Ek word wat ek liefhet

Dis byna Adventstyd en mense begin die dae aftel na Kersfees. En daar is twee goed wat mense graag hierdie tyd van die jaar doen – dit is kerk toe gaan en inkopies doen. CAS WEPENER kyk na die liturgie van die mall.


Dienste soos Adventsangdienste en Kers­dienste is baie gewild, en dit is ook ’n tyd wanneer almal graag gaan inkopies doen. In die kerk, soos met die vier Adventsondae en op Kersdag, neem ons aan die kerk se erediens of liturgie deel. Tog is daar heelwat ander liturgieë waaraan ons ook in hierdie tyd van die jaar deelneem, liturgieë wat die filosoof Jamie Smith kulturele liturgieë noem. Een voorbeeld is om ’n winkelsentrum (mall) te besoek om inkopies te doen. Smith skryf insig­gewend hieroor en Kerstyd is ’n goeie tyd om saam met hom hieroor na te dink.

Ons beleef die kerklike seisoen van Advent en Kersfees nie net in die kerk nie, maar by uitstek ook in winkelsentrums. Die winkelsentrums is tans getooi in die toepaslike kleure (veral rooi en groen) en simbole (sterre, kersvaders, wyses, geskenke) van Kerstyd; die musiek in die gange is Jingle Bells en Stille Nag en Little Drummer Boy; die aanbod vir ons tafels is vrugtekoeke en varkboude en dis alles net lekker.

In enige winkelsentrum kan jy op die oomblik Kersfees hoor, sien, ruik en proe. Dit is duidelik, die meeste winkelsentrums het ’n eredienskommissie wat hulle liturgieë haarfyn beplan en uitvoer volgens die kerklike seisoene (oor ’n paar maande is dit Paasfees en dan ruik ons Paasbolletjies, koop ons lamsboude en hoor ons Paasmusiek).

Niks wat winkelsentrums in die Kerstyd doen – wat ons binne-in die sentrum sien, hoor, ruik, proe – is toevallig nie. Inteendeel, hulle doen wat kerklike liturgieë deur alle eeue probeer doen het. En wat is dit? Dit is om in die eerste plek vir mense se hart te mik, eerder as hulle kop. Hulle kyk op ’n baie spesifieke manier na mense.

Wanneer die winkelsentrum se bestuur na hulle klante kyk, dan sien hulle nie ’n klomp breins of koppe wat eerstens dink en net verstaan en op grond van diepe nadenke oor alles besluit of hulle iets gaan koop of nie, o nee. Veel eerder sien hulle mense as harte – mense het lief, hou van en begeer. En mense se hart word deur middel van al hulle sintuie bereik.

Natuurlik het mense ook verstand, maar ten diep­ste verstaan die liturgie, en by uitstek en in ons eie dag die liturgie van die winkelsentrum, die mens is en doen wat hy of sy begeer – ons is en doen wat ons liefhet. Liturgieë skep begeerte deur ons in ons volle liggaamlikheid aan te spreek, om deur jou sintuie by jou hart uit te kom.

Die winkelsentrums weet dat wanneer jy met mense werk, moet jy nie net werk met hoor en verstaan nie. Hulle weet dat ’n liturgie wat eintlik net uit ’n uurlange preek bestaan, nie in ons eie dag die beste roete is om by iemand se hart uit te kom nie.

Al die liturgieë waaraan ons deelneem, by die kerk en by die winkelsentrum, is ook voortdurend besig om ons te kalibreer, want ons praktyke werk vormend op ons in.

So kan ’n mens met ’n hart wat liefhet, vergelyk word met ’n kompas met ’n naald. Elke liturgie (in die kerk, in die mall, by Loftus, in die klaskamer, om die etenstafel) waaraan iemand deelneem, trek sy of haar hart in ’n sekere rigting, net soos wat ’n magnetiese noord ’n kompasnaald trek.

In alle sfere van die lewe geld hierdie insig, naamlik dat mense se mees basiese oriëntasie tot die wêreld dié van liefde is. Ook dat mense in die rigting van daardie liefde leef. Om lief te hê is ’n gewoonte en gewoontes word deur praktyke gevestig en ingeoefen. So hoe meer sekere praktyke gedoen word, soos kerk toe gaan, inkopies doen, lees, saam kook en eet (vinnig funksioneel of stadig en met aandag), hoe meer leef iemand ook in daardie rigting.

Die liturgie van die mall is baie spesifiek daarop ingestel om jou kompasnaald na jouself te laat draai en jou eie begeerte te rig wat jy deur inkopies bevredig. Dis lekker en ons almal moet ons Kersinkopies doen.

Die liturgie van die kerk spreek weer ons sintuie aan sodat my kompasnaald gereeld weer weg sal draai vanaf myself na God, na die mense rondom my, na die aarde. So kalibreer die kerk se liturgieë my tot ’n begeerte vir God se koninkryk en word ek wat ek liefhet.

Desiring the Kingdom, Imagining the Kingdom en You are what you love van JKA Smith handel oor ­hierdie onderwerp en word sterk aanbeveel.

Prof Cas Wepener is hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.