Etiese leierskap

As daar al ooit ’n tyd was vir ’n toegespitste fokus op etiese leierskap, dan is dit nou. Laat ek dadelik sê, ek is nie ’n kenner van die teorie van etiese leierskap nie. Ek het nie baie boeke daaroor gelees nie en ook nie baie lesings daaroor bygewoon nie. Ek voel net intuïtief aan dat ons nou ons eie kerklike praktyke moet deurskou en seker maak dat die gewoontes van die kerk aan die hoogste etiese stan­daarde voldoen.

Ek het dit dus nié hier oor die regeringslui se moraliteit nie. Dit gaan nie hier oor Cyril Ramphosa wat vir Bathabile Dlamini en Malusi Gigaba in sy kabinet aanhou en Ace Magashule wat ’n Pierneef vir een van die werknemers gegee het nie. Ek het dit oor die moraliteit van mense soos ekself en lede van diensrade en moderamens en leraars en kerkraadslede reg deur die kerk.

In die afgelope tyd is die NG Kerk deur baie beskuldig van onetiese leierskap. In Jean Oosthuizen se boek oor die NG Kerk maak hy sterk afwysende opmer­kings oor ons etiek. Ook Chris Jones het onlangs in die Afrikaanse pers omvattende bewerings gemaak oor die etiek van NG leiers. Uit die geledere van die 12 persone wat die NG Kerk hof toe geneem het oor die selfdegeslag-kwessie het daar kritiek gekom oor die moraliteit van ons werkswyses die afgelope drie jaar. Een van ons dosente het by die Woordfees op Stellenbosch beweer dat die kerk geen moraliteit oor het nie. Sy het haar uitspraak veral vanuit ’n menswaardigheidshoek gemaak. Agterdog oor ons etiek is al op bykans elke forum geopper. Dit is ook vir my sleg om te rapporteer dat daar van ons susterskerke uitgesproke is daaroor dat hulle ons nie vertrou nie.

Nou is my aanvoeling dat etiese leiers nie mag weghardloop van kritiek nie, ook nie hulle kritici probeer diskrediteer nie, nie uit ’n posisie van morele hoë grond die onderhawige kwessies alleen probeer beoordeel nie, dus nie speler en skeidsregter probeer wees nie, maar erns maak met kritiek en wantroue. Maar die antwoord lê waarskynlik nie net daarin dat elkeen wat vrae het se vrae beantwoord word nie. Die kerk sal op ’n positiewe manier die wantroue in hom moet aanpak. Dan is die vraag: Wat maak dat mense of ’n groep of ’n kerk vertrouenswaardig is? Die antwoord lê myns insiens in sterk etiese leierskap.

Etiese leiers is immers mense wat ruimtes skep waarbinne mense veilig voel om kritiek te lewer en vrae te vra en aan te dring op antwoorde wat sin maak. Die FBI-direkteur, James Comey, wat deur Donald Trump in die pad gesteek is, skryf in sy boek, A higher loyalty: “Ethical leadership is about … building workplaces where standards are high and fear is low. Those are the kind of cultures where people will feel comfortable speaking the truth to others as they seek excellence in themselves and the people around them.”

Etiese leiers plaas ook ’n eindelose premie op openheid en deursigtigheid. Hulle doen verslag oor alles wat hulle doen. Hulle steek niks weg nie. Hulle nooi mense in in hulle gesprekke. Hulle werk nie agter toe deure met geslote agendas nie. Hulle lei deur deelnemende prosesse in plaas van gewaande gesag. Hulle praat oor mense in hulle teenwoordigheid. ’n Vriend van my wat ’n betroubare kenner is oor etiese leierskap, sê dat bekwaamheid ’n verdere belangrike eienskap is van etiese leiers. Hulle is goed in wat hulle doen en veral goed met die hantering van mense. En dan, sê hy, is etiese leiers mense met integriteit. Daar is konsekwent ’n verband tussen wat hulle sê en wat hulle doen. Jy weet wat om van hulle te verwag. Die laaste eienskap wat my vriend noem, is dié van welwillendheid. Etiese leiers maak ’n positiewe verskil in die gemeenskappe waar hulle werk en hulle teenwoordigheid gee aan mense hoop.

Etiese leiers is myns insiens ook bewus van die verleiding van sekerheid. Wanneer leiers nooit verkeerd is nie, nooit hulle eie oordele bevraagteken nie, nooit van mening kan verander nie, nooit kan toegee dat hulle voortydig ’n beslissing gemaak het nie, is hulle net gevaarlike instandhouers van hulle ego’s. Daarom is leerbaarheid ’n waarde waarop ons ’n hoë premie moet plaas.

Die NG Kerk sal goed doen om homself ’n slag te onderwerp aan ’n kwalitatiewe oudit van sy moraliteit. Dit sal in die eerste plek moet gaan oor sy intermenslike gedrag soos sy praktyke van werwing, uitdiens­stelling, personeelbestuur, vergoeding, benutting van menslike hulpbronne en sake wat sy interne verhou­dings raak. Bestuurspraktyke sal deeglik onder die soeklig geplaas moet word. Besluitnemingsprosesse, mandate van kommissies en die uitsluiting van belang­hebbendes by prosesse sal gedissekteer moet word. Maar dit is veral die heersende waardes wat in elke hoekie van die kerk ondersoek moet word. Hoeveel rassisme is daar, vooroordele teenoor vroue, miskenning van kinders, minagting van die ekologiese krisis waarin ons ons bevind?

Die Hoof van die kerk was gehoorsaam tot in die dood. Sy oortuigings en waardes was gekalibreer op die hartklop van God. Ons sal ons skale weer moet kalibreer. Fyn, met versigtigheid, sodat mense weer gewoond daaraan sal raak dat hulle by ons net die volle waarheid kry.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.