Dankie tog vir die olifant

“Daar is ’n olifant in die kamer van die NGK” lees ek onlangs – “en dit is Skrifgesag”.

Dit is die olifant wat tot die kerk se ondergang gaan lei, word verder beweer. Hierdie stelling word met ­goeie rede gemaak. Die verskillende standpunte oor apart­heid in die sestigerjare, die stryd oor die Belhar­bely­denis en die jongste verskillende interpretasies van die Bybel oor selfdegeslagverbintenisse bevestig die feit dat die verstaan en uitleg van die Bybel opnuut in die spervuur is.

Tog is dit niks nuuts nie. In die meer as 350 jaar van die NGK se geskiedenis was daar nog altyd omstredenheid oor hoe ons die Bybel moet verstaan. Terwyl sommige lidmate die Bybel byna meganies as die Woord van God wil verstaan, word dit deur ander be­vraagteken.

Hierdie twee groepe hou verband met twee teologiese strome wat histories deel van die NGK is. Willem Nicol beskryf dit in sy boek Godsdiens wat werk as ’n meer piëtistiese hantering en verstaan van die Bybel. Dit staan teenoor ’n meer liberale interpretasie waarin die Bybel sterk histories-krities gelees word.

Hoewel die Loedolff-saak van 1862 van die eerste ernstige aanduidings van hierdie verdeeldheid was, is die verskil in die dertigerjare van die vorige eeu op die spits gedryf in die saak teen prof Johannes du Plessis van Stellenbosch.

Nadat die Ring van Stellenbosch Du Plessis in Maart 1930 geskors het, het hy hom na die Kaapse Hooggeregshof gewend om teen sy skorsing te appelleer. Op 15 Januarie 1932 is uitspraak in sy guns gele­wer. In November 1932 is hy egter deur die Kaapse Sinode van sy pos onthef.

De Kerkbode het “met beklemmende besorgdheid de droewige verdeeldheid die er in de kerk ontstaan, gadegeslaan.”

Hierdie verdeeldheid oor die verstaan van die Bybel het nie verdwyn nie. Dit was dalk deur die wolk van Afrikaner-nasionalisme minder sigbaar – maar dit was en is steeds deel van die NGK. Die vraag is of dit regtig die olifant in die kamer is wat die einde van die NGK gaan beteken? Dit kan dalk wees.

Aan die ander kant kan die olifant ook ’n teken wees van die erns wat die NGK deur sy geskiedenis met die Bybel gemaak het. Dat daar in die verlede foute gemaak is en vandag steeds gemaak word met die verstaan van die Bybel, kan nie ontken word nie. Dit beklemtoon egter die feit dat die beginsel van sola scriptura deel van die DNS van die NGK is.

Miskien kan ons dan eerder dankbaar wees dat die olifant nog in die kamer is!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.