 4:23:“En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom.” Johannes is ook duidelik. Jy kan as kind van God nie aanhou sondig nie.

Dit is vir my hartseer dat teoloë soek na nuwe ander maniere om selfdegeslagverhoudinge aanvaarbaar te maak binne die Skrif. Daar word letterlik gesê: ons moet nuwe maniere kry om na die Skrif te kyk, sodat selfdegeslagverhoudinge aanvaarbaar kan word.

Ek sien ook ’n soeke om die Woord aan te pas by die sielkunde. Sielkunde is ’n goeie wetenskap om menslike gedrag te beskryf en te help verstaan, maar dit kan tog nie die Bybel as etiese enorm vervang nie. Die rede daarvoor is dat sielkunde die samelewing en kultuur van die dag dien en dit as norm gebruik (kyk gerus hul definiëring van oriëntasie). As gelowiges is ons tog geroep om anders as die wêreld te wees. Ek vra myself af: Buig ons voor die Skrif of probeer ons die Skrif buig? Waar is die gesag?

My vraag: Is die Skrif aan die muur vir die Skrif? Wees eerlik! Is die Bybel alreeds geweeg en te lig bevind as etiese riglyn vir die kerk van vandag?