Immanuel sien die skoonheid in die puin

Immanuel van Tonder stap deur die puin van die pastorie waar hy tot drie weke tevore nog gebly het, totdat ’n brand dit binne ’n uur verwoes het.

Hy gaan staan elke nou en dan, kyk na iets, en verwonder hom aan die skoonheid wat uit die verwoes­ting kom: ’n bladsy met bladmusiek waarvan die kante gebrand is; twee blikkies in ’n kombuiskas, ’n patroon wat teen ’n muur ingebrand is.

Baie mense het hulle verwonder aan sy kalm reaksie op so ’n ramp.

Maar Immanuel, predikant van die NG gemeente Lynnwood, en sy vrou Monika beoefen “mindfulness”. ’n Dag voor die brand het hy vir Kerkbode ’n artikel daaroor geskryf. En hy sê dit het hulle gehelp.

Deur hulle beoefening van mindfulness, verduidelik hy, het hulle oor jare waardes ingeoefen wat met die brand ingeskop het. Dit is waardes soos om in die oomblik teenwoordig te wees, om die werklikheid te aanvaar soos dit is, en om te laat gaan.

In een oefening fokus jy ’n halfuur lank op jou asemhaling. Jy volg die asem in, is bewus daarvan dat jy vol asem is, dan volg jy die uitasem, die tot rus kom voor die siklus herhaal. As ’n gedagte by jou opkom wat jou aandag aftrek, raak jy nie gespanne daaroor nie. Jy is met deernis by die gedagte teenwoordig en dan laat jy dit gaan, sodat jy weer op die asemhaling kan fokus.

Mindfulness, sê Immanuel, oefen jou teenwoordigheidspier, jou deernisspier en jou laatgaanspier.

Immanuel sê hy dink toe hulle besef het die huis brand af, het dit hulle die teenwoordigheid van gees laat behou om te doen wat hulle toe moes doen. Hulle kon van die belangrikste dinge red: sy rekenaar en rugsteun, belangrike dokumente, foto-albums.

En toe hulle kyk hoe die huis afbrand, sê Monika: “Wat ’n voorreg is dit om nie verknog te wees aan jou goed nie.” Hulle kon dit laat gaan. Hy kon beleef wat dit is om bevry te wees van sy goed.

Ná so iets gebeur het, word jy oorspoel deur ’n klomp gedagtes. Jy dink aan honderd-en-tien goed wat gedoen moet word. Golf na golf gedagtes tref jou. As hy al daardie gedagtes ernstig opgeneem het, sou dit hom oorweldig het.

Maar hy het geleer om elke gedagte wat kom, met deernis te hanteer, dalk ’n nota te maak, en dit dan te laat gaan.

Onlangs het iemand die beeld gebruik van ’n herfsblaar. Die boom hou op om voedingstowwe na die blaar deur te laat, en dan val die blaar later self af. Dis hoe dit met jou gedagtes werk. As jy hulle nie voed nie, dan gaan hulle self weg.

Op dié manier kon hy na die brand in die hede bly, doen wat op die oomblik gedoen moet word, en hom nie laat oorweldig deur wat alles nog gedoen moet word nie.

Dit help natuurlik dat hy versekering gehad het. En hulle het blyplek. Hulle is versorg.

Agterna beleef hy ’n geweldige “interconnectedness”, sê Immanuel. Hy voel ’n band met God, en ’n band met mense van reg oor die land wat hulle gesin met deernis oorspoel het.

“Jou goed kan brand, maar as die liefde daar is … vlamme kan dit nie vernietig nie,” sê hy.

Hy beleef interne gawes soos vrede, hoop en vreugde. Die vermoë om die skoonheid in die pyn te sien.